Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gordhan kry laaste klap in na Tom Moyane
Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, en Pravin Gordhan, wat toe minister van finansies was. Die foto is in April 2016 geneem. Foto: Elizabeth Sejake

Dis onhoudbaar dat die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) nie verantwoordbaar is aan die minister van finansies nie. Dis ’n situasie wat “dringend” aandag moet kry.

Dié hoogs plofbare voorstel word gedoen in die Davis-komitee se verslag oor belastingadministrasie wat Maandag openbaar gemaak is.

Die komitee sê die huidige stelsel – waar die kommissaris van die SAID deur die president van die land aangestel word, sonder enige konsultasieproses – bevorder nie vertroue in die SAID nie.

Daar berus op die oomblik geen plig op die kommissaris om met die minister van finansies saam te werk nie – dít terwyl die minister van finansies grondwetlik verantwoordelik is vir die voorbereiding en voorleggings van die land se begroting.

“Dis die minister wat verantwoordelikheid moet aanvaar vir die prestasie van die regering in omstandighede waarin hy dalk magteloos is om ’n ooglopende probleem van belastinginvordering of -integriteit op te los.

“ ’n Stelsel waar die kommissaris buite die beperkings van die minister en, inderdaad, die kabinet bedrywig is en slegs aan die president verantwoordbaar is, is nie bevorderlik vir ’n reaktiewe en verantwoordbare SAID nie.”

Die aanbevelings volg op ’n versoek van Pravin Gordhan, toe nog minister van finansies, in Julie 2016 dat die Davis-komitee die beheerstrukture van die SAID ondersoek.

’n Stelsel waar die kommissaris... slegs aan die president verantwoord-baar is, is nie bevorderlik vir ’n reaktiewe en verantwoord-bare SAID nie.
Davis-komitee

Dis welbekend dat Gordhan koppe gestamp het met Tom Moyane, die kommissaris.

’n Wolk hang oor Moyane, onder meer omdat hy die KPMG-ondersoek gelas het na die spesiale ondersoekeenheid by die SAID.

Dié eenheid, wat in 2007 deur Gordhan op die been gebring is terwyl hy die SAID-kommissaris was, van 2006-’09, het welvarende Suid-Afrikaners met politieke bande probeer ondersoek, onder wie die Guptas.

Die KPMG-verslag het die eenheid, en Gordhan saam met hulle, verdag gemaak. Die bevindings is intussen teruggetrek nadat die ouditfirma se noue bande met die Guptas aan die lig gekom het.

Gordhan moes keer op keer bontstaan omdat Moyane die Valke by die ondersoek betrek het en dié Gordhan met inhegtenisneming gedreig het.

Moyane word ook daarvan verdink dat hy pres. Jacob Zuma gehelp het om sy belastingsake reg te dokter nadat hy jare lank nie al sy inkomste verklaar het nie, volgens Jacques Pauw se boek The President’s Keepers.

Daar is tans sprake van ’n “belastingrevolusie” onder Suid-Afrikaners, wat vuisvoos is van berigte oor korrupsie en bedrog wat met hul belastinggeld gepleeg word.

Zuma het onlangs ’n regterlike ondersoek na die SAID gelas om te bepaal of belasting doeltreffend ingesamel word. Ontleders is egter skepties of dit die kern van die probleem – grootliks Moyane – sal oplos.

Die Davis-komitee sê totdat die Wet op die SAID in 2002 gewysig is, is die kommissaris wel deur die minister van finansies aangestel.

Die komitee sê al sy voorstelle is daarop gemik om “verantwoordbaarheid en deursigtigheid te bevorder wat, op sy beurt, ’n beheerstruktuur sal verseker wat die kernmandaat van die SAID bevorder”.

Daar is geen rede waarom die kommissaris van die SAID nie op dieselfde manier aangestel kan word as die openbare beskermer (OB) nie, sê die komitee.

In die geval van die OB benoem ’n parlementêre komitee verskeie mense vir die pos en voer onderhoude met hulle, waarna die president iemand uit die aanbevole kandidate verkies. Alle politieke partye is dus by die proses betrokke.

Dit sal “aansienlik meer vertroue” in die aanstelling van die kommissaris daarstel indien ’n soortgelyke proses gevolg word, sê die Davis-komitee.

Die komitee beklemtoon dat die kommissaris “uiters breë magte het” om belasting in te vorder en voldoening aan belastingwette te verseker.

’n Alternatiewe voorstel is dat die minister van finansies die kommissaris aanstel.

Die Davis-komitee sê ’n bykomende laag van verantwoordbaarheid kan ingestel word deur ’n adviserende raad aan te stel wat die bedrywighede van die SAID sal oorsien.

Dit sal help verseker dat die SAID belasting “billik en doeltreffend” invorder.

Die raad moet uit die minister, kommissaris, adjunkkommissaris en direkteur-generaal van finansies bestaan, maar ook lede insluit wat kundig is oor finansies, belasting en die ekonomie.

“Die voorsitter kan ’n afgetrede regter wees.”

Die raad moet “genoegsaam sterk magte van ondersoek hê” sodat dit “betekenisvolle aanbevelings” oor die verantwoordbaarheid van die SAID kan doen.

Die raad kan ’n kortlys van kandidate vir die pos van kommissaris opstel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.