Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
'Goeie plan, maar hoe gaan SA daarvoor betaal?'

Die hulppakket ter waarde van R500 miljard wat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdagaand aangekondig het, gaan wél help om die ekonomiese impak van die Covid-19-inperking te versag.

Die groot vraag is egter hoe dit gefinansier gaan word en ook hoe die staat die geld wat hy gaan leen – soos Ramaphosa duidelik gestel het gaan gebeur – gaan terugbetaal.

Armoedeverligting

Prof. Jannie Rossouw, ekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Prof. Jannie Rossouw, waarnemende hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool, sê dis baie belangrik dat Ramaphosa eerstens die gesondheidsbegroting verhoog en tweedens fokus op verligting vir die land se armstes deur die verhoging van staatstoelae en die instelling van ’n nuwe toelaag.

“ ’n Honger mens het niks om te verloor nie,” sê Rossouw, met verwysing na die plundery wat reeds landwyd by koswinkels begin het.

Die verhoging van toelaes vir die volgende ses maande moet verwelkom word, sê Rossouw, hoewel hy sou wou sien dat die ouderdomspensioen eerder met meer verhoog word as die kindertoelaag (sien kassie hierby). Dis omdat baie arm bejaardes hul werklose kinders en ook kleinkinders help onderhou met hul toelae.

Só styg toelae
  • Kindertoelaag: Dis tans R445 per maand en styg in Mei met R300 (tot R745) en van Junie tot Oktober met R500 (tot R945).
  • Alle ander toelae: Styg met R250 per maand vir die volgende ses maande. Dit beteken die ouderdomstoelaag styg van R1 860 tot R2 110 vir mense tot 75 jaar oud en van R1 880 tot R2 130 vir mense ouer as 75 jaar.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, het verlede week gesê Suid-Afrika het hulp van minstens 10% van die bruto binnelandse produk (BBP) nodig, dus minstens R500 miljard, maar verkieslik meer, tot selfs R750 miljard. Suid-Afrika se BBP was in 2019 nagenoeg R5 100 miljard.

Rossouw sê R500 miljard verteenwoordig bes moontlik die absolute maksimum wat die regering kan bekostig.

Waarvandaan kom geld?

Ramaphosa het aangedui dat R130 miljard sal kom van die hertoewysing van geld uit die bestaande begroting. Dis iets wat volgens Rossouw heel maklik gedoen sal kan word – daar is departemente, soos sport, wat op die oomblik kwalik hul geld kan bestee.

Hoeveel van die orige R370 miljard geleen gaan word, is nog nie bekend nie. Ramaphosa het aangedui dat die regering met die Wêreldbank, Internasionale Monetêre Fonds, Afrika-ontwikkelingsbank én die Nuwe Ontwikkelingsbank praat vir lenings met gunstige voorwaardes, maar Rossouw sê dit klink vir hom asof nuwe of hoër belasting ook aangekondig gaan word wanneer Tito Mboweni, minister van finansies, binnekort die Covid-19-verwante noodbegroting ter tafel lê wat Ramaphosa aangekondig het.

Rossouw raam dat die nuwe skuld die begrotingstekort tot baie na aan 20% van die bruto binnelandse produk (BBP) gaan opjaag. In Februarie se begroting is vir 6,8% begroot.

Dit kan skuld as persentasie van die BBP ook tot meer as 90% opjaag, van minder as 70% tans.

Rossouw sê ’n bykomende probleem is dat van die hulpmaatreëls kontantvloeiprobleme vir die staat gaan veroorsaak. Hy verwys na die feit dat maatskappye uitstel kan kry vir die oorbetaling van inkomstebelasting van hul werknemers (PAYE) en dat belasting op toegevoegde waarde vinniger uitbetaal gaan word. Dit sal meebring dat baie van die lenings vroeër eerder as later aangegaan moet word.

Montalto meen vertragings om hulppakkette, soos die geld uit die Werkloosheidsversekeringsfonds, beskikbaar te stel, verminder die doeltreffendheid daarvan om die ekonomie te stimuleer en te keer dat maatskappye ten gronde gaan, met gepaardgaande werkverliese.

Hervorming van ekonomie

Wat die medium- tot lang termyn betref, is dit vir Rossouw positief dat Ramaphosa die strukturele hervorming van die ekonomie beklemtoon het. Hy maan egter dat die ekonomie baie vinnig sal moet groei om die skade van die pandemie en inperking ongedaan te maak.

Donderdag – wanneer Ramaphosa aankondig wanneer en hoe die ekonomie vanaf Mei oopgestel gaan word ná die vyf weke lange inperking – is vir Rossouw uiters belangrik.

Die president het beklemtoon dat die ekonomie nie te vinnig oopgestel kan word nie omdat dit tot ’n styging in Covid-19-gevalle kan lei, wat die ekonomie op die lange duur baie meer gaan kos as die inperking.

    Meer oor:  Ramaphosa  |  Cyril  |  Wêreldbank  |  Resessie  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Staatskuld  |  Imf  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.