Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Halfmiljoen minder werk, toerisme bloei

Nog 9 000 werkgeleenthede het in die eerste kwartaal vergeleke met die laaste kwartaal van 2020 verlore gegaan.

’n Foto van ’n paar jaar gelede van Jock Safari Lodge. Tot 20% minder mense het in die eerste kwartaal in die toerismebedryf gewerk as ’n jaar gelede. Foto: Netwerk24

Statistieke Suid-Afrika toon poste buite die landbousektor was teen einde Maart 9,64 miljoen, wat 552 000 of 5,4% minder as ’n jaar gelede in dieselfde kwartaal was.

Casey Delport, beleggingsontleder van Anchor Capital, sê die kwartaallikse daling was in teenstelling met verwagtinge dat poste sou toeneem.

“Dit wys duidelik hoe die pandemie steeds die arbeidsmark negatief raak.”

Die grootste daling in die kwartaal was die 40 000 poste wat in die handelsektor verlore is. Die sektor bestaan uit groothandelaars, motorhandelaars, voedsel en drank (restaurante en spyseniering) en kleinhandelaars.

Die daling is teengewerk deur ’n styging in gemeenskapsdienste van 47 000.

Koketso Mano, ekonoom van FNB, sê die meeste van die poste wat van die vierde kwartaal van verlede jaar tot die eerste kwartaal vanjaar verlore gegaan het, is in kleinhandel (27 000), gevolg deur hotelle (13 000).

Mano sê hoewel indiensneming in die vervoersektor amper onveranderd is, is daar ’n toename in lugvervoer omdat lugdienste soos die SAL vir ’n toename in bedrywighede voorberei het in afwagting op meer mense wat begin reis.

“Met die huidige aangepaste vlak 4-beperkinge bly indiensname in die sektore kwesbaar en dit gaan die herstel van ondernemings vertraag.”

Vergeleke met ’n jaar gelede het die toerismeverwante sektore poste verloor – hotelle en restaurante het 20% minder mense in diens en lugvervoer 38% minder.

werkloosheid

Die poste wat verlore is in die sakedienstesektor kom van finansiële tussengangers waar 11 000 die afgelope jaar verloor is.

Die groot stygings in die gemeenskapsdienstesektor kom van provinsies wat 58 000 poste bygevoeg het, maar dis meestal deeltyds.

“Die derde vlaag van infeksies en die jongste vlak 4-inperking hou ’n risiko vir produksie in. Selfs al bly die grootste deel van die ekonomie oop, word handelsure en mobiliteit beïnvloed en kan dit die vertroue in sekere bedrywe beperk,” sê sy.

“Daar is reeds verwag dat werkverskaffing stadig sou groei en die jongste verwikkelinge gaan die vooruitsigte verder belemmer.”

Vergoeding daal

Delport sê wat nog meer kommerwekkend is, is die 3,6%-daling in die bruto verdienste (salarisse, lone, bonusse, oortydbetalings, ens.) van werkers van die vierde kwartaal tot die eerste kwartaal.

Volgens Statistieke Suid-Afrika het die verdienste van werkers van die vierde tot die eerste kwartaal met R26,8 miljard gedaal. Teenoor ’n jaar gelede was die daling R14 miljard.

“Dit toon die druk op inkomste wat Suid-Afrikaners in verskillende inkomstegroepe ervaar. Wat dit verder vererger, is die kwartaallikse daling van bonusse en oortydbetalings van 25%.”

Dit is ’n daling van R22,7 miljard. Teenoor verlede jaar het bonusse en oortyd met R5,5 miljard gedaal.

Basiese salarisse en lone wat aan personeel betaal is, het oor die kwartaal met R4,1 miljard (of 0,6%) gedaal. Oor die jaar het dit met R19,6 miljard of 2,9% gedaal. Delport sê die pandemie is besig om die struktuur van indiensneming stadig te verander, met voltydse poste wat 599 000 minder is as ’n jaar gelede, terwyl deeltydse poste met 47 000 gestyg het.

“Dit vind plaas omdat ondernemings minder werksekerheid bied in ’n poging om vinniger te kan reageer op die veranderende aard van die pandemie.”

Die gemiddelde maandelikse verdienste per werker buite die landbousektor het maar net met R3 tot R23 122 gestyg.

werkloosheid

Die Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe (Seifsa) sê die kwartaallikse statistieke (QES) weerspieël die “onstuimige pad na ekonomiese herstel te midde van die verdieping van die negatiewe impak van die Covid-19-inperkings op die ekonomie”.

Poste in die mynbedryf en vervaardiging het oor die kwartaal met onderskeidelik 1,1% en 0,4% gestyg.

Volgens Chifipa Mhango, hoofekonoom van Seifsa, bly die indiensneming in die sektor egter kommerwekkend omdat dit op ’n jaargrondslag met 8% van 429 617 tot 397 586 gedaal het.

“Die sektor sukkel steeds om poste te behou, veral in sektore wat deur vraag aangedryf word, soos konstruksie,” sê hy.

Die sektor verteenwoordig omtrent 36% van die poste in die vervaardigingsektor.

“Die aanhoudende probleme in die metaal- en ingenieurswesesektor soos hoë elektrisiteitskoste asook onderbrekings in die voorraadketting en stygende logistieke en invoerkoste moet dringend aangepak word en moet deel van die nywerheidsherstelplan uitmaak om indiensname in die sektor te stimuleer.”

Hy sê die meesterplan vir die staal- en vervaardigingsbedryf wat onlangs bekend gestel is, moet spertye kry wat op korter termyn resultate oplewer.

Volgens Mhango moet die regering staatsondernemings vinniger hervorm en prioriteit aan ekonomiese herstelplanne gee wat infrastruktuurbesteding verhoog.

Dit, glo hy, sal investering deur die private sektor aanmoedig.

Meer oor:  Fnb  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Inperking  |  Poste  |  Covid-19  |  Werkloosheid  |  Toerisme  |  Hotelle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.