Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Help gou, vervaardiging in SA is in ’n krisis
Dean Macpherson, DA-LP.

Daar is nie ’n maklike manier om die realiteit van die situasie mis te kyk wat blyk uit die jongste syfers oor vervaardiging, produksie en verkope wat die afgelope week bekend gestel is nie.

Statistieke wys die volume van vervaardiging het op ’n jaargrondslag gekrimp. Dit is sleg vir werkverskaffing, dis sleg vir die ekonomie en sleg vir die land. En die toekoms lyk nie veel beter nie. Die verwagting is dat vervaardiging vir die jaar met 1% gaan inkrimp.

Die probleem is dat die afname in vervaardiging ’n sluipende probleem is waaraan daar vir ’n lang tyd nie aandag geskenk is nie.

Die feit is dat die BBP tussen 1994 en 2016 gekrimp het van 21% tot 13%. Op sy beste het 3 miljoen mense in die vervaardigingsektor gewerk. Vandag is dit 1,7 miljoen mense, oftewel 11% van die nasionale arbeidsmag.

Daarom moet ’n mens vra, hoe het die regering toegelaat dat dinge in dié sektor so verval?

Die antwoord lê in die ideologiese Battleship-speletjie binne die ANC waarin elke faksie voortdurend probeer om die ander se idees oor ekonomiese groei te kelder.

Deur die jare het dit gelei tot ’n aaklige, onverstaanbare en onsamehangende beleidstelsel ten opsigte van nywerheidsontwikkeling.

Op die oomblik sit ons met die departement van handel en nywerheid se voorste projek, die nywerheidsbeleidsaksieplan (Ipap), in sy negende gedaante.

Die antwoord lê in die ideologiese Battleship-speletjie binne die ANC waarin elke faksie voortdurend probeer om die ander se idees oor ekonomiese groei te kelder.
Dean Macpherson

Dan is daar die departement van ekonomiese ontwikkeling se veelbesproke New Growth Path, waarvan ’n mens maar min resultate sien, en die regering se ekonomiese wondermiddel vir alles, die Nasionale Ontwikkelingsplan én die ANC se nuwe troefkaart, radikale ekonomiese transformasie.

Soveel planne, en elkeen probeer die ander troef.

As jy ’n belegger is wat geld wil belê in ’n fabriek in Suid-Afrika, hoe sal jy sin maak uit al dié planne? Dis onmoontlik.

Die een plan waarvoor ek Rob Davies, minister van die departement van handel en nywerheid, krediet sal gee, is die aansporingsprogram vir vervaardigingsmededingendheid (MCEP) wat meer as R5 miljard se aansporings gegee het om sekere bedrywe te help om internasionaal mededingend te bly ten opsigte van vervaardiging.

Hierdie inspuiting in die vervaardigingsektor het wonderlike resultate gelewer, veral ten opsigte van landbouverwerking. Baie poste is geskep of behou danksy dié inisiatief.

Maar die geld is ongelukkig opgebruik sonder dat enige langtermynverbintenis gemaak is om die plaaslike bedryf te ondersteun. Dít ondanks my herhaalde versoeke dat die minister en die tesourie nog geld beskikbaar stel.

Ons weet aansporings werk. ’n Mens hoef maar net te kyk na die motorvervaardigingsbedryf om te verstaan hoe suksesvol ’n vennootskap tussen die regering en die private sektor kan wees.

Dié sektor lewer egter minder as 1% van die wêreldwye motorproduksie vir BMW en Mercedes. Ons moet daarna streef om dit 2% te maak. Dit is binne ons bereik.

Die waarheid is dat ons die vermoë het om as ’n land in sekere sektore ’n groot rolspeler in die vervaardigingsbedryf te wees. Maar wat ons nodig het, is ’n regering wat bereid is om te sit en te luister na die mense wat in elke bedryf werk. Ons het ’n regering nodig wat hul lewe makliker maak en wat die omgewing waarin hulle werk, aantrekliker maak vir beleggings.

Ons kan eenvoudig nie bekostig om enige werksgeleenthede te verloor nie of om ’n verdere afname in vervaardiging te ervaar nie.

Dit is waarom ek die parlement gevra het om leiding te neem en openbare verhore oor vervaardiging te hou sodat ons van die sakelui in die vervaardigingsektor self kan hoor wat ons meer kan doen.

Die ANC in die parlement moet net die moed hê om my versoek te behandel met die erns wat dit verdien en om dringend sulke openbare verhore te ­reël.

Die erns van die situasie vereis dat ons daadwerklik moet optree soos Suid-Afrikaners met reg van hul openbare verteenwoordigers verwag. Enigiets minder as dit sal lei tot verdere verliese aan werksgeleenthede en ’n verdere ­afname in vervaardiging.

  • Dean Macpherson is ’n parlementslid vir die DA en woordvoerder oor handel en nywerheid.
Meer oor:  Dean Macpherson  |  Ekonomiese Groei  |  Vervaardiging  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.