Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hoekom het Reserwebank nié rentekoers verlaag?
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Elvira Wood

Inflasie is verrassend laag en ekonomiese groei pap. Waarom verlaag die Reserwebank dan nié die rentekoers nie?

Dié vraag kom nadat die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) die repokoers Donderdag onveranderd op 6,75% gehou het. Dit beteken banke se prima rentekoers bly onveranderd op 10% minstens totdat die bank weer middel Januarie 2020 oor die rentekoers besluit.

Die sentrale bank se kwartaallikse projeksiemodel voorspel egter dat die rentekoers eers teen die derde kwartaal van 2020 kan daal. Die model word deurentyd aangepas en is dus bloot gegrond op huidige inligting en ramings.

Fundi Tshazibana, een van die Reserwebank se drie adjunkpresidente, het Donderdag in Pretoria in antwoord op die vraag wat dit sal verg om die rentekoers te verlaag, gesê juis die feit dat die rekordlae inflasiekoers “verrassend” is, is ’n groot probleem.

“ ’n Mens kan nie monetêre beleid op grond van verrassings vasstel nie. Eers wanneer die data aandui dat daar ’n volgehoue daling in die inflasiekoers is, sal ons die rentekoers verlaag.”

Inflasie was in Oktober 3,7%, het Statistieke Suid-Afrika Woensdag bekend gemaak. Dis die laagste in meer as agt jaar en laer as die 3,9% wat ekonome voorspel het. Dit was ook vir die derde maande laer.

’n Mens kan nie monetêre beleid op grond van verrassings vasstel nie. Eers wanneer die data aandui dat daar ’n volgehoue daling in die inflasiekoers is, sal ons die rentekoers verlaag.
Fundi Tshazibana van die Reserwebank

Die hoogste vlak van inflasie vanjaar was 4,5% – presies die middelpunt van die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6% en dus presies waar die Reserwebank wil hê inflasie moet volhoubaar geanker wees.

Dis uit dié hoek dat talle ekonome dié week opnuut frustrasie uitgespreek het met die Reserwebank se oorversigtigheid.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, het die MBK-besluit as “teleurstellend en buitensporig versigtig” beskryf. Hy sê selfs die geloofwaardigheid van die Reserwebank is in gedrang omdat hy nie reageer op “tasbare verbeterings in die inflasievooruitsig” nie.

“Die ruimte bestaan nou duidelik om positief op te tree. Die feit dat die MBK 3-2 verdeel was, toon dat ’n sterk siening wel nou binne die Reserwebank vir ’n buigsamer benadering bestaan.”

Dr. Roelof Botha sê die MBK het ’n “obsessie” met die behaling van baie lae inflasie.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Wealth, sê: “Ek dink alles in die ekonomie skreeu om ’n rentekoersverlaging?.?.?.”

Tshazibana sê egter die data wat MBK die afgelope paar dae oorweeg het voor die rentekoersbesluit, dui daarop dat die daling van die inflasiekoers nié volhoubaar is nie. “Dis onwaarskynlik dat die inflasiekoers sal aanhou daal.”

Die MBK sê in sy verklaring die algehele risiko’s vir die inflasievooruitsig word as gebalanseerd beskou, “maar onsekerheid oor inflasierisiko’s is buitengewoon hoog”.

“Vraagkantdruk (op pryse) bly gedemp en huishuur gaan na verwagting slegs matig styg?.?.?. Kospryse hou aan verras aan die lae kant, maar die styging in die prys van ingevoerde kos en onseker plaaslike weerpatrone verhoog onsekerheid oor die toekomstige prystrajek. Verdere stygrisiko’s vir die inflasievooruitsig sluit loonverhogings in, asook brandstof-, krag- en waterpryse.

“Die risiko van verdere wisselvalligheid met kapitaalvloei het ook toegeneem, wat druk op die wisselkoers kan plaas.”

Laasgenoemde is ’n verwysing na die dreigende afgradering deur Moody’s Investors Service, wat die vooruitsig vir Suid-Afrika se kredietgradering begin November in negatief verander het. Standard & Poor’s Global Ratings besluit Vrydagnag oor sy gradering.

Tshazibana het opnuut beklemtoon dat monetêre beleid nie die ekonomie aan die brand kan skop soos wat baie ekonome hoop nie.

Sy sê een van die vrae wat die MBK probeer beantwoord het, was hoekom vraag so traag bly. Die groot probleem is die gebrek aan vertroue onder sowel verbruikers as ondernemings. Dit demp besteding.

Sy sê egter dit kan onder meer aan die gebrek aan werksekerheid toegeskryf word – en om dít reg te maak, lê by die regering, nie die Reserwebank nie.

Parsons glo wel dat monetêre beleid ’n “nuttige, hoewel matige, rol” kan speel om verbruikers- en sakevertroue te versterk. Hy stem egter met die sentrale bank saam dat die grootste las om ekonomiese groei ryk aan werkskepping te bevorder, by die regering lê.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het dit as “dringend” beskryf dat “verstandige makro-ekonomiese beleid en strukturele hervormings” in werking gestel word wat die koste van sake doen verlaag en investering, groei en werkskepping laat styg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.