Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hoe nou gemaak met plastiese afval van PPE’s?
Hoe raak ’n mens ontslae van plastiese gesigmaskers wat nie gewas kan word nie? Foto: Unsplash

Die vraag na persoonlike beskermende toerusting soos gesigmaskers en handskoene (sogenaamde PPE’s) te midde van die koronaviruspandemie het ’n onvoorsiene probleem geskep; hoe gemaak met al die afval wat dit skep?

“Daar is algemeen berig dat die pandemie lug- en waterbesoedeling help verminder het, maar terselfdertyd het dit die vervaardiging van baie meer beskermende toerusting vir gewone mense, pasiënte en gesondheidswerkers genoodsaak,” sê Brindha Roberts, hoof van volhoubaarheid by Averda, ’n plaaslike afvalbestuursmaatskappy.

“Mense moet besef plastiese PPE’s kan nie weggegooi word saam met die gewone herwinbare plastiekprodukte nie,” sê sy.

Plastiese maskers, handskoene en voorskote is alles voorbeelde van toerusting wat normaalweg net een keer gebruik word en daarna weggegooi word om die verspreiding van infeksies en siektes te voorkom.

Hierdie soorte produkte word as gevaarlike afval beskou en moet versigtig gehanteer word, sê Roberts.

Die artikels hou ’n groot risiko in vir besoedeling en kan boonop ook die werkers by stortingsterreine met die virus besmet.

Daarom beveel sy aan dat mense gebruikte beskermende toerusting – en selfs gebruikte sneesdoekies – in ’n afsonderlike vullissak gooi. Sodoende kan die virus nie van byvoorbeeld maskers of handskoene na ander huishoudelike vullis soos melkbottels en leë blikkies of glashouers oorgedra word nie.

Waar moontlik moet hierdie afval ook in spesiale dromme vir mediese afval geplaas word eerder as saam met die “gewone” afval wat munisipale werkers verwyder.

Hierdie tipe dromme is egter nie geredelik beskikbaar nie en Roberts doen daarom ’n beroep op ondernemings om hul werknemers van sulke tipe dromme te voorsien.

Plastiese beskermende toerusting kan wel herwin word mits dit eers ontsmet is, sê Roberts.

Afvalbestuurders soos Averda het normaalweg twee keuses as dit kom by die hantering van gevaarlike afval soos PPE’s: verbrand dit, of behandel dit waarna dit herwin kan word.

Die eerste opsie is natuurlik nadeliger vir die omgewing. Beskermende toerusting wat nie ontsmet en herwin word nie, is ook uiters skadelik en sal waarskynlik net iewers op ’n ashoop beland, sê Roberts.

Een geluk is wel dat Suid-Afrikaners neig om eerder lapmaskers te gebruik, anders as in Europa waar plastiese weggooimaskers die norm is.

Groot hoeveelhede van hierdie maskers het al op Europese strande en langs strate beland soos wat mense net op enige plek daarvan ontslae raak.

“Dit beteken wel nie Suid-Afrikaners kan oorgerus wees en nie behoorlik van PPE-afval ontslae raak nie,” sê Roberts.

“Die gevolge vir die omgewing moenie onderskat word nie. Die gesondheid van mense en die planeet is onlosmaaklik aan mekaar verbind.”

Meer oor:  Afval  |  Ppe  |  Herwinning  |  Plastiek  |  Handskoene  |  Gesigmaskers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.