Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Handelsoorlog: Omdraaikans dalk verby

Die Trump-regering sal teen die einde van Augustus invoertariewe van 10% op ’n magdom Chinese produkte hef.

Pres. Donald Trump van die VSA en pres. Xi Jinping van China.

Die tariewe, wat Dinsdag aangekondig is, beloop meer as $200 miljard en volg op ’n vorige ronde tariewe ter waarde van R50 miljard wat reeds ingestel is.

Die nuwe tariewe sal invoerpryse op feitlik die helfte van alles wat Amerika van China af invoer, verhoog en raak produkte wat wissel van klere tot onderdele vir televisiestelle en yskaste.

China het nou sewe weke om ’n ooreenkoms te probeer onderhandel of om sy rug styf te maak en die oorlog te verskerp.

Pres. Xi Jinping, onder politieke druk om daadwerklik teen Amerika op te tree, het belowe om hou vir hou terug te veg.

Hy het reeds uit vergelding invoertariewe op produkte soos sojabone uit Iowa en Bourbon uit Kentucky gehef. Dié state is sterk ondersteuners van pres. Donald Trump.

Maar as China die jongste salvo handelsversperrings uit Amerika wil ewenaar, moet hy heelwat hoër tariewe hef of selfs meer ontwrigtende stappe doen, soos om bestellings te kanselleer, regulatoriese struikelblokke in te bou of sy verbruikers aan te moedig om Amerikaanse produkte te boikot.

Nie net loop hy dan die risiko om Trump verder aan te hits om sy dreigement uit te voer om alle Chinese ingevoerde produkte te belas nie, maar dit kan ook nasionalistiese sentiment in albei lande opsweep en die stryd om geopolitieke oorheersing verskerp.

‘Ystydperk’

Trump het Woensdag sy jongste handelsversperrings teen China verdedig as noodsaaklik om Amerikaanse ondernemings en boere teen skadelike handelspraktyke te beskerm.

“Ander lande se handelsversperrings en tariewe het hul ondernemings vernietig. Ek gaan dinge gelykmaak, beter as vantevore, maar dit sal nie vinnig gebeur nie,” het Trump uit Brussel getwiet waar hy ’n spitsberaad van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) bywoon.

“Ek baklei vir ’n gelyke speelveld vir ons boere en ek sal wen,” het hy getwiet.

Pres. Xi Jinping van China.Foto: AFP/Getty Images

Die handelstwis tussen die twee lande is reeds verby enige omdraaipunt, sê Pauline Loong, besturende direkteur van die navorsingsgroep Asia-Analytica in Hongkong.

“Wat volgende gebeur, is nie soseer ’n handelsoorlog of selfs ’n koue oorlog nie, as die begin van ’n ystydperk in verhoudings tussen China en Amerika.”

Pyn vir markte

Aandele en hulpbronpryse het gedaal in reaksie op die jongste sarsie uit Amerika.

Dit het die langste bullopie in ’n maand op die S&P 500-indeks beëindig en die Stoxx Europe 600-indeks het ook teruggetrek.

Daar is allerweë verwag dat die eerste ronde tariefverhogings net ’n beperkte impak sou hê, maar ekonome begin nou waarsku ’n volskaalse handelsoorlog kan die sterkste ekonomiese oplewing in jare ontspoor.

Die Chinese departement van handel het Dinsdag gesê hy sal noodgedwonge terug moet slaan teen wat hy bestempel as “totaal onaanvaarbare Amerikaanse tariewe”.

Daar was sedert Junie geen bevestigde hoëvlak-samesprekings tussen die twee lande om die geskil op te los nie.

Beijing “sal nooit ingee teen afpersing en dreigemente nie,” het Wang Shouwen, China se adjunkminister van handel, aan Bloomberg gesê.

“Amerika ignoreer die proses en het eensydige en proteksionistiese maatreëls ingestel om ’n handelsoorlog te begin.”

Pres. Donald Trump Foto: Reuters

Krake tussen Trump en Republikeine

Die sperdatum van 30 Augustus vir die volgende ronde tariewe om in werking te tree, sal verseker dat die handelsoorlog ’n warm besprekingspunt in November se verkiesing van kongreslede sal wees.

Daar is reeds aanduidings van krake tussen Trump en die Republikeinse Party oor die regte strategie om te volg.

Dit lyk ook asof Trump afgesien het van sy aanvanklike standpunt dat handelsoorloë “maklik is om te wen” en dat hy terugkrabbel van sy belofte om verbruikers enige pyn (deur ’n handelsoorlog) te besorg.

Die nuwe stel invoertariewe wat aan die einde van Augustus intree, sal die prys van alles van bofbalhandskoene tot handsakke tot digitale kameras verhoog – op ’n tydstip wat kiesers na die stembus gaan.

Onregverdige praktyke

Amerika het gevoel hy het geen ander keuse as om voort te gaan met nuwe tariewe nie nadat China nie gereageer het op die administrasie se voorbehoude oor onregverdige handelspraktyke en Beijing se misbruik van Amerikaanse intellektuele eiendom nie.

Tot dusver verwerp Amerika ’n aanbod van China om sy massiewe handelsurplus met Amerika te verklein deur meer Amerikaanse goedere te koop. Amerika dring aan op meer sistemiese veranderings.

“China het nie sy gedrag verander nie – gedrag wat die toekoms van die Amerikaanse ekonomie in gevaar stel,” het Robert Lighthizer, Amerika se minister van handel, gesê.

Hoewel die handelsoorlog se uitwerking op die November-verkiesing ’n kwelling vir Trump is, sal ’n handelsoorlog veel groter probleme vir Xi beteken. Sy kommunistiese party het sy reputasie op ekonomiese sukses gebou.

Prominente akademici en sommige staatsamptenare in China begin bevraagteken of sy ekonomiese groei, wat aan die verlangsaam is en baie afhanklik van handel is, ’n volgehoue aanslag van Trump sal kan weerstaan.

Meer oor:  Donald Trump  |  Xi Jingping.  |  China  |  Amerika  |  Handelsoorlog  |  Invoertariewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.