Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Grootbase en hul bonusse: Wat nou ná Covid?

Maatskappye sal vanjaar baie goeie redes moet hê as hulle enige vorm van bonus aan hul grootbase uitbetaal.

Grootbase se bonusse maak dikwels tot ’n driekwart van hul jaarlikse vergoeding uit. Foto: Pixabay

Dis gesien teen die agtergrond van die Covid-19-pandemie en die invloed daarvan op die ekonomie en maatskappye.

Die ouditfirma Deloitte het sy jaarlikse verslag oor die vergoeding van uitvoerende hoofde in Augustus aangepas, juis om die moontlike invloed van die Covid-19-pandemie daarby in te sluit.

In die eerste weergawe van dié verslag, wat in Januarie gepubliseer is, het die maatskappy klaar oor topebestuurders se hoë salarisse gevra: “Wat is genoeg?”

LEES OOK: Deloitte vra: Wat behoort grootbase te verdien?

Die uitvoerende hoofde van Suid-Afrika se genoteerde maatskappye verdien tussen sowat R1 miljoen en R20 miljoen per jaar – en dis net hul gewaarborgde vergoeding, wat hul basiese salaris, voordele en bydraes tot die maatskappy se mediese en/of aftreefonds insluit.

Daar is egter ’n paar wat tussen R20 miljoen en R40 miljoen per jaar verdien, en een uitskieter wat bykans R100 miljoen per jaar verdien.

Dié vergoeding sluit kort- en langtermynbonusse en aandele uit.

Luidens die jaarverslae van die 250 maatskappye wat op die JSE genoteer is, kan kontantbonusse en ander langtermynbonusse tot ’n driekwart van ’n uitvoerende hoof se totale vergoeding verteenwoordig.

Die vraag is nou of dié enorme bonusse geregverdig is, gegewe dat baie maatskappye werkers uit diens stel of ander groot besnoeiings maak.

Leslie Yuill, verantwoordelik vir vergoeding by Deloitte en hoof van die span wat die verslag saamgestel het, sê baie maatskappye het korttermyn-aanpassings gemaak aan die vergoeding van hul grootbase. Die vraag is egter of hulle dié aanpassings ook op lang termyn gaan maak.

Yuill en sy span erken die aard en omvang van die invloed van die pandemie gaan van sektor tot sektor, asook van maatskappy tot maatskappy verskil.

“Vergoedingskomitees sal nogtans die gevolge van die Covid-19-pandemie moet oorweeg wanneer hulle oor bonusse besluit, asook hoe dit openbaar gemaak en in werking gestel word. Besluite deur die komitee moet toepaslik wees in die konteks van die breër sake- en arbeidsmag,” sê Yuill.

Van die stappe wat maatskappye geneem het of wat hulle oorweeg sluit in:

  • Bekostigbaarheid en die invloed van besluite op die arbeidsmag: Sommige maatskappye het aangedui vergoeding gaan verlaag word. In sommige gevalle geld die beleid alle werknemers, terwyl sommige maatskappye aangedui het hul grootbase moet die grootste verlagings kry.
  • Kwytskelding van of uitstel van bonusse: Verskeie ondernemings oorweeg om nié kontantbonusse te betaal nie of om dit in die vorm van aandele te betaal.
  • Kwytskelding of uitstel van langtermynbonusse.

Deloitte sê soos die jaar verloop, gaan aandeelhouers krities wees oor enige besluit wat betref vergoeding, veral waar oordeel gebruik is om die besluit te neem.

“Enige diskresie wat gebruik word, moet verseker dat die uitkoms in pas is met die arbeidsmag, beleggers

en die breër ervaring van belanghebbendes.”

Deloitte sê wat kontantbonusse betref, blyk die volgende die riglyne te wees wat maatskappye waarskynlik dié jaar gaan volg:

  • Geen, of minimale bonusse, ongeag of teikens bereik is;
  • Geen diskresionêre bonusse nie, aangesien dit baie moeilik gaan wees om te regverdig;
  • ’n Vorm van erkenning omdat die persoon die invloed van die pandemie op die maatskappy goed bestuur het;
  • Die inwerkingstelling van bykomende stappe of “hekkies” om te keer dat bonusse outomaties betaal word; en
  • ’n Aanpassing in die vereistes oor wanneer individue in die toekoms vir bonusse kwalifiseer.

Deloitte sê hoewel geen maatskappy verplig kan word om sekere stappe te doen nie, is die groot vraag voordat ’n bonus goedgekeur word: Is dit reg, billik en regverdig gegewe die huidige omstandighede?

“As daar twyfel of ongemak bestaan, is dit waarskynlik die verkeerde ding om te doen.”

Meer oor:  Deloitte  |  Bonusse  |  Uitvoerende Hoofde  |  Maatskappye  |  Salarisse  |  Beroepe  |  Loopbane  |  Vergoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.