Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Histories lae inflasie beteken nié laer rentekoers kom

Die inflasiekoers vir 2020 was die laagste in 16 jaar en die tweede laagste in 51 jaar, maar dit beteken nie mense met skuld kan Donderdag ’n verlaging in die rentekoers verwag nie.

Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Foto: Getty Images

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Woensdag bekend gemaak dat inflasie in 2020 net 3,3% was. Dis die laagste sedert 2004 se 1,4% en die tweede laagste sedert 1969 se 3%.

Die strenger inperkingsregulasies wat sedert Desember geld, sal inflasie waarskynlik nog ’n hele paar maande laag hou, reken Nicky Weimar van Nedbank se ekonomiese eenheid. Die bank verwag wel dat inflasie in Mei sy hoogtepunt vir die jaar sal bereik, grootliks weens die basisuitwerking van 2020 se rekordlae inflasiekoerse – in Mei 2020 was inflasie te midde van die vlak 5- en 4-inperkings net 2,1%.

Dit gaan waarskynlik nie genoeg wees om die Reserwebank oor te haal om die rentekoers Donderdag te verlaag nie, volgens Weimar.

Luigi Marinus, portefeuljebestuurder by PPS Investments, reken egter die inperkings in die tweede vlaag van die Covid-19-infeksies behoort baie swaar in die rentekoersbesluit te weeg. “Hoewel baie gesê en geskryf is oor die doeltreffendheid en beskikbaarheid van entstowwe, is dit steeds onseker wanneer ’n groot genoeg deel van die Suid-Afrikaanse bevolking dit sal ontvang.

“Die mees onlangse groeiverwagtinge vir Suid-Afrika is onindrukwekkend vergeleke met wêreldverwagtinge en teen dié agtergrond, tesame met wat lyk na volgehoue lae inflasie, is dit moeilik om te sien waarom die monetêrebeleidskomitee nie rentekoerse sal verlaag nie.”

Die Reserwebank beklemtoon keer op keer hy in sy rentekoersbesluite nie terugskouend na inflasie kyk nie, maar eerder 18 tot 24 maande vooruit na inflasieverwagtinge kyk.

Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, reken die Reserwebank het wel ruimte om die rentekoers verder te verlaag nadat dit in 2020 reeds met drie persentasiepunte verlaag is. Daar is egter risiko’s vir die inflasievooruitsig wat die bank kan noop om rentekoerse onveranderd te laat. Dit sluit benewens skerp stygings in kospryse die styging in die olieprys in.

Die vakverbond Cosatu het die Reserwebank Woensdag uitgedaag om rentekoerse te verlaag.

Matthew Parks, Cosatu se parlementêre koördineerder, sê dis basies die enigste oorblywende manier om die ekonomie te help herstel.

“Al die regering se ekonomiese en maatskaplike verligtingsmaatreëls is effektiewelik beëindig. Om die waarheid te sê was sommige daarvan meer hersenskimme as werklikheid. Handelsbanke se beperkte betaalvakansies van drie maande, waartydens rente opgehoop het, was niks meer as ’n bespotting nie.”

Hy sê as die rentekoers nie verlaag word nie, word enige kans op ekonomiese herstel in die wiele gery.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, het egter vroeër die week gesê verdere rentekoersverlagings sal nie veel doen om ekonomiese groei te versnel nie.

Meer oor:  Rentekoers  |  Kospryse  |  Inflasie  |  Skuld  |  Repokoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.