Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Herstelplan: 'Staat se rol is steeds te sentraal'

Die uitgebreide en sentrale rol van die staat is een van die belangrikste punte van kritiek teen die regering se ekonomiese herstelplan post-Covid-19.

Pres. Cyril Ramaphosa

“Die plan het die verkeerde uitgangspunt omdat die staat se rol sentraal is as werkskepper en in ekonomiese herstel, terwyl hy eintlik die struikelblok is,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

Dit is eerder ’n regeringsuitbreidingsplan en dit laat hom wonder wat organisasies soos Business Unity South Africa (Busa) en Business for South Africa (B4SA) binne Nedlac onderhandel het om die rol van die private sektor in die ekonomie te vergroot, sê Le Roux. Hy sal self aan dié twee organisasies skryf om te hoor waarop hulle afgeteken het in die plan en watter kompromieë hulle binne Nedlac moes aangaan.

“Dit is eintlik ondenkbaar dat die plan die onvoorwaardelike steun van sakegroepe sou kon geniet.”

Volgens pres. Cyril Ramaphosa wys die tesourie se modelle die uitvoering van die plan sal ekonomiese groei in die volgende tien jaar tot gemiddeld 3% per jaar opstoot.

Van die belangrikste elemente in die plan is om:

  • Genoeg en betroubare kragvoorsiening binne twee jaar te verseker;
  • In die afsienbare toekoms meer as 800 000 werksgeleenthede te skep;
  • Infrastruktuurbelegging van meer as R1 000 miljard oor die volgende vier jaar te ontsluit;
  • Datakoste vir elke Suid-Afrikaner te verlaag en beskikbaarheid van breëband na lae-inkomste-huishoudings uit te brei;
  • Die plaaslike vervaardigingsektor te laat herleef deur lokalisering (meer produkte word plaaslik vervaardig eerder as om dit in te voer) en uitvoergeleenthede; en
  • Nuwe lewe in kwesbare sektore soos toerisme te blaas.

Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual Investment Group, sê die plan bevat enkele prysenswaardige aspekte soos massiewe infrastruktuuringryping en planne vir nywerheidsgroei, maar die meeste inisiatiewe is nie nuut nie. Hy sou ’n fermer en meer vasbeslote toespraak wou hoor wat nodig is om die ekonomie uit die as te lig. “Daar is nie uitsonderlike maatreëls nie en nie ’n ekonomiese plan om te doen wat ook al nodig is soos die president vroeër beloof het nie.”

Els meen Ramaphosa se hernieude verbintenis tot die stryd teen korrupsie en die onderneming dat daar geen politieke inmenging met besluite van die nasionale vervolgingsgesag sal wees nie, is positief en kan vertroue herstel. Volgens hom sal dit bydra tot beter groei as die gemiddeld van 0,8% wat ons die afgelope paar jaar gesien het. Daar is egter vraagtekens oor stimulusmaatreëls vir werkskepping, juis omdat die staat sy salarisrekening moet besnoei.

Business Leadership SA (BLSA) meen massawerkskepping is ’n haalbare doelwit omdat ’n groot deel daarvan ’n uitbreiding van bestaande projekte onder die regering se uitgebreide openbarewerkeprogram (EPWP) is.

Nedbank se ekonomiese eenheid sê mens moet in gedagte hou dat dié werksgeleenthede nie permanent of voltyds is nie en werkers word minder as die minimum loon betaal.

Dit is eerder ’n manier om werkers ’n vastrapplek in die arbeidsmark te gee deur hulle met vaardighede en werksondervinding toe te rus sodat hulle permanente poste kan kry.

Volgens Nedbank moet die Sentrum vir Ontwikkeling en Ondernemerskap (CDE) se aanbevelings van doeltreffender maniere om werkloses by die formele arbeidsmark te betrek ernstig oorweeg word. Dit behels onder meer dat uitvoernodes gevestig word waar sekere arbeidsregulasies aangepas word sodat private ondernemings minder as minimum loon kan betaal terwyl werkers ’n wyer reeks vaardighede aanleer en goedere vir die uitvoermark vervaardig.

Volgens BLSA kom volhoubare indiensneming van ’n produktiewe, mededingende sakesektor. Dít is die enigste volhoubare langtermynoplossing vir die land se werkloosheidskrisis. “Ongelukkig sê die plan min oor hoe om groter werkskepping in die private sektor te stimuleer. Die krisis van 2 miljoen mense wat hul werk weens Covid-19 verloor het, is nie iets wat die staat alleen kan oplos nie.”

Peter Attard Montalto van Intellidex sê in ’n nota die plan moes oortuig dat dit uitgevoer sal word, maar in daardie opsig het dit misluk.

“Die beleidsinhoud is breedweg aanvaarbaar, maar die gebeurtenis herinner aan ’n herhaling van die staatsrede in Februarie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.