Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Handelsvrede wink glo tussen VSA en China

Ná 17 maande van die oor-en-weer-verhogings van invoertariewe tussen Amerika en China is ’n handelsooreenkoms tussen dié twee lande reg om onderteken te word, berig Sky News.

Volgens Bloomberg het pres. Donald Trump dit reeds onderteken. Hy het reeds enkele ure voor berigte hieroor getwiet dat die onderhandelings op die punt is om afgehandel te word.

Hy het die boodskap gestuur net voordat die aandelemarkte op Wall Street geopen het.

Dit is nie die eerste keer dat hy die hoop laat opvlam dat dit die einde van sy handelsoorlog met die wêreld se naasgrootste ekonomie is nie. Daar het egter elke keer dadels van gekom.

“(Ons is) baie naby aan ’n groot ooreenkoms met China. Hulle wil dit hê en ons ook!” het Trump getwiet.

CNBC berig dat besonderhede van die ooreenkoms later Vrydag bekend gemaak sal word.

Die ooreenkoms sal waarskynlik keer dat Trump Sondag sy planne deurvoer om tariewe op Chinese gebruiksartikels ter waarde van $160 miljard te hef.

China het reeds gesê dat hy op Sondag se beplande tariefverhoging sou reageer deur op sy beurt tariewe op speelgoed, koring, mielies, klein vliegtuie en Amerikaans vervaardigde motors in te stel.

Aandele op Wall Street het ’n rekordhoogte bereik wat daarop dui dat mense glo die handelsoorlog tussen die twee lande is verby, berig die BBC.

Daar is na bewering ooreengekom dat Amerika sy tariewe op goedere van sowat $350 miljard sal halveer. China sal in ruil hiervoor meer Amerikaanse landbouprodukte koop.

Fase 1 van die ooreenkoms sal na verwagting nie van die groter kwessie oplos wat tot die handelsoorlog aanleiding gegee het nie, soos China se subsidies aan sekere nywerhede.

“Maar dis ’n goeie vertrekpunt,” het Myron Brilliant, hoof van internasionale sake by die Amerikaanse kamer van koophandel, gesê.

Jennifer Hillman, senior lid van die raad op buitelandse betrekkinge en voorheen ’n handelsamptenaar, het gesê die ooreenkoms kom nie naby sy aanvanklike oogmerke nie.

“Dit kan nie eintlik as ’n handelsooreenkoms beskryf word nie. Dit is ’n koop-en-verkoop-ooreenkoms en verander niks aan Amerika se kommer oor handelspraktyke in China nie.”

Trump se erkenning dat Amerika graag ’n ooreenkoms wil hê, dui daarop dat hy van mening verander het. Hy het tot dusver herhaaldelik gesê China het die ooreenkoms nodiger as Amerika, berig CNBC.

Sonder die ooreenkoms word verwag dat Amerika se ekonomiese groei volgende jaar sowat 0,4% laer sal wees terwyl Trump ’n verkiesing veg en hom roem op ’n groeiende ekonomie.


Meer oor:  China  |  Vsa  |  Handelsoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.