Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Harambee help talle jong mense werk kry

Slegs een uit elke vyf jong mense in Suid-Afrika slaag daarin om werk vir langer as drie maande te kry en een uit elke vier kry werk wat selfs nog korter van duur is, het die werkplasingsagentskap Harambee bevind.

Hartley Gentleman van Khayelitsha. Hy sny hare om geld te verdien. Foto: Liesl Peyper

Die agentskap, ’n organisasie sonder winsoogmerk (NPO), het ’n ontleding onder 150 000 werksoekers gedoen en sy bevindings is gestaaf deur maatskappydata van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Die SAID se syfers toon net 50% van die jaarlikse geregistreerde poste is van jaar tot jaar stabiel.

Hieruit blyk dat permanente werk ontsettend beperk is in die land. Tydelike werkgeleenthede word boonop gekenmerk deur laer salarisse en word betrek deur jong mense met minder kundigheid en ervaring.

Die navorsing toon egter selfs ’n geringe mate van werkondervinding verdubbel ’n werksoeker se kans om in diens geneem te word.

Chloe Bodkin van Atlantis het verlede jaar matriek geskryf. Sy wil ’n arbeids- of skoonheidsterapeut word. Foto: Liesl Peyper

Pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, het in hul Februarie-toesprake in die parlement gesê vennootskappe met die private sektor speel ’n sleutelrol om vordering te kan maak met die werkloosheidsprobleem.

Een so ’n vennootskap is met Harambee, wat jong mense help om werk te kry. Benewens die uitplasings by geskikte werkgewers bied Harambee ook werksessies aan om jong mense gereed te maak vir die arbeidsmark.

In die afgelope nege jaar het Harambee meer as 725 000 werksoekers (wat andersins die risiko sou loop om op lang termyn werkloos te wees) ondersteun met 165 000 poste en geleenthede om werkervaring op te doen by meer as 500 sakeondernemings.

Een van hulle is die 23-jarige Yamkela Tyira van Nyanga in Kaapstad wat ná ’n kort oorbruggingskursus by Harambee tydelik werk gekry het by ’n inbelsentrum. “Harambee het my geleer hoe om werk te soek, hoe om werknemers te benader en hoe my CV moet lyk. Maar wat vir my die meeste beteken het, is dat ek ná die kursus nie meer skaam is om voor mense te praat nie,” sê hy.

Yamkela Tyira (23), wat ná ’n werkskontrak van drie maande opnuut sonder werk is. Foto: Liesl Peyper

Nog ’n 23-jarige, Hartley Gentleman van Khayelitsha, het vir drie maande werk gehad. Nou verdien hy ’n inkomste deur hare te sny en hy help soms sy oupa wat skoolkinders rondry terwyl hy vaste werk soek.

Harambee is ook ’n goeie wegspringplek vir afgestudeerde matrikulante wat die arbeidsmark moet betree. Die 19-jarige Chloe Bodkin van Atlantis in die buitewyke van Kaapstad kry tans Microsoft-opleiding by Harambee. “My eerste prioriteit is om ’n werk te kry. Maar ek hoop om eendag ’n arbeidsterapeut te word – of as dit nie uitwerk nie, miskien ’n skoonheidsterapeut.”

Mboweni het in sy begrotingsrede gesê die regering het aan die einde van September 2019 reeds R9 miljard aan die tesourie se werkfonds bewillig terwyl die private sektor hom verbind het tot ’n verdere R14 miljard.

Luidens die jongste syfers wat Statistieke Suid-Afrika bekend gemaak het, is 52,5% van mense tussen die ouderdomme van 15 tot 35 werkloos. Vir mense tussen 15 en 24 jaar is dié syfer 70%.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.