Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hoekom jy styging in kospryse te wagte kan wees
Voergraan is ’n belangrike insetkoste vir hoendervleis, eiers en suiwelprodukte. Dis aan die styg weens marktekorte en ’n swak rand. Foto: Pixabay

Kospryse gaan waarskynlik nou skerper begin styg, tensy die rand versterk – en dít is hoogs onwaarskynlik.

Mielies en sojabone is die basiese grondstof vir intensiewe veeboerdery en maatskappye in die hoender-, eier-, vark- en melkbedryf.

Dis sowat 60% van die produksiekoste van die eindprodukte, en die prysdeurvloei-effek na verskeie voedselprodukte op die winkelrak, soos hoendervleis, eiers, melk en kaas, is ’n feit. Sojabone en ander oliesade is die grondstof vir die kookolie wat ons daagliks gebruik.

Dan het ons natuurlik ook die diep resessie wat die mark vir basiese voedselsoorte beïnvloed.

Daar is heelwat genoteerde maatskappye wat in dié bedrywe ter sprake is en hul winsmarges word direk geraak deur veranderinge in die pryse.

Die produkte is die basis van die armer deel van die bevolking se voedselmandjie en het ’n wesenlike invloed op lewenskoste.

Die feit dat uitgebreide werkloosheid opgeskiet het tot 43% beteken doodgewoon dat armoede toegeneem het en so ook die vermoë van baie mense om die styging in lewenskoste te kan absorbeer – soveel te meer omdat basiese voedselbesteding 50% plus van hul uitgawes is.

Die meegaande grafiek toon die styging in dollarpryse op die Chicago-graanbeurs in die VSA, asook van Suid-Afrikaanse pryse soos op Safex genoteer. Die skerp stygings is duidelik.

Die versterking in die rand die laaste weke het die binnelandse prysstygings effens getemper, saam met taamlik goeie oeste van die afgelope jaar en goeie vroeë vooruitsigte vir ons nuwe seisoen se oeste.

Die rand-wisselkoers bly dus ’n groot risiko in die volgende maande in die bedrywe en die prys van die kommoditeite.

Dit is natuurlik ook so dat die betrokke voedselbedrywe nie groot winsmarges het nie en dat supermarkte ook nie ruimte het om kostestygings te absorbeer nie. Die prysstygings gaan dus ’n tweeledige effek hê, eerstens op die betrokke maatskappye of bedrywe se winsmarges en dan natuurlik ook op winkelrakpryse. Dit sal deurvloei na voedselprysinflasie.

In die geval van bees- en skaapvleis het pryse ook effens gestyg vanjaar as gevolg van tekorte in die aanbod, wat hoofsaaklik ’n newe-effek van die droogte is, met heelwat ekstensiewe veeweistreke wat begin het om kuddes op te bou.

In die Groot-Karoo en Noord-Kaap, waar die jare lange droogtes voortduur, is daar nog nie begin met kuddes bou nie.

Dan het ons ook die geval waar wildpryse skerp gedaal het en die jagbedryf baie swaar kry, onder meer weens die inperkingsmaatreëls vir die Covid-19-pandemie. Heelwat wildboere skakel terug na veral beesboerdery, wat die vraag na vroulike en teeldiere opjaag en deurwerk na rakpryse.

k

Waarom het mielie- en oliesaadpryse so gestyg?

Buitelandse markfaktore het die laaste weke ’n besonder groot rol gespeel om VSA-pryse skerp op te druk, terwyl ons ook binnelandse faktore het wat ’n rol speel, soos die rand-wisselkoers. Die pryse is direk verwant aan die internasionale mark, die resultaat van ’n relatief vrye mark in die bedrywe, waar pryse buitelandse en binnelandse faktore weerspieël.

Gedurende die vorige twee jaar was dollarpryse van mielies en sojabone in die VSA (synde ’n groot uitvoerder) onder afwaartse druk as gevolg van die handelsoorlog tussen die VSA en China. China het baie minder Amerikaanse landbouprodukte gekoop, wat pryse in dié land aansienlik afgedruk het.

Daarby is China se varkkuddes met sowat 200 miljoen varke verminder as gevolg van varkpes.

Voergraanpryse het skerp gedaal weens die kleiner vraag.

Die VSA se oestyd is in die laaste kwartaal van die jaar en die aanvanklike verwagting was vir groot oeste vir 2020, wat pryse laag gehou het. Ongunstige produksietoestande het stelselmatig die opbrengste weggekalwe na oestyd toe.

Die Amerikaanse departement van landbou reik aan die begin van elke maand ’n vraag-aanbod-raming vir landbouprodukte uit.

In Oktober is die mark geskok met aansienlik laer voorraad in die silo’s as wat verwag is, asook verwagte kleiner oeste.

Intussen het China begin om sy lae voorraadvlakke van graan en sojabone aan te vul nadat ’n ooreenkoms met die VSA bereik is en hulle ook hul varkkuddes weer moes opbou. Die verwagting is dat China in die komende jaar sowat 100 miljoen ton sojabone en mielies gaan invoer. Dit het markte verder senuweeagtig gemaak.

Intussen het spekulante ook tot die mark toegetree – hul mening was dat dit beter is om mielies en sojabone te besit as aandele en geld in die bank!

Hoewel die La Nina-weerverskynsel goed is vir Suid-Afrika se somerreënvalvooruitsigte, is die effek teenoorgesteld in die VSA, Suid-Amerika en die Swartsee-koringuitvoerlande. ’n Sterk La Nina-verwagting in dié lande het markte verder gejaag, asook die feit dat Suid-Amerika reeds weer probleme met hul nuwe oesaanplantings het.

Die November-verslag het net nog verder olie op die vuur gegooi – oeste is nog kleiner geraam en voorraadvlakke nog laer, spesifiek in die VSA. Voorraadvlakke voor die nuwe VSA-oes in 2021 is om die waarheid te sê die laagste in sewe jaar. Spekulante geniet dit!

Kortom, gegewe die seisoene, is die verwagting dat voorraadvlakke in die VSA en Suid-Amerika laag gaan bly vir ’n hele aantal maande in die nuwe jaar.

Die rand-wisselkoers gaan ’n sleutelrol speel en dit is uit die grafiek duidelik dat die volle dollarstygings nie deurgegee is aan die plaaslike mark nie.

Binnelandse mieliepryse is basies op uitvoerprysvlakke weens die afgelope jaar se goeie oes en sowat 2 miljoen ton gaan na verwagting uitgevoer word.

Daar is wel probleme met genoegsame goeie gehalte witmielies vir die binnelandse mark vir voedsel, wat die markprys ondersteun.

In die geval van koring het internasionale pryse ook aansienlik gestyg, maar as gevolg van ’n variërende plaaslike invoertarief (dit daal soos dollarpryse styg), is ons tot dusver effens afgeskerm. Die probleem is as dollarpryse verder styg, gaan die invoertarief nul wees en sal dollarprysstygings direk deurwerk na plaaslike koring- en broodpryse.

Ten slotte: ’n Versterkende rand is een van die min faktore wat pryse tans kan rem. Dis onwaarskynlik weens ons benarde ekonomiese en politieke situasie. Die vooruitsig vir voedselprysinflasie het na my mening verswak.

  • Prof. Johan Willemse is ’n landbou-ekonoom by Agrimark Consultants. Hy is ’n voormalige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Johan Willemse  |  Landbou  |  Ekonomie  |  Kos  |  Kospryse  |  Inflasie  |  Kosprysinflasie  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.