Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hebsug maak SA hawens so swak

Die departement van openbare ondernemings se versuim om ’n onafhanklike haweowerheid daar te stel, is die rede waarom Suid-Afrika se hawens as die ondoeltreffendste ter wêreld beskou word, sê Jan Scheepers, ’n sakeman en hawekenner.

Die Kaapse hawe – een van die vyf swakstes ter wêreld, wys ’n nuwe ranglys van die Wêreldbank. Foto: Jaco Marais

“Omdat daar nie ’n onafhanklike haweowerheid is nie, is ons hawens nie mededingend nie.”

Die Wêreldbank en IHS Markit, ’n ontledingsmaatskappy, het die afgelope week ’n verslag uitgereik oor hoe doeltreffend hawens skeepsvrag hanteer. Suid-Afrika se hawens beklee saam met Luanda in Angola die vyf onderste plekke op ’n lys van 351 hawens.

Kaapstad is 347ste, Gqeberha (Port Elizabeth) 348ste, Durban 349ste en die Ngqura-vraghouerterminus (ook in Gqeberha) is heel onderaan die lys.

Plaaslike hawens is selfs swakker as dié elders in Afrika, soos in Djiboeti, Abidjan in die Ivoorkus, Beira en Maputo in Mosambiek, Walvisbaai in Namibië, Dar es Salaam in Tanzanië en Mombasa in Kenia.

“Suid-Afrika se hawens se plek op die ranglys is nie ’n verrassing nie,” sê Scheepers.

Hy is direkteur van Siyakhuphuka Investment Holdings, wat in ’n hofgeding met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Transnet en die haweowerheid gewikkel is.

“Die ministers en die gebrekkige toesig oor hul doen en late is die rede vir die Wêreldbank se bevindings,” sê Scheepers.

Luidens ’n navorsingsverslag van 2017 moet die nasionale haweowerheid as ’n afsonderlike maatskappy met sy eie bankrekening en direksie funksioneer. Die owerheid se inkomste moet tot voordeel van die land se kommersiële hawens aangewend word.

Transnet het sy hande in die kasregister van die haweowerheid en wend die entiteit se geld na willekeur aan.
Jan Scheepers, sakeman

Maar die haweowerheid word bedryf as ’n afdeling van Transnet en die ministers ignoreer die aanbevelings in die verslag – dat die haweowerheid as ’n afsonderlike maatskappy geïnkorporeer word.

“Transnet het sy hande in die kasregister van die haweowerheid en wend die entiteit se geld na willekeur aan. Die oorvloedige geld van die haweowerheid is eintlik ’n spaarvarkie vir Transnet, wat miljarde rande kwyt is weens staatskaping,” sê Scheepers.

Luidens die Wêreldbank se verslag is die Oos-Asiatiese hawens se vraghouerterminusse die beste ter wêreld. Jokohama in Japan is in die eerste plek, gevolg deur die Koning Abdoellah-hawe in Saoedi-Arabië en dan Qingdao in China.

Die vertoning van die hawens word onder meer gemeet aan hoeveel minute dit vat om vraghouers op- en af te laai. In Jokohama neem dit gemiddeld 1,1 minute, maar in Afrika-hawens drie keer soveel – tot gemiddeld 3,6 minute.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het aan Rapport gesê die Kaapstadse hawe laai nou 20 vraghouers per uur op en af, wat neerkom op gemiddeld drie minute. Dit is ’n raps beter as die 3,3 minute van April tot Junie 2020 toe Covid-19 en die inperking aktiwiteite in die hawe aan bande gelê het.

Volgens Maynier is die verslag van die Wêreldbank juis saamgestel toe die situasie in die Kaapstadse hawe kritiek was weens die pandemie.

Suid-Afrikaanse hawens word al jare lank verwaarloos. Uitgediende en flenters infrastruktuur en toerusting en personeeltekorte veroorsaak opeenhopings en onderbrekings.

“Skepe vermy die Kaapstadse hawe of moet sewe dae wag voordat hulle kan anker. Dit het ’n nadelige uitwerking op ondernemings regoor die hele waardeketting wat van die hawe se logistiek afhanklik is,” sê Maynier.

Hy het vroeër aan Rapport gesê die Kaapstadse hawe het dringend minstens vier rubberbandstellasies nodig en ’n hyskraan in sy hoofvraghouerterminus, asook kleiner toerusting soos karweiers.

Ander fokusareas wat sal help om die doeltreffendheid en mededingendheid van die Kaapstad-hawe te verbeter is om binnelandse terminusse te vestig van waar vrag per spoor na hawens vervoer kan word, sê Maynier.

Die stand van die hawens het ’n uitkringeffek op invoerders en uitvoerders wat sukkel om bestellings na te kom en hul voorraad aan te vul. Die Wes-Kaap se grootste uitvoerproduk is vars vrugte, waarvan die volume beduidend geklim het danksy nuwe, hoëgehalte-variëteite.

“Hierdie uitvoerders word negatief geraak weens die langer omkeertyd in hawens,” sê Maynier.

Intussen erken Transnet Suid-Afrika se besteding aan hawe-infrastruktuur oor die afgelope tien jaar was ver onder dié van Afrika-lande soos Djiboeti, berig The Mercury. Die situasie sal egter verander noudat planne aangekondig is om opknappings van meer as R100 miljard spesifiek in die Durbanse hawe van stapel te stuur.

Maynier het gekla omdat die nasionale regering nie dieselfde vir die Kaapstad-hawe doen nie.

“Ons het ’n hawetaakspan op die been gebring om oplossings te kry vir die probleme – soos die onvermoë om groot volumes vrag te kan hanteer, maar die hawetaakspan kan die probleme nie op sy eie oplos nie. Die nasionale regering moet betrokke raak,” sê Maynier.

Volgens Scheepers is die planne vir moderniserings wat die regering en Transnet aangekondig het egter onregmatig. “Die Wet op Hawens bepaal dat alle planne vir ontwikkelings en uitbreidings juis deur ’n onafhanklike haweowerheid opgestel moet word sonder inmenging van Transnet.”

Meer oor:  Hawens  |  Wêreldbank  |  Infrastruktuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.