Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hoekom landbou nie SA se ekonomie kan red

Selfs al verdubbel landbou se bydrae tot die ekonomie, sal dit steeds minder as 5% van die bruto binnelandse produk (BBP) verteenwoordig. Daarom is die klem wat pres. Cyril Ramaphosa op die landbou as skepper van groei en werk plaas, eintlik misplaas, skryf Fanie Brink.

  

Fanie Brink

Die ekonomiese groeisyfers vir die derde kwartaal van vanjaar wat Dinsdag deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) uitgereik is, toon baie duidelik dat die kwartaallikse groeisyfers wat geannualiseer (teen ’n jaarkoers bereken) en vir seisoenskommelinge aangepas is, nog altyd verkeerd was.

Die belangrikste en eenvoudigste rede hiervoor is omdat die groeisyfers vir ’n spesifieke kwartaal bereken word deur dit met die vorige kwartaal te vergelyk in plaas daarvan om dit met dieselfde kwartaal van die vorige jaar te vergelyk.

Die Covid-19-pandemie het veroorsaak dat dié berekeningsmetode die groeisyfers vir die tweede en derde kwartaal vanjaar as totaal buitensporig uitgewys het, wat in werklikheid baie misleidend is omdat die kwartale in baie gevalle nie vergelykbaar is nie.

Die ekonomiese groei vir die tweede kwartaal wat op die huidige metode bereken was, het -51,7% beloop, terwyl dit in werklikheid net -17,1% sou gewees het as die regte metode gevolg is deur dit met dieselfde kwartaal van verlede jaar te vergelyk.

Die groeisyfer vir die derde kwartaal vanjaar het volgens SSA se berekening 66,1% beloop, terwyl dit in werklikheid net -6% sou gewees het as dit met dieselfde kwartaal van verlede jaar vergelyk was.

Die groei van ’n kwartaal vergeleke met dieselfde kwartaal van die vorige jaar sal in elke geval geannualiseer wees. Die kwartaal-tot-kwartaal-syfer in dieselfde jaar is statisties en ekonomies irrelevant omdat die kwartaallikse en jaarlikse groeisyfers nie vanaf dieselfde basis bereken word nie.

Dit toon ook baie duidelik dat die seisoenaangepaste syfers, spesifiek vir die landboubedryf weens die wisselvallige klimaatstoestande, nie die seisoenale verskille kan uitskakel nie. Die sal baie meer korrek wees om ’n spesifieke kwartaal of “seisoen” van ’n jaar met dieselfde kwartaal of “seisoen” van die vorige jaar te vergelyk!

SSA het met die berekening van die tweede en derde kwartaal se groeisyfers minstens besef en erken dat daar verskillende maniere bestaan om dit te doen, maar myns insien bly die kwartaalsyfers wat met dieselfde kwartale van die vorige jaar vergelyk word en wat nie geannualiseer en seisoensaangepas is nie, nog die meer korrekte berekening. Die grafika gee egter nog die dieselfde berekeningsmetode as die vorige jare weer.

  

Vraag en aanbod

Ekonomiese groei word deur die vraag- en aanbodkant van die ekonomie geskep en deur die winsmotief gedryf en op basis van ’n internasionaal erkende en aanvaarde metodologie.

Aanbodkant (produksie)

Die reële kwartaallikse ekonomiese groeikoers soos dit sedert 2015 aan die aanbodkant van die ekonomie gemeet is, het in die derde kwartaal, geannualiseerd met 66,1% gestyg en het nagenoeg R2 963 miljard beloop.

As die groeisyfers op ’n jaargrondslag bereken was deur die tweede en derde kwartaal van vanjaar met dieselfde kwartaal van verlede jaar te vergelyk, sou die groeikoers -17,5% vir die tweede en -6% vir die derde kwartaal gewees het.

k

Die reële syfer is die syfer nadat die inflasiekoers “uitgehaal” is om vas te stel met hoeveel dit gegroei het sonder die prysstygings wat plaasgevind het.

Die groeikoerse aan die aanbodkant word deur die bruto produksiewaardes van al die individuele bedrywe in die primêre, sekondêre en tersiêre sektor van die ekonomie bepaal.

Die groeikoerse en die bydrae van die bedrywe tot ekonomiese groei kan slegs verhoog word as die winsgewendheid van die bedrywe verbeter kan word.

Die winsgewendheid van die bedrywe word, eerstens, bepaal deur die veranderinge in die pryse van al die insette wat deur elke bedryf gebruik word teenoor die veranderinge in die pryse van al die uitsette wat elke bedryf produseer, vervaardig of as persoonlike dienste soos regs-, mediese, finansierings- en versekeringsdienste lewer.

Tweedens word winsgewendheid bepaal deur die doeltreffendheid waarmee die insette in uitsette omgeskakel kan word, iets wat verbeter kan word deur die toepassing van die jongste tegnologiese ontwikkelings. Dit moet die produsente, vervaardigers en diensteverskaffers in staat stel om meer uitsette met dieselfde hoeveelheid insette of dieselfde hoeveelheid uitsette met minder insette te kan lewer.

Vraagkant (besteding)

Die reële kwartaallikse ekonomiese groeikoers soos dit sedert 2015 aan die vraagkant van die ekonomie gemeet is, het in die derde kwartaal met 67,6% gestyg en R2 934 miljard beloop.

As die groeisyfers op ’n jaargrondslag bereken was deur die tweede en derde kwartaal van vanjaar met dieselfde kwartaal van verlede jaar te vergelyk, sou die groeikoers -18,2% vir die tweede en -6,4% vir die derde kwartaal gewees het.

k

Ekonomiese groei word aan die vraagkant van die ekonomie geskep deur die bydraes wat gelewer word deur die totale private verbruiksbesteding van huishoudings en die regering (as verbruiker); die bruto kapitaalvorming deur kapitaal wat belê word in vaste eiendom, masjinerie en ander bates; sowel as die in- en uitvoer van produkte en dienste. Die veranderinge in voorraad word ook in ag geneem.

Die groeikoerse en die bydrae van die totale private verbruiksbesteding en die bruto kapitaalvorming kan slegs verhoog word as salarisse en lone verhoog word, en as werkloosheid en persoonlike belasting verlaag word om sodoende die besteebare inkomste van verbruikers te verhoog.

  

Ekonomiese groei

Dit is belangrik om daarop te let dat ekonomiese groei nie net deur al die bedrywe aan die aanbodkant van die ekonomie geskep word nie, maar ook deur die private verbruiksbesteding, kapitaalvorming en uitvoer aan die vraagkant, anders sal groei nie moontlik wees nie.

Die groeikoerse en die bydrae van die totale private verbruiksbesteding en die bruto kapitaalvorming kan slegs verhoog word as salarisse en lone verhoog word, en as werkloosheid en persoonlike belasting verlaag word.
Fanie Brink, ekonoom

Die resultate van die twee berekeninge van die ekonomiese groeikoers aan die aanbod- en vraagkant van die ekonomie is normaalweg van dieselfde omvang, hoewel klein afwykings voorkom. Dit beteken effektiewelik dat alles wat geproduseer en ingevoer word, minus wat uitgevoer word, plaaslik verbruik word en dat die vraag en aanbod in die ekonomie gelyk is aan mekaar.

Dié gevolgtrekking is gegrond op een van die mees basiese ekonomiese beginsels, naamlik dat prysvlakke (inflasiekoers) bepaal word deur die vraag en aanbod (uitgesluit gereguleerde pryse) in die ekonomie en dat pryse ’n baie belangrike funksie in die ekonomie vervul om altyd die vraag en aanbod weer in ’n markewewig te bring.

  

Landboubedryf

Ramaphosa, en verskeie ekonomiese en politieke kommentators maak ’n totaal verkeerde afleiding deur herhaaldelik te beweer dat die landboubedryf die ekonomie uit sy vernietigende toestand kan red en die een bedryf is wat werklik die ekonomie kan laat groei.

Dié aanspraak is ongegrond, want as die landbou se bydrae tot ekonomiese groei byvoorbeeld selfs verdubbel, sal dit sy bydrae van slegs 2,3% tot 4,6% gemiddeld verhoog.

Die landbou het op ’n geannualiseerde en seisoensaangepaste kwartaalgrondslag in die derde kwartaal met 18,5% gegroei nadat dit in die tweede kwartaal met 15,1% gegroei het - die enigste bedryf wat in die tweede kwartaal positief gegroei het.

Hoewel landbouproduksie stewig is, is dit een van die kleinste bedrywe in terme van die bruto binnelandse produk. Foto: iStock

Die baie groot kwartaallikse wisselvalligheid in die groeikoers van die landboubedryf as gevolg van klimaatsomstandighede word egter deur SSA oordryf omdat ’n bepaalde kwartaal, soos die tweede kwartaal vanjaar, in werklikheid ’n groot styging in die groeikoers toon omdat dit met die eerste kwartaal vergelyk word.

Spesifiek kan die mieliebedryf ’n baie groot wisselvalligheid – van 7 miljoen ton tot 17 miljoen ton per jaar – toon.

Die feit dat die produksie van mielies en die lewering daarvan in silo’s, wat in die tweede kwartaal 5,7 miljoen ton beloop het, vergelyk is met die eerste kwartaal se lewerings van net 356 000 ton, het die groeikoers van die landbou in die tweede kwartaal heeltemal oorskat.

Indien die korrekte manier gevolg was om vanjaar se 5,7 miljoen ton in die tweede kwartaal met dieselfde kwartaal in 2019, van 4,6 miljoen ton, te vergelyk, sou die kwartaallikse groeikoers van die landbou baie laer gewees het.

In die vierde kwartaal vanjaar, wanneer baie min mielies geproduseer en gelewer word omdat die produsente dan al weer begin het om te plant, sal die landboubedryf weer ’n heelwat laer groeikoers toon omdat dit vergelyk sal word met die 8,2 miljoen ton wat in die derde kwartaal vanjaar gelewer is!

Die kwartaallikse groeikoerse vir die landbou sal net soos dié van al die ander bedrywe in die ekonomie totaal irrelevant wees as die jaar-tot-jaar-groeikoers vir 2020 bereken word.

  • Fanie Brink is ’n onafhanklike landbou-ekonoom.
Meer oor:  Fanie Brink  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Bbp2003  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Bbp  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.