Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Groot kapitaal se gebalde vuis teen Zuma

Die stroompie finansiële instellings wat die geldkrane na Suid-Afrikaanse staatsinstellings toedraai, “kan ’n rivier word”.

Die skaduwee van Brian Molefe, uitvoerende hoof van Eskom, tydens 'n nuuskonferensie. Foto: Felox Dlangamandla

Gister het Denemarke se Jyske Bank in die voetspore van die Suid-Afrikaanse finansieringsreus Futuregrowth gevolg en – in wat bestempel kan word as die gebalde vuis van groot kapitaal – ook sy finansiering aan Eskom gestop.

Francois du Plessis, besturende direkteur van Vega Batebestuur, waarsku nóg finansiële instellings kan en gaan volg.

Batebestuurders is verantwoordelik vir derde partye se geld en vir hulle om “willens en wetens geld te leen aan staatsinstellings met min of geen respek vir korporatiewe beheer en prosesse nie, is nalatig en onverantwoordelik”.

“As van hierdie lenings nie ten volle terugbetaal kan word nie, sal hierdie batebestuurders in ’n moeilike posisie wees, veral omdat hierdie bateklas (effekte) veronderstel is om ’n lae risiko te hê,” sê Du Plessis. “Verder, indien die aanbod van kapitaal opdroog, sal die koste van kapitaal vir staatsinstellings styg, wat infrastruktuurprojekte duurder sal maak.”

As van hierdie lenings nie ten volle terug-betaal kan word nie, sal hierdie bate-bestuurders in ’n moeilike posisie wees.
Francois du Plessis van Vega

Waar dit begin het

Futuregrowth, die grootste private vaste-inkomstebatebestuurder in die land, het Woensdag gesê hy gaan nie meer geld aan ses van Suid-Afrika se grootste staatsinstellings leen nie omdat hy bekommerd is oor hoe dit bestuur word, oor binnegevegte in die regering en oor die vrees van ’n aanslag op die onafhanklikheid van die tesourie.

Eskom en Transnet, twee van die ses staatsinstellings, het gister in antwoord daarop gesê Futuregrowth se besluit “hou nie ’n risiko in” vir hul finansieringsplanne nie.

Jyske Bank is die tweede maatskappy wat sê hy gaan sy finansiering aan Eskom stop, berig Bloomberg. “Ek kan sien dat meer banke dieselfde gaan doen. Ons sien probleme vorentoe om geld aan hom te leen en ook meer probleme met korporatiewe beheer,” sê Rune Hejrskov, senior bestuurder van Jyske Bank.

Anoj Singh, Eskom se finansiële hoof.

Die batebestuurder Allan Gray sê die voortslepende onsekerheid by staatsinstellings kan besluite oor beleggings daarin beïnvloed, berig Reuters.

“Ons hoop die huidige onsekerheid en kommer oor korporatiewe beheer sal gou opgelos word, en dit sal waarskynlik ons sienings verander oor die aanloklikheid van staatsinstellings se skuld as ’n belegging vir ons kliënte,” sê Andrew Lapping, beleggingshoof van die maatskappy.

Eskom wil met beleggers praat

Anoj Singh, Eskom se finan­siële hoof, sê Eskom vergader gereeld met plaaslike batebestuurders en ander relevante finan­siële instellings en het in Augustus weer met batebestuurders, insluitend Future­growth, vergader.

Hy sê die huidige bekommernisse is nie toe geopper nie. “Nietemin sal Eskom steeds in gesprek tree met Futuregrowth Asset Management en die breër beleggersgemeenskap om die kommer te verstaan,” sê Singh.

Transnet roskam Futuregrowth

Transnet sê hy let “met teleurstelling” op Futuregrowth se besluit, maar dit gaan ook nie sy finansieringsplanne kelder nie. Hy gaan voort om sy beleggingsprogram van tussen R340 miljard en R380 miljard na te streef, met die doelwit om die land se spoorweë, hawens en pypleidings te verbeter.

Andrew Canter

Molatwane Likhethe, woordvoerder van die maatskappy, sê Transnet is beskikbaar vir gesprekke met al sy leners en beleggers, insluitend Future­growth, om enige kommer te bespreek wat hulle oor die maatskappy het. “Dit is teleurstellend dat Futuregrowth, wat sowat 1,25% van ons totale skuld verteenwoordig, gekies het om die kanale van kommunikasie wat vir hulle beskikbaar is te ignoreer,” sê hy.

“Transnet het ongelukkig deur die media bewus geword van hul besluit om lenings aan staatsinstellings te stop.”

Transnet beskou homself as ’n “geloofwaardige en betroubare lener met sterk fundamentele kredietfaktore” en dit word bewys deur sy kredietprofiel en beleggingsgradering, sê hy.

“Ons is ook daartoe verbind om die hoogste standaarde te handhaaf van goeie korporatiewe beheer en voldoen aan streng interne beleidsmaatreëls en prosedures.”

Mosie van wantroue

Intussen sê Mmusi Maimane, leier van die DA, Futuregrowth se besluit is ’n duidelike mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma.

Maimane sê Futuregrowth se verwysing na “konflik tussen takke van die regering, patronaatskap en ’n oënskynlike uitdaging van die onafhanklikheid van die nasionale tesourie” is ’n duidelike hou na Zuma en “sy projek van staatskaping”.

Die ANC het gesê hy is besorg oor Futuregrowth se besluit, berig Philda Essop.

“Dit is ons hoop dat Future­growth met die relevante ministers en staatsinstellings in gesprek sal tree om hul bekommernisse te bespreek en saam ’n oplossing vind in belang van die ekonomie en die land,” sê Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder.

Wat ons nié weet nie

Dit gaan nie oor “wat ons weet nie, maar oor wat ons nié weet nie”, het Andrew Canter, beleggingshoof van die batebestuurder Futuregrowth, gister gesê oor die skokaankondiging dat hy tot verdere kennisgewing nie meer geld aan ses staatsondernemings gaan leen nie.

Die fondsbestuurder was op die punt om R1,8 miljard aan drie ondernemings te leen, maar het dit op die lange baan geskuif.

Canter is bekend vir sy omstrede uitlatings in ’n bedryf wat relatief konserwatief is met sy kommentaar. Oor of Future­growth iets weet wat ander nie weet nie, het hy gesê dit is juis “wat hulle nie weet nie” wat hulle die besluit laat neem het.

Dit wat hulle weet, het alles in die afgelope weke verander.

Dit volg op die afgelope weke se onthullings oor staatsondernemings se korporatiewe beheer en onafhanklikheid.

Ook die “ondeursigtige” verklaring oor die nuwe komitee wat geskep word om toesig te hou oor staatsmaatskappye waarvan pres. Jacob Zuma die voorsitter gaan wees.

Volgens Canter is daar nie ’n behoorlike verduideliking oor dié komitee gegee nie.

Hy voel sleg dat die nuus die rand laat verswak het.

“Dit maak my glad nie gelukkig nie. Wat effektiewelik gebeur het, is dat die rand verswak en hul finansieringskoste gestyg het.”

Volgens hom het hy gister nie een reaksie gekry wat negatief is nie, maar bedankings stroom in van beleggers en kliënte oor die nuus.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.