Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Groot probleme by staat se agentskap vir behuising

’n Ouditverslag oor die staat se behuisingsontwikkelingsagentskap (HDA) dui op ernstige probleme by dié staatsagentskap.

Emma Powell
Emma Louise Powell, DA-woordvoerder oor behuising.

Die HDA se 2020-jaarverslag word Dinsdag in die parlement bespreek, maar Emma Louise Powell, DA-lid van die portefeuljekomitee oor behuising en DA-woordvoerder oor behuising, sê sy gaan die ouditeur-generaal vra vir ’n spesiale oudit en ondersoek na die HDA se geldsake.

Die ouditverslag waarin Powell insae gekry het, toon dat Pascal Moloi, wat uitvoerende hoof van die HDA was in die 2020-boekjaar, ’n salaris van R6,5 miljoen ontvang het, wat R2,25 miljoen meer is as die vorige jaar – dus ’n verhoging van 53%.

Intussen verdien afdelingshoofde van die HDA volgens Powell boonop salarisse van tot R2,8 miljoen per jaar wat meer is as wat die toesighoudende minister – Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie – self verdien.

Die ouditverslag wys die HDA het in die betrokke boekjaar drie verskillende waarnemende uitvoerende hoofde gehad. Dit is al ’n paar keer onder administrasie geplaas en was tussen Julie en September van die betrokke boekjaar sonder administrasie én sonder ’n behoorlik aangestelde direksie.

In die jaar was daar twee waarnemende finansiële hoofde. Toe stel Sisulu vir Brian Mosehla aan. Mosehla is ’n paar jaar gelede by korrupsiebewerings rakende die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) betrek. Hy was die swartbemagtigingsvennoot van Cash Paymaster Services – die firma wat die kontrak gehad het om Sassa-toelaes uit te betaal. Sisulu het intussen vir Mosehla afgedank, maar hy word steeds op die HDA se webblad as finansiële hoof aangedui.

Powell wys ook op die aanstelling van Nkululeko Poya as bedryfshoof van die HDA nadat hy by die Spoorveiligheidsreguleerder as uitvoerende hoof bedank het nadat 14 klagte van wangedrag, oneerlikheid en misbruik van mag teen hom aanhangig gemaak is.

In die ouditverslag word aangedui die HDA het in die boekjaar R131,8 miljoen se onreëlmatige, vrugtelose en vermorste uitgawes gehad, teenoor R109,43 miljoen in die vorige boekjaar.

Tog is R4,3 miljoen bestee aan prestasiebonusse.

Die jongste beskikbare jaarverslag van die HDA op sy webblad is dié van 2019. Hierin verduidelik die administrateurs wat toe aan die stuur was, dat die HDA se probleme spruit uit onbetaalde skuld deur provinsies en munisipaliteite aan die HDA. Dit is vererger deur ’n versoek van die nasionale tesourie dat die HDA deel van die kontant van R2,3 miljard wat in die 2018-boekjaar aangeteken is, aan hom moes teruggee. Die tesourie se versoek het gevolg op kommer oor geld wat uit die staatskas na die HDA oorgedra is, maar nie bestee is nie.

behuisingsprojek
'n Uitsig op 'n behuisingsprojek van die HDA naby Carletonville in die weste van Gauteng.

Uit die jongste ouditverslag blyk dit die HDA het nie voldoende stelsels om onreëlmatige besteding te identifiseer nie, betalings is gedoen, maar die kwitansies daarvoor is onbekend, daar is te veel betaal vir sekere werk, kontrakte is toegeken aan verskaffers wie se belastingsake nie opgeklaar is nie, en sekere kontrakte is verleng of gewysig sonder die korrekte goedkeuring.

Die HDA is in 2009 gestig as ’n agentskap wat veronderstel is om namens die staat grond te bekom vir behuising en dan behuisingsprojekte gebou te kry.

In die jongste begrotingsdokumente sê die nasionale tesourie nie veel oor die HDA nie, maar wel dat die agentskap verwag om 60,7% van sy inkomste oor die volgende drie jaar van die departement af te kry, en die res deur provinsiale behuisingsprojekte en deur bestuurs- en professionele fooie.

Volgens die tesourie se inligting het die HDA in die 2020-boekjaar R229,3 miljoen van die staatskas gekry via die departement, en die res van sy totale inkomste van R352,4 miljoen spruit uit provinsiale projekte en bestuurs- en administrasiegelde. Dit het uitgeloop op ’n tekort vir die jaar van R1,6 miljoen, teenoor die vorige jaar se tekort van R12,7 miljoen.

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Behuising
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.