Die staat het teen einde Desember nog net 71,2% van die verwagte inkomste vir die boekjaar ingesamel. Hy kan sukkel om teen einde Maart die inkomsteteiken te haal wat in Oktober in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gestel is, sê Investec.
Tot dusver vanjaar is R967 miljard ingesamel. Dis wel 4,8% meer as verlede jaar, maar uitgawes het in dié tyd met 12% gestyg, sê Lara Hodes, ’n ekonoom van Investec in ’n nota.
Die kumulatiewe begrotingstekort vir die eerste nege maande van die 2019-’20- finansiële jaar (tot Desember) is R249,7 miljard teenoor ’n tekort van R163,1 miljard in die ooreenstemmende tydperk in 2018-’19.
Hodes sê ekonomiese groeivooruitsigte is pap en in 2019 het die ekonomie met minder as 0,5% gegroei. Persoonlike inkomstebelasting sal onder druk wees weens werksverliese, stadiger groei in loonverhogings en toenemende emigrasie.
Beurtkrag kan nywerheidsaktiwiteit verder beperk en tot nóg laer maatskappybelasting lei.
Saam met die regering se steun aan staatsbeheerde ondernemings, skets dit ’n negatiewe fiskale prentjie wat Suid-Afrika kwesbaar maak vir ’n kredietafgradering tot volle rommelstatus, sê Hodes.