Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hier is werkloosheid nou die ergste
Werkloosheid is bitter hoog in die Oos-Kaap, ook in dele van die voormalige Transkei. Foto: Marelize Barnard

Die Oos-Kaap ly onder die ergste werkloosheid in die land, terwyl swart vroue as rassegroep ook die swaarste kry. Hierteenoor sukkel Wes-Kapenaars en wit vroue die minste om werk te kry, volgens Statistieke Suid-Afrika se werkloosheidsyfers vir die tweede kwartaal.

SSA kon toor met die werkloosheidsyfers om uit te kom by ’n daling in die amptelike werkloosheidskoers tot 23,3% in die tweede kwartaal.

Maar die harde werklikheid is dat 2,2 miljoen mense meer oor die hele land nie meer in die tweede kwartaal werk gehad het nie, en die groep mense wat ekonomies onaktief is, het met 5,2 miljoen toegeneem.

Die bevolking in die ouderdomsgroep 15 tot 64 was in die eerste kwartaal sowat 38,9 miljoen en in die tweede kwartaal 39 miljoen.

In die eerste kwartaal het 16,4 miljoen mense amptelik werk gehad, maar dit het in die tweede kwartaal – grootliks weens die regering se Covid-19-inperking – met 2,2 miljoen tot 14,1 miljoen gekrimp.

Die mense wat amptelik werkloos was, d.w.s. wat aktief werk soek en nie werk kan kry nie, het van 7,1 miljoen in die eerste kwartaal tot 4,3 miljoen in die tweede kwartaal gekrimp, grootliks omdat dit bloot nie moontlik of die moeite werd was om tydens die inperking werk te gaan soek nie. Dit is hierdie daling waarop die SSA steun om ’n tegniese daling in die amptelike werkloosheidsyfer te kan aanteken.

Die kategorie vir ontmoedigde werksoekers het ook van 2,9 miljoen tot 2,5 miljoen afgeneem.

Maar die skoksyfer is dat die oorblywende ekonomies onaktiewe bevolking van die eerste kwartaal se 12,5 miljoen met ’n hele 5,6 miljoen tot 18,1 miljoen geswel het.

LEES OOK: Werkloosheid skiet op tot 42%

werkloosheid
   

Covid-19 se effek

Risenga Maluleke, statistikus-generaal, het Dinsdag gesê die Covid-19-inperking het die instelling genoop om die tweede kwartaal se arbeidsmagpeiling via rekenaargesteunde telefoononderhoude te doen omdat data-insamelaars nie die mense fisiek kon besoek nie.

Maluleke het op ’n aanbieding oor die werkloosheidsyfers gesê dit is nie net ’n Suid-Afrikaanse verskynsel dat die ekonomies onaktiewe bevolking in dié tyd gegroei het nie. Volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie was daar weens die effek van die pandemie in die meeste lande, behalwe in Kanada en Amerika, groot toenames in dié kategorie.

Wes-Kaap het laagste werkloosheid

Wat provinsies betref, is die hoogste werkloosheidskoerse in die tweede kwartaal in die Oos-Kaap – met ’n amptelike werkloosheidskoers van 36,9% en ’n uitgebreide werkloosheid van 52,8% – aangeteken.

Ander provinsies het hoë uitgebreide werkloosheid en ’n reuse-verskil tussen die amptelike en uitgebreide syfers sluit in Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Noordwes, Limpopo en die Noord-Kaap.

Die Wes-Kaap het die kleinste uitgebreide werkloosheidskoers teen 27,3%, asook op een na die laagste amptelike werkloosheidskoers op 16,6%. Mpumalanga se amptelike werkloosheidskoers was die laagste op 13,3%, maar dit is bloot tegnies en kan met ’n groot knippie sout geneem word weens die inperking wat veel minder mense aktief laat werk soek het.

Swart vroue kwesbaarste

Maluleke sê werkloosheid onder swart mense is met ’n koers van 26,3% teenoor die 19% van bruin mense, 14,4% van Indiërs en net 6,1% van wit mense steeds hoër as die nasionale gemiddelde.

Verder is swart vroue met ’n werkloosheidskoers van 28,2% die kwesbaarste. Die groep met die laagste werkloosheid is wit vroue met 5,6%.

werkloosheid
Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Werkloosheid  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Inperking  |  Qlfs2002  |  Ssa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.