Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gordhan moet by hawe ingryp, vra Wes-Kaap

Terwyl Transnet meen hy het dinge weer onder beheer in die Kaapse hawe, vra die Wes-Kaapse regering dat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, by die hawe moet ingryp.

Die Covid-19-inperking, asook die afwesigheid van werkers in die Kaapse hawe wat Covid-19 het of in kwarantyn is, ontwrig die hantering van vrag in die hawe. Foto: Transnet

Dit kom nadat drie skeepsrederye aangedui het dat hulle vir eers nie meer dié hawe gaan aandoen nie, en indien wel, sal hulle van Julie af ’n ekstra vragtarief per vraghouer vir enige Kaapse besoeke vra.

Groot volumes sitrusuitvoer word ook tans eerder vanaf die Oos-Kaapse hawens soos Port Elizabeth en Ngqura gedoen.

Diensvlakke in dié hawe het sedert begin April weens die impak van die Covid-19-infeksies begin agteruitgaan, het David Maynier, LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, gesê.

Die diensvlakke was twee weke gelede net 42% van die gemiddelde diensvlakke van verlede jaar wat betref die aantal vraghouers wat hanteer word.

Die afgelope maand moes skepe tot twee weke buite die hawe wag voordat hulle kon vasmeer, en sekere uitvoervragte van drie maande gelede is nou nog nie weggestuur nie. Intussen wag verskeie invoerders al langer as ’n maand om vraghouers te ontvang nadat dit in die hawe afgelaai is.

Vervoermaatskappye kan dikwels slegs een vraghouer per dag aflewer of oplaai, wat nie finansieel volhoubaar is nie, het Maynier gewaarsku.

Transnet hou twee keer per week aanlyn vergaderings met hawe-amptenare en kliënte om die probleme te bespreek, het Mpumi Dweba-Kwetana, hawebestuurder van die Transnet Nasionale Hawe-owerheid, die naweek gesê.

Sy het verduidelik dat Transnet agterstande in die hawe dringend probeer wegwerk. Met die inperking, wat op 27 Maart begin het, is net noodsaaklike goedere toegelaat om deur die hawe beweeg. Dit het daartoe gelei dat vrag, wat ingevolge die regering se regulasies as nienoodsaaklik gekategoriseer is, opgehoop het. Dit raak veral die landboubedryf.

Volgens Dweba-Kwetana het die aantal skeepsbesoeke en vragvolumes wat in al Suid-Afrika se hawens sedert die inperking gehanteer kon word, afgeneem.

Anders as Maynier se syfer van net 42% van die diensvlakke, voer Dweba-Kwetana aan dat die houerkaai in Kaapstad volgens Transnet se hawe-terminale tans teen net onder 60% van sy vermoë funksioneer, en die veeldoelige vragkaai teen 75% van sy vermoë werk.

“Die hawe is daartoe verbind om hawegebruikers en werknemers te beskerm, en terselfdertyd ons kliënte se vrag te skuif. Dit was ’n uitdaging vir almal om die positiewe gevalle van Covid-19 in ons hawe, tesame met self-isolasie, die afwesigheid van personeel en angstigheid onder die werknemers te bestuur.

“Ons het net 40% van ons personeel aan diens nadat die hawe-terminale ’n vyfde skof langs die kaai ingestel het. Ons kommunikeer daagliks om ons werknemers in te lig, op te voed en te bemoedig.”

Meer oor:  Transnet  |  Pravin Gordhan  |  David Maynier  |  Invoer  |  Covid-19  |  Hawe  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.