Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Handelsoorlog: Bly kalm en berei voor
Staalrolle word afgelewer by ’n pypleidingfabriek in Texas.Foto: AP

Bly kalm en berei voor, is die advies van Richard Turnill, hoofbeleggingstrateeg van die batebestuurder BlackRock, oor die groeiende spanning oor ’n handelsoorlog tussen Amerika en China.

Pres. Donald Trump se besluit in Maart om Amerika se invoer van staal en aluminium baie duurder te maak, en die jongste planne om China te beperk om in Amerikaanse tegnologiemaatskappye te belê, het reeds ’n impak op beleggingsmarkte en sakebesluite.

Die Amerikaanse tesourie maak na verwagting op 30 Junie sy planne bekend oor die beperking van beleggings uit China in Amerikaanse tegnologiemaatskappye.

Die Europese Unie se wraak teen Amerika se hoër staaltariewe en sy dreigement om invoertariewe op voertuie uit Europa te verhoog was om sy eie invoertariewe op Amerikaanse goedere soos motorfietse en landbouprodukte te verhoog. Dit het reeds die ikoniese Amerikaanse motorfietsvervaardiger Harley Davidson genoop om van sy produksie in Amerika te sluit en na sy ander fabrieke elders in die wêreld te skuif.

Die motorbedryf en verskaffers van onderdele en komponente is besorg oor die impak van hoër invoertariewe op koste in die hele waardeketting van motorvervaardiging.

Die vervaardiger van Jack Daniel’s whiskey het Dinsdag gewaarsku hy sal sy pryse vir sy whiskey in Europa moet verhoog om die koste van die EU se nuwe straftarief van 25% op bourbon whiskey uit Amerika te verhaal. Dit sal uitloop op ’n verhoging van sowat 10% in kleinhandelpryse, sê Brown-Forman Corporation, vervaardiger van Jack Daniel’s.

Die vervaardiger van Jack Daniel’s whiskey het gewaarsku hy sal sy pryse vir sy whiskey in Europa moet verhoog.

Intussen val tegnologie-aandele in Hongkong en China weens die Amerikaanse tesourie se planne teen Chinese beleggings in Amerikaanse tegnologiemaatskappye wat in elektriese voertuie, robotika en lugvaart betrokke is.

Dit kan ’n impak hê op die Chinese internetreus Tencent, waarin die Suid-Afrikaanse mediareus Naspers ’n belang van sowat 30% hou, wat in 2017 ’n 5%-belang in die Amerikaanse elektriesemotorvervaardiger Tesla gekoop het. Chinese tegnologiereuse soos Alibaba en Baidu het ook al in Amerikaanse tegnologie soos elektriese voertuie belê.

Die Sjanghai-aandelebeurs se hoofindeks het reeds in net vyf maande met 20% geval.

Peter Navarro, handelsadviseur in die Withuis, het probeer om beleggers se gemoedere te kalmeer en gesê die tesourieverslag oor Amerika se perke op buitelandse beleggings sal nie so omvangryk wees as wat die markte verwag nie.

Turnill sê ekonomiese fundamentele faktore is steeds sterk, maar beleggers moet veerkragtigheid in hul portefeuljes inbou ingeval van ’n volskaalse handelsoorlog.

Die heen-en-weer verhogings van invoertariewe kan sakevertroue skaad, wat tot vertragings in belegging en besteding lei, waarsku Turnill.

Die regstreekse impak van die tariewe is hoër koste en gedempte vraag. Turnill sê in sulke onseker tye verkies die batebestuurder blootstelling aan vaste-inkomstebeleggings en om in skuldinstrumente op beleggingsgraad te belê. BlackRock verkies ook maatskappye met sterk balansstate en verdienstegroei.

Meer oor:  Donald Trump  |  China  |  Amerika  |  Handelsoorlog  |  Belasting  |  Handel  |  Invoertariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.