Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Handel: Verdrag met VSA in gedrang onder Biden

Suid-Afrika is huiwerig om ’n nuwe handelsooreenkoms aan te gaan met die VSA en wil eerder die bestaande betrekkinge met die wêreld se grootste ekonomie handhaaf, het die land se voorste handelsbeampte gesê.

Die Durbanse hawe. Foto: Getty Images

Suid-Afrika is tans deel van die sogenaamde Veralgemeende Stelsel van Voorkeure (GSP) en die Verdrag vir die Bevordering van Groei en Ontwikkeling in Afrika (Agoa), wat saam toelaat dat die meeste Afrika-lande suid van die Sahara vir sowat 7 000 produksoorte tariefvry toegang tot die Amerikaanse mark kry.

Agoa verstryk in 2025 en Richard Neal, die VSA se voorsitter van dié regering se Ways and Means-komitee, het gevra dat die GSP – die VSA se oudste en grootste handelsvoorkeurprogram vir die wêreld se armste ekonomieë – aangepas word.

“Ons hoop dat ons die huidige ooreenkoms kan behou,” het Lionel October, direkteur-generaal van die departement van handel, nywerheid en mededinging in Suid-Afrika, verlede week in ’n onderhoud gesê.

“Ons werk daaraan om die GSP-voorkeure voort te sit en hopelik ’n uitbreiding op Agoa te kry, alhoewel ons miskien toegewings sal moet maak. Maar eerder dit as ’n volwaardige handelsooreenkoms wat vier tot vyf jaar kan neem om oor te onderhandel,” het hy gesê.

Handel in goedere en dienste tussen Suid-Afrika en die VSA is in 2019 gewaardeer op $17,8 miljard, terwyl $2 miljard se uitvoer uit Suid-Afrika na die VSA, luidens data van die VSA se regering, onder die GSP en Agoa gevloei het.

Suid-Afrika se voorkeurmarktoegang tot die VSA word egter hersien. Dit is nadat die Amerikaanse handelsverteenwoordiger ’n klag van die International Intellectual Property Alliance – ’n Amerikaanse privaatsektorgroep wat maatskappye verteenwoordig, insluitende die vervaardigers en verspreider van boeke, rolprente, musiek en videospeletjies – aanvaar het wat sê dat die land se wetsontwerp op kopiereg en wysigingswetsontwerp op die beskerming van kunstenaars nie voldoende en effektiewe beskerming aan Amerikaanse kopiereg bied nie.

As die uitslag van die oorsig negatief is, kan Suid-Afrika sy voorkeurmarktoegang onder sowel die GSP as Agoa verloor.

Suid-Afrikaanse amptenare is van plan om vroeg volgende maand met hul Amerikaanse eweknieë te vergader om die handelsverhoudinge onder pres. Joe Biden se regering te bespreek, volgens October.

“Ons beplan om baie moeite met ons verhoudinge met die VSA te doen,” het hy gesê.

Terwyl Kenia ’n bilaterale handelsooreenkoms met die VSA onderhandel, is ’n land-tot-land-ooreenkoms nie ’n opsie vir Suid-Afrika nie, want hy is deel van ’n plaaslike doeane-unie met Botswana, Lesotho, Eswatini en Namibië. Die regering vrees ook dat enige nuwe ooreenkoms met toestande wat plaaslike industrieë kan benadeel, kan gepaardgaan, het October gesê.

Hier is ander belangrike kwessies wat October onder die loep neem:

Plaaslike vervaardiging

Volgens October sal die regering ’n vorm van beskerming vir Suid-Afrikaanse vervaardigers moet handhaaf as hy plaaslike produksie wil opbou en werk wil skep. “Ons vertrou op ons mynbou- en finansiële sektor om groei te bevorder,” het hy gesê. “Lande word net suksesvol as hulle vervaardiging en landbou het. Dit is waar die hoogs betaalde werkgeleenthede is, dit is waar die massa-indiensneming is. Ons het beskerming nodig waar dit nodig is. ’n Mens kan natuurlik nie onmededingend raak nie.”

Motorbedryf

Suid-Afrika, Afrika se grootste motorvervaardigingsland, ervaar ’n oplewing in beleggings, met van die grootste vervaardigers in die wêreld wat hul produksievermoë hier uitbrei. Uitbreidingsplanne wat deur byvoorbeeld Ford Motors geïmplementeer word, sal ’n totale belegging van R33 miljard oplewer en die bou van 13 nuwe fabrieke en die opknapping van ’n spoorverbinding tussen Pretoria en Port Elizabeth teen 2025.

Toyota, op sy beurt, verhoog die produksie van sy hibriede motors, terwyl Isuzu ’n ou General Motors-aanleg in die suide van die land laat herleef.

Die regering pluk nou die vrugte van ’n poging van 20 jaar om die bedryf op te bou, wat volgens October byna 15,5% van die land se uitvoer lewer en meer as 100 000 geskoolde werkers in diens het.

Staalproduksie

Die staalbedryf lê in die kern van die land se industrialisasie en ’n meesterplan om produksie aan te moedig, sal binnekort aangekondig word.

Die vraag na staal is reeds aan die toeneem, aangedryf deur infrastruktuurontwikkeling en ’n groeiende mynboubedryf, met beleggings in oonde en aanlegte wat gemoderniseer word.

Die regering wil die plaaslike deelname aan die staalbedryf aansienlik verhoog, insluitende deur ’n groter aandeel in ArcelorMittal SA se Suid-Afrikaanse eenheid te bekom, het October gesê.

Handelsverhoudinge

’n Nuwe kontinentale vryehandelsooreenkoms wat hierdie jaar in werking getree het, sal die toegang tot die Afrika-mark verhoog, plaaslike handel aanmoedig en industrialisering bevorder – ’n doel wat buite die bereik van die meeste klein Afrika-lande was, volgens October. Suid-Afrika is van plan om handel met Kenia, Ghana, Nigerië en Egipte te verskerp en saam met hulle te werk om in die motorsektor vooruitgang te bewerkstellig.

Meer oor:  Joe Biden  |  Vsa  |  Vervaardiging  |  Agoa  |  Staalbedryf  |  Staal  |  Handel  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.