
Gratis onderwys gaan nog 'n kopseer word vir die nuwe ANC-president. Foto ter illustrasie.
Pres. Jacob Zuma het net aan homself en glad nie aan óf adj.pres. Cyril Ramaphosa óf dr. Nkosazana Dlamini-Zuma gedink toe hy die belofte van gratis tersiêre onderwys gemaak het nie.
“Dit maak nie saak wie van die twee wen nie, hulle het ’n baie groot en duur probleem op hande,” sê prof. Jannie Rossouw, hoof van Wits se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe.
“Daar is net twee maniere hoe die staat die sowat R50 miljard wat nodig gaan wees om dié belofte na te kom, gaan insamel. Hy gaan óf belasting op toegevoegde waarde (BTW) met twee persentasiepunte van 14% tot 16% moet verhoog, óf hy gaan persoonlike inkomstebelasting (PIB) met 10% moet verhoog.
Dit maak nie saak wie van die twee wen nie, hulle het ’n baie groot en duur probleem op hande.
Jannie Rossouw
“Aangesien die kwessie oor hoër BTW baie sensitief bly, kan Suid-Afrikaners hulle dus maar gereed maak vir ’n reuse styging in die PIB wat hulle gaan betaal,” sê hy.

Prof. Jannie Rossouw.
Soos hy verstaan sal die plan reeds in 2018 vir eerstejaarstudente geld van wie die gesamentlike huishoudelike inkomste minder as R350 000 per jaar is. Dit sal dan elke jaar vir vyf jaar toegepas word.
“Die 10%-verhoging in PIB wat ek voorsien is van toepassing wanneer die projek oor vyf jaar heeltemal in werking is.
“Suid-Afrikaners se huishoudings wat ’n gesamentlike inkomste van meer as R350 000 (of sowat R29 000 per maand) verdien, gaan dubbel gestraf word. Hulle gaan hoër belasting moet betaal én steeds self vir hul kinders se tersiêre onderrig moet betaal,” sê hy.
Rossouw sê die staat kan natuurlik uitgawes besnoei, maar hy sê dit sal steeds nie genoeg wees om dié belofte van Zuma te laat realiseer nie.
“Daar moet onthou word dat Zuma se belofte geldig is. Hy het dit as president van die ANC en van die land gemaak. Dit is dus bindend.
“Duidelik het Zuma net aan homself en sy nalatenskap gedink.
“Hy het ongelooflik hoë verwagtinge geskep wat enige van die twee kandidate gaan sukkel om aan te voldoen.”