Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Gróót kommer oor winkels se verkope
Verkope by klere- en skoenwinkels het met 0,5% gedaal. Foto: Unsplash

As jou plaaslike winkelier ’n bietjie van ’n suurknol is op die oomblik, probeer maar simpatiek knik: Die nuutste kleinhandelverkope is werklik niks om oor te glimlag nie.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het kleinhandelverkope in April met net 0,5% gestyg vergeleke met ’n jaar gelede. Dis gemeet in reële terme, dus wanneer prysstygings buite rekening gelaat word. Dié styging is die kleinste styging sedert Februarie 2017.

Jason Muscat, senior ekonomiese ontleder van FNB, sê die syfers is swakker as wat hulle verwag het. Dit kom ondanks die lae inflasiekoers, die verlaging van die rentekoers einde Maart, die feit dat verbruikers se skuldvlakke daal en reële groei in salarisse.

Hy sê kleinhandelaars sal dalk moet aanhou om stygings in hul eie koste te absorbeer in die hoop dat hulle verkope kan aanhelp.

“Ons sal wag en kyk of verkoopspatrone in Mei normaliseer, maar dit lyk al hoe meer asof huishoudelike verbruiksbesteding nie so goed gaan vaar as wat ons vir 2018 verwag het nie.”

Huishoudelike besteding dra nagenoeg 60% tot Suid-Afrika se ekonomiese groei by.

Muscat is veral bekommerd oor die kwartaalsyfer, wat wys kleinhandelverkope het in die drie maande Februarie, Maart en April met 1,2% gedaal vergeleke met die drie maande November, Desember en Januarie. Dis die derde opeenvolgende maand dat die driemaandesyfer daal.

Van jaar tot jaar het verkope by vier uit die sewe kategorieë wat SSA meet, teruggesak, naamlik:

  • Verkope by algemene handelaars, waar die meeste Suid-Afrikaners hul kos, waspoeier en hondekos koop, het met 1% gedaal.
  • Verkope by deli’s en spesialisbakkerye het met 5,5% gedaal.
  • Verkope by klere- en skoenwinkels het met 0,5% gedaal; en
  • Verkope by ysterware- en selfdoenwinkels het met 0,9% gedaal.

Die drie kategorieë waar daar groei was, is:

  • Meubel- en elektronikawinkels: Verkope het met ’n stewige 11% gestyg, maar dit weerspieël minstens deels die swak jaar wat in 2017 ervaar is.
  • Apteke en winkels wat toiletware en grimering verkoop: Verkope het met 6,2% gestyg.
  • Verkope by die “ander” kategorie – wat alles van boekwinkels en juweliers tot winkels vir gebruikte goedere insluit – het met 5,6% gestyg.

Tussen Maart en April het verkope met 1,2% gedaal. Dit kom ná ’n betreklike goeie Maart vir kleinhandelaars omdat baie mense groot aankope gedoen het om die styging van belasting op toegevoegde waarde in April vry te spring.

In huidige randwaarde was die nuus die heel slegste. Verkope het met slegs 2,5% gestyg. Dit is die laagste nóg sedert SSA die persentasies aandui.

Vir die jaar tot dusver het kleinhandelverkope in reële waarde met 3,2% gestyg.

’n Ander maatstaf

Volgens Mastercard se SpendingPulse het kleinhandelverkope in April op ’n reële grondslag met 3,7% gestyg en op ’n nominale grondslag met 6,4%.

Die SpendingPulse-peiling word ook maandeliks gedoen en weerspieël die data uit elektroniese betalings, sowel as ’n peiling oor kontantverkope.

Volgens Sarah Quinlan, senior visepresident van markinsig by Mastercard, is dit die beste April in die afgelope ses jaar.

Nietemin sê Quinlan Suid-Afrikaners is nie op die oomblik oorgretig om geld te bestee nie. “Hoewel inflasiedruk afgeneem het in baie ekonomiese sektore, lê ander faktore, soos hoë werkloosheid en trae groei in salarisse, besteding aan bande.”

Die SpendingPulse beaam SSA se bevinding dat besteding aan toiletware en mediese goedere skerper styg, terwyl verkope by algemene handelaars daal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.