Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hoe Ekonoom van die Jaar jóú kan help

Gaan die rentekoers vanjaar styg of daal? Hoeveel moet jy vir kos en petrol begroot? Gaan die rand versterk of verswak voordat jy daardie oorsese vakansie beplan? Dis enkele van die vrae wat jy meer ingelig sal kan beantwoord as jy dophou wat deelnemers aan die Ekonoom van die Jaar-wedstryd voorspel.

    

Gaan die rentekoers vanjaar styg of daal? Dit lyk asof ekonome reken dit gaan onveranderd bly. Foto: iStock

Die pas van inentings, of die staat daarin kan slaag om lae salarisverhogings vir staatsamptenare te beding, en Eskom – sowel sy skuldlas as onbetroubare kraglewering.

Dis die drie risiko’s vir Suid-Afrika se ekonomie, die rand en rentekoerse in 2021 wat die meeste van die ekonome uitlig wat vanjaar aan Netwerk24, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie deelneem.

Die kompetisie word vir die 33ste keer aangebied en 36 ekonome neem vanjaar deel, sewe van hulle vroue. Sien lys en foto’s onderaan die artikel. Dit sluit welbekende en gereelde deelnemers soos Annabel Bishop, Mike Schüssler, prof. Jannie Rossouw, Fanie Brink, dr. Roelof Botha en Lullu Krugel in, asook enkele nuwe deelnemers.

Akademici, verteenwoordigers van banke en batebestuursfirmas asook konsultante en onafhanklike ekonome het ingeskryf. Dit verseker dat lesers deur die loop van die jaar ’n wye verskeidenheid sienings en voorspellings sal kry, van swartgallig tot sonnig. Lees ook ekonome se sienings oor 2021 hieronder.

Die kompetisie is vanjaar effens aangepas en gaan ook anders weergegee word sodat lesers dit makliker kan interpreteer en toepas wanneer hulle besluite oor hul eie geldsake, hul ondernemings of as werknemers van groot maatskappye moet neem oor beleggings, uitbreidingsplanne en skuld.

Die ekonome word gevra om agt veranderlikes te voorspel. In 2022, wanneer al die 2021-data bekend is, sal die wenner van die kompetisie die persoon wees wat deurgaans die naaste was aan die eindelike syfers. Die persoon is dus die beste voorspeller, iemand goed op die hoogte van ekonomiese ontwikkelinge en die politieke en emosionele faktore wat markte beïnvloed.

Hier is die voorspellings in ’n neutedop, maar dit word ook afsonderlik bekyk.

k

Die wenner vir 2020 – ’n uiters uitdagende jaar omdat die Covid-19-pandemie die ekonomie omvergegooi het – sal later vanjaar aangekondig word.

Prof. Corné van Walbeek van die Universiteit van Kaapstad is vanjaar weer die moderator van die kompetisie. Van Walbeek bestudeer al jare lank die kompetisie en het insig in watter veranderlikes ekonome byna nooit reg kan voorspel nie. Hy sal deurgaans sy indrukke gee oor die voorspellings en die algemene foute wat ekonome maak, uitwys.

Sy rubriek oor die kompetisie, Kan jy glo wat ekonome voorspel?, wat ook vandag gepubliseer word, wys byvoorbeeld dat die rand-dollar-wisselkoers juis een van die dinge is wat moeilik is om vooruit te skat. En tog is dit juis die een ding wat die meeste mense wil weet: Wat gaan die rand maak? 

  

WAT EKONOME NOU VOORSPEL

  

Ekonomiese groei

Die konsensusvoorspelling vir ekonomiese groei vir 2021 is 3,6%, maar dit wissel van Fanie Brink se pessimistiese -2,2% tot dr. Roelof Botha se optimistiese 5,5%.

Die groei word gemeet vanaf die swak bruto binnelandse produk van 2020, toe dele van die ekonomie vir lank gesluit was, en dis dus onwaarskynlik dat groei vanjaar negatief sal wees – maar ’n vernietigende derde vlaag Covid-19-infeksies met vlak 5- of vlak 4-inperkings maak dit beslis nie onmoontlik nie!

Groei was in 2020 -7%, het Statistieke Suid-Afrika Dinsdag bekend gemaak.

  

Verbruikers

Huishoudings se besteding dryf die ekonomie grootliks aan. Verwagtinge vir die groei daarin wissel van Sanisha Packirisamy se 1,4% tot Wilbie Venter se 10,7%, maar die konsensus is vir 3,3%.

Verbruikers se besteding kan vanjaar ondersteun word as hul salarisse met die inflasiekoers of meer styg, as inflasie self laag bly, en as rentekoerse laag bly.

As meer mense hul werk verloor, rentekoerse styg of kospryse skerp begin styg, soos daar inderdaad gevrees word, sal besteding onder druk kom. Strenger inperkings met ’n derde vlaag Covid-19-infeksies sal ook huishoudings se besteding beïnvloed.

  

Inflasie

Voorspellings vir inflasie vir 2021 wissel van Koos Coetzee se 3,4% tot Pieter du Preez se 4,6%, met ’n konsensus van 4,2%. Daar is veral kommer oor kospryse wat skerp kan styg. Inflasie was in Januarie 3,2%.

  

k

Staatseffekte

Die opbrengskoers op staatseffekte is die rentekoers wat die staat op sy skuld betaal. Dus, hoe hoër dit is, hoe groter die risiko dat die staat nie by sy begroting sal kan hou nie.

Ekonome verwag tans dat die opbrengs koers op staatseffekte met ’n termyn van tien jaar of langer gemiddeld tussen 7,6% en 10,9% sal beloop teen einde 2020, met ’n konsensusverwagting van 9,8%. Dis teenoor die 9,96% wat dit in November 2020 beloop het, volgens die Reserwebank se syfers.

  

k
k

Rentekoers

Gaan die rentekoers styg of daal? Dis vir baie mense en ondernemings baie belangrik om te weet omdat hulle besluite wil neem oor huis koop of lenings aangaan. Op die oomblik is die prima rentekoers van banke 7%.

Gerhard Kuhn is die enigste uit die 36 ekonome wat reken die rentekoers gaan vanjaar daal, met 0,25 van ’n persentasiepunt tot 6,75%.

42% van die ekonome reken die rentekoers gaan styg, met die meeste wat ook 0,25 van ’n persentasiepunt voorspel. Daar is egter uitskieters, soos Johan Willemse wat ’n styging van 3,25 persentasiepunte tot 10,25% verwag.

Die meerderheid ekonome, 55%, verwag dat die rentekoers onveranderd sal bly.

Die konsensusraming is 7,3%, wat dus ondanks die meerderheidsiening dui op ’n verhoging, waarskynlik van 0,25 of selfs 0,5.

    

k

Wisselkoers

As jy vanjaar hoop dat Covid-19 oorwaai en jy oorsee kan gaan, is die waarde van die rand vir jou belangrik, maar dit het ook ’n invloed op alles wat jy in Suid-Afrika koop, van brood tot ’n boot. In- en uitvoerders het verskillende sienings van wat goeie nuus oor die rand is, maar baie maatskappye verskans hulle ook teen die verwagte styging of daling van die rand.

Die rand-dollar-wisselkoers is natuurlik nie al geldeenheid van belang nie, maar dit gee wel ’n aanduiding van hoe die rand teen die meeste groot geldeenhede sal vaar.

Ekonome se verwagting van wat ’n dollar teen einde 2021 sal kos, wissel van Waldo Krugell se R14,20 tot Maarten Ackerman se R17. Die konsensusvoorspelling is vir R15,58.

Die rand het op Vrydag 5 Maart, voor ekonome se sperdatum vir voorspellings teen R15,38 per dollar verhandel, maar het sedertdien tot net onder R15 versterk.

  

k

Olieprys

Die olieprys, tesame met die rand-dollar-wisselkoers, bepaal hoeveel Suid-Afrikaanse motoriste vir brandstof betaal.

Die olieprys is uiters sensitief vir politieke faktore en boonop probeer die oliekartel gelei deur Saoedi-Arabië en Rusland, twee van die wêreld se grootste olieprodusente, pryse manipuleer – nie altyd baie suksesvol nie, maar nietemin is dit ’n faktor wat voorspellings bemoeilik.

Die olieprys het in 2020 skerp gedaal omdat so min vliegtuie in die lug of motors op die pad was te midde van inperkings, maar soos ekonomieë heropen, het die prys skerp gestyg. Dit beteken egter nie alle ekonome dink die styging sal voortduur nie.

Brent-ruolie het op 5 Maart $66,97 per vat gekos, maar 27 uit die 36 ekonome, ’n hele 75%, se voorspellings vir einde 2021 is laer as dit. Fanie Joubert voorspel so min as $50 per vat. Lullu Krugel glo die teenoorgestelde gaan waar word en sy voorspel ’n skerp styging tot $78.

Die gemiddelde voorspelling is vir $63,09 per vat, dus laer as die huidige prys – goeie nuus vir motoriste, dalk?

    

Goudprys

Die goudprys is ook ’n barometer van die wêreldekonomie – in tye van onsekerheid styg dit, en goud het dan ook in 2020 met ’n enorme 25% duurder geword. Die goudprys is ook ’n barometer van baie ander hulpbronpryse.

Die twee Joubert-ekonome, Fanie en Ulrich, voorspel albei dat die goudprys einde 2021 tot $1 500 per fynons sal daal, maar Elna Moolman verwag ’n styging tot $2 000. Die konsensus is vir $1 720,50, dus net 1,2% hoër as op Vrydag 5 Maart.

  

JSE se indeks van alle aandele

As ekonome aandeelpryse akkuraat kon voorspel, sou hulle seker almal skatryk gewees het, of hoe?

Ekonomiese veranderlikes soos verbruikers se besteding, ekonomiese groei, die rand, rentekoerse en die olieprys het alles op die een of ander manier ’n invloed op maatskappywinste. Maar daar is ook baie spekulasie en emosionele besluite wat aandeelpryse minstens op kort tot mediumtermyn beïnvloed.

Ons het deelnemers gevra om, bloot vir interessantheid, te voorspel waarheen hulle dink aandele vanjaar gaan beweeg, soos gemeet aan die indeks van alle aandele.

Dis nie ’n verpligte voorspelling nie en 14 ekonome het besluit om liefs nie ’n raaiskoot te waag nie.

Die JSE het op 5 Maart op 68 271 punte gesluit. Altesame nege ekonome is pessimisties en reken die indeks sal 2021 laer afsluit. Die ander 13 reken die indeks gaan styg.

Die voorspellings wissel van Wilbie Venter se 58 000 punte tot Frank Blackmore se 75 425. Die konsensus is vir ’n styging tot 69 039 punte.

       

WAT EKONOME NOU DINK

  

Danie Meyer

Die spoed van inenting in Suid-Afrika sal in ’n groot mate bepaal of ons agter die wêreld gaan raak… en as ons agter raak is die risiko dat ons verder geïsoleer kan word ten opsigte van toerisme, handel, politiek en sport.

ekonoom2103
Elize Kruger, onafhanklike ekonoom
ekonoom2103
Emile du Plessis van Finometrica
ekonoom2103
Fanie Joubert van Unisa
ekonoom
Dr. Francois Stofberg van Efficient Group
ekonoom
Frank Blackmore van EFConsult
ekonoom
Gerhard Kuhn van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie

Chris Harmse

As die regering nie die salarisrekening en uitgawes op vlakke hou waarvoor daar begroot is nie, gaan die skuldlas aansienlik styg, wat tot verdere afgraderings kan lei.

Hugo Pienaar

Die BBP-groeivooruitskatting is besonder moeilik aangesien daar wesenlike opwaartse en afwaartse risiko’s is. Aan die positiewe kant kan die deurspoel van ’n verwagte sterk tweede helfte van 2021 in van ons vernaamste handelsvennote groter as verwag wees. Aan die negatiewe kant is die voortdurende moontlikheid van langdurige beurtkrag en ’n derde Covid-19-vlaag die vernaamste risiko’s.

ekonoom
Hugo Pienaar van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch
ekonoom
Jeff Schultz van BNP Paribas
ekonoom
Prof. Jannie Rossouw van die Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand
ekonoom
Johan Rossouw van Vunani
ekonoom
Johan Willemse van Agrimark Konsultante
ekonoom
Johann Els van Old Mutual

Fanie Joubert

Teen die agtergrond van die enorme negatiewe invloed van die Covid-19 krisis op die internasionale ekonomie, heers daar tans ’n mate van “oor-optimisme” rakende die ekonomiese herstel. Dit is veral sigbaar in sterk stygings (bulmark) in finansiële markte. Die risiko bestaan dat die optimisme oordrewe is, veral wanneer monetêre en/of fiskale stimulusmaatreëls later begin verlangsaam of selfs onttrek word.

Maarten Ackerman van Citadel
Lullu Krugel van PwC
Elna Moolman van Standard Bank
ekonoom
Fanie Brink, onafhanklike ekonoom
ekonoom
Dr. Koos Coetzee, onafhanklike ekonoom

Johann Els

Die belangrikste risiko’s sluit in ’n styging in inflasie (in die wêreld, VSA en SA) wat markte wisselvalliger kan maak ten opsigte van verwagtinge oor die Federale Reserweraad in die VSA se rentekoersbeleid. Die Fed se kommunikasiestrategie sal dus uiters belangrik wees om markte te oortuig dat hulle hoër inflasie sal duld vir ’n tydperk voordat rentekoerse sal begin styg.

Roelof Botha

Indien enige verdere afgradering van Suid-Afrika se staatskuld ’n negatiewe reaksie van institusionele beleggers tot gevolg het, kan die opbrengskoers op 10-jaar-staatseffekte bokant 9% bly. Dit kan ook die wisselkoers van die rand laat verswak, veral indien die handelsbalans weens hoër invoer begin verklein.

ekonoom
Johannes Jordaan van Economic Modelling Solutions
ekonoom
Koenie Malherbe van Marble Rock Asset Management
ekonoom
Pieter du Preez van NKC African Economics
ekonoom
Reuben Beelders van Gryphon Asset Management
ekonoom
Richard Downing van Econdow
ekonoom
Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep

Christo Luüs

Die politieke uitval van korrupsiesake hou ’n risiko in, met ’n negatiewe invloed as die “verontskuldiging” van oudpres. Jacob Zuma en Ace Magashule plaasvind.

Johan Willemse

Die grootste risiko is ANC-beleid soos onteiening sonder vergoeding wat vertroue ondermyn en dus ook investering en uiteindelik dus groei en werkskepping rem.

Die ineenstorting van munisipale dienste en gebrek aan elektrisiteitsvoorsiening vir nuwe uitbreidings dra alles daartoe by dat entrepreneurs nie in dorpe wil investeer nie. Mense beweeg dan uit die dorpe na stede se plakkerskampe en werkloosheid neem toe.

ekonoom
Sanisha Packirisamy van Momentum Investments
ekonoom
Prof. Waldo Krugell van die Skool vir ekonomie aan Noordwes-Universiteit
ekonoom
Wilbie Venter van Unigrain
Mike Schüssler van Economists.co.za
nedbank
Nicky Weimar van Nedbank.
Ulrich Joubert, onafhanklike ekonoom

Koenie Malherbe

Die regering toon gewilligheid, hoewel teen ’n gletser-pas, om Eskom, verreweg die grootste staatsonderneming, te hervorm. ’n Volledige herstrukturering, met die skeiding van take tussen opwekking, transmissie en verspreiding, hou beduidende potensiaal vir alle Suid-Afrikaners in, veral as die regering die gebruik van groenkrag sal ondersteun.

Suid-Afrika kan ’n wêreldleier in die opwekking en uitvoer van goedkoop, skoon energie word terwyl baie lande (soos Australië) hulself posisioneer om die nuwe Saoedi-Arabië, maar van groenkrag, te word.

Suid-Afrika het enorme son- en windbronne… en het die geleentheid om dié unieke geleentheid aan te gryp.

Annabel Bishop van Investec
Prof. Carel van Aardt van die Buro vir Marknavorsing aan Unisa
Prof. Danie Meyer van die Universiteit van Johannesburg
Dr. Chris Harmse van CH Economics
Dawie Klopper van PSG Wealth
ekonoom
Christo Luüs van Ecoquant

  

WIE WIL EKONOOM VAN DIE JAAR WORD?

    

Hier is die 36 deelnemers aan Ekonoom van die Jaar 2021
  • Annabel Bishop van Investec
  • Prof. Carel van Aardt van die Buro vir Marknavorsing aan Unisa
  • Dr. Chris Harmse van CH Economics
  • Christo Luüs van Ecoquant
  • Prof. Danie Meyer van die Universiteit van Johannesburg
  • Dawie Klopper van PSG Wealth
  • Elize Kruger, onafhanklike ekonoom
  • Elna Moolman van Standard Bank
  • Emile du Plessis van Finometrica
  • Fanie Brink, onafhanklike ekonoom
  • Fanie Joubert van Unisa
  • Dr. Francois Stofberg
  • Frank Blackmore van EFConsult
  • Gerhard Kuhn van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie
  • Hugo Pienaar van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan die Universiteit Stellenbosch
  • Prof. Jannie Rossouw van die Besigheidskool aan die Universiteit van die Witwatersrand
  • Jeff Schultz van BNP Paribas
  • Johan Rossouw van Vunani
  • Johan Willemse van Agrimark Konsultante
  • Johann Els van Old Mutual
  • Johannes Jordaan van Economic Modelling Solutions
  • Koenie Malherbe van Marble Rock Asset Management
  • Dr. Koos Coetzee, onafhanklike ekonoom
  • Lullu Krugel van PwC
  • Maarten Ackerman van Citadel
  • Mike Schüssler van Economists.co.za
  • Nicky Weimar van Nedbank
  • Pieter du Preez van NKC African Economics
  • Reuben Beelders van Gryphon Asset Management
  • Richard Downing van Econdow
  • Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep
  • Sanisha Packirisamy van Momentum Investments
  • Thea Fourie van IHS Markit
  • Ulrich Joubert, onafhanklike ekonoom
  • Prof. Waldo Krugell van die Skool vir ekonomie aan Noordwes-Universiteit
  • Wilbie Venter van Unigrain

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Rand  |  Inflasie  |  Inflasiekoers  |  Ekonoom Van Die Jaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.