Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hierdie bedrywe kan poste verloor

Meer as 1,6 miljoen poste in die formele sektor kan verlore gaan weens die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika en as informele werkers en huiswerkers ingereken word, kan die syfer met nog sowat 1,5 miljoen styg.

Dít is die skoksyfers wat die onafhanklike ekonoom Mike Schüssler bereken het op grond van die jongste kwartaallikse indiensnemingspeiling van Statistieke Suid-Afrika.

LEES OOK: Formele sektor kan miljoene poste verloor

Teen einde Desember het 10,2 miljoen mense in die formele sektor gewerk, maar Schüssler verwag ná ’n maand van die nasionale inperking kan 1,67 miljoen poste teen die einde van die tweede kwartaal verlore wees. Van die poste sal dalk eers in die derde kwartaal se peiling wys.

As die inperking egter langer as ’n maand duur, kan daar vir elke week langer minstens nog 80 000 tot 100 000 poste verlore gaan.

Hy verwag wel die indiensneming kan goed herstel as die inperking nie langer as ’n maand voortduur nie en baie van dié poste kan dan teen die vierde kwartaal weer terug wees.

werkloosheid

Hier is Schüssler se vooruitskatting.

Hotel- en restaurantbedryf

Teen einde Desember was daar 330 385 poste in dié bedryf, maar die meeste van dié poste is in gedrang en sowat 75% kan binne ’n maand van nou af verdwyn.

Kleinhandel

Die kleinhandelsektor het 976 195 mense in diens en sowat 40% van hulle kan binne die volgende maand sonder werk wees. Die subsektore wat in groot moeilikheid is, is die klere-, musiek- en speelgoedwinkels, asook meubel- en linnewinkels.

Groothandel

Die groothandel gee werk aan 623 000 mense en sowat ’n kwart van die poste kan verlore gaan, veral in die sektore wat aan restaurante, meubel-, klere- en speelgoedwinkels lewer.

Boubedryf

Die meeste van die bedryf se 575 000 poste kan verlore gaan, want die bedryf was reeds voor die pandemie op sy knieë en het geen reserwes oor nie.

Vervaardiging

Die vervaardigers van meubels, klere, skoene, elektriese toerusting en konstruksietoerusting sal die impak voel en Schüssler verwag ’n verlies van sowat 130 000 poste. Later kan motorvervaardiging ook onder druk kom, asook uitgewers en vervaardigers van televisies en soortgelyke elektroniese goedere.

Mynbou

Goudmyne uitgesluit, is daar 357 000 poste in die mynbedryf wat reeds deels gesluit is en sowat 20% van die oorblywende poste kan verlore gaan.

Landvervoer

In vragvervoer werk sowat 30% van die mense nog, maar dit kan effens meer wees, vermoed Schüssler. Al hoe meer buurlande sluit egter hul grense vir selfs voedselvervoer, soos Zambië, en sowat 25% van die landvervoersektor se 224 200 poste kan verlore gaan.

Lugvervoer

Die lugvervoersektor het 22 935 regstreekse poste waarvan 90% in passasiersvervoer werk en al hierdie poste is in gedrang.

Ondersteunende vervoerdienste

In hierdie sektor werk 149 581 mense en sowat 30% van hul poste word bedreig. Dit is mense soos reisagente, lughawepersoneel en vliegtuigskoonmakers.

Motorhandel

Motorverkope kan val tot die laagste vlak sedert die 1980’s. Vulstasies verkoop minder brandstof. Die sektor het 375 000 poste waarvan die helfte verlore kan gaan.

Eiendom

In onseker tye soos tans is huisverkope onwaarskynlik, so sowat 60% van die 186 225 poste in die eiendomsbedryf is in gevaar.

Maatskaplike dienste

Nieregeringsorganisasies wat maatskaplike dienste lewer gee werk aan 48 238 mense, maar die sakeondernemings wat gewoonlik dié instansies met skenkings sou ondersteun, is nou self onder druk.

Meer oor:  Mike Schüss­Ler  |  Werkskepping  |  Ekonomie  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.