Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hoër gesondheids-taks is verkeerde keuse
Pasiënte in die Pholosong-hospitaal in Ekurhuleni word in die gange behandel omdat die hospitaal oorbevolk is. Suid-Afrikaanse staatshospitale sukkel om die groot getal buitelanders te behandel wat vir gesondheidsorg hierheen kom.

Ekonomie gaan oor keuses. Een belangrike keuse is waaraan ons geld bestee.

Behoort Suid-Afrika meer aan gesondheidsorg te bestee, of moet ons eerder opvoeding finansier?

Dié kwessie is nie so eenvoudig nie, maar ek begin wonder of ons ministers dink ons geld sal nooit opraak nie en daarom bestee hulle dus net meer. Ons kan mos die belastingbetaler en maatskappye meer belas?

Suid-Afrika het reeds een van die hoogste verhoudings van ’n belasting tot bruto binnelandse produk (BBP). Maar steeds wil die regering die klein belastingvoordeel wegneem wat mense kry as hulle gesondheidsversekering koop.

Daardeur kan die staat ’n verdere R20 miljard se belasting invorder.

Bowendien, sê die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, is dié voordeel onregverdig teenoor dié wat nie gesondheidsorg kan bekostig nie.

As dit so onregverdig is, waarom gaan mense na die private gesondheidsorgsektor, al kos dit hulle so duur?

Byna alle ministers en staatsamptenare maak van private gesondheidsorg gebruik. Hoekom? Is dit omdat diensvlakke in die staatsektor skokkend swak is dat selfs direkteurs-generaal van gesondheid te kenne gee jou lewe is deel van ’n loteryspel in staatshospitale?

’n Jaar gelede het ’n vriend ’n beroerte gehad en nadat hy ’n week moes wag om tot die regte staatshospitaal toegelaat te word, is hy in die hoësorgeenheid geplaas. Daar was nie genoeg beddens in dié eenheid nie en hy is na ’n gewone saal oorgeplaas, al het ’n professor daarteen gewaarsku.

Hy het gewag op ’n lewensnoodsaaklike operasie, maar is nooit geopereer nie en is ’n paar dae later oorlede – meer as twee weke nadat hy in die staat se gesondheidstelsel opgeneem is.

Die minister van gesondheid het in ’n radio-onderhoud gesê die persentasie geboortes deur buitelanders in die Charlotte Maxeke-hospitaal is 47% en hy weet van ander hospitale waar dié koers sedert 2013 selfs 60% is.

Die LUR vir gesondheid in Gauteng sê tot 90% van die geboortes in staatshospitale is deur buitelanders. Ander het syfers gegee wat wissel van 13% in 2007 tot 28% in 2010 vir verskillende hospitale in Suid-Afrika.

Meer belasting vir staatsgesond-heidsorg is die verkeerde keuse. Ander keuses, soos om sorg tot Suid-Afrikaners en permanente inwoners te beperk, is deel van die oplossing.
Mike Schüssler, ekonoom

Die probleem is dus nie die bedrag geld vir gesondheid nie, maar dat Suid-Afrikaanse geld baie mense moet behandel wat nie landsburgers is nie.

Hierdie “gesondheidstoeriste” se eie lande kan nie voldoende gesondheidsorg bied nie. (Die minister sê hulle kom hierheen vir gesondheidsorg omdat ons hospitale beter is en gaan dan terug na hul eie lande toe.)

Die openbare gesondheidsorgsektor kan nie byhou nie. Suid-Afrika het reeds minder dokters per 100 mense as die meeste ander lande, en ook minder verpleegsters. Die land bestee reuse-bedrae aan openbare gesondheid en ons moet op buitelandse dokters staatmaak wat meer as die Guptas sukkel om burgerskap te kry.

Suid-Afrika lei jaarliks ’n beperkte aantal dokters op en die getal het nie tred gehou om ons eie bevolking – wat sedert 1990 verdubbel het – na behore te bedien nie. Laat staan nog die groot getalle buitelanders wat hier gesondheidsorg ontvang.

Meer belasting vir staatsgesondheidsorg is die verkeerde keuse. Ander keuses soos om sorg tot Suid-Afrikaners en permanente inwoners te beperk, is deel van die oplossing.

Dit is nie net geld wat die besluite beïnvloed wat professionele gesondheidslui daagliks moet neem en wat die verskil tussen lewe of dood kan beteken nie, maar dokters en spesialiste in die staatsektor is oorlaai. Die laaste onkoloog in dié sektor in KwaZulu-Natal het pas bedank, soos vele ander reeds gedoen het.

In Suid-Afrika word geglo belastingbetalers het geld en daarom kan die stelsel selfs meer geld uit hulle kry. Die oorheersende gedagte is dat geld alles regmaak. As dit so is, waarom is ons onderwys- en gesondheidstelsels in so ’n gemors, selfs al kry hulle in reële terme elke jaar meer?

Die keuse behoort te wees hoe ons ons besteding beperk en of ons die Verenigde Nasies (VN) se hulp moet inroep om aan buitelanders binne ons landsgrense gesondheidsorg te verskaf.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za.

Laat ander lande help hiermee, want die syfers wat die minister en senior amptenare noem, is werklik skrikwekkend. Laat die hulporganisasies hul werk doen en stuur dokters, verpleegsters en beddens om te help.

Die mense in die loopgrawe vertel mekaar van die buitelanders wat maatskaplike toelae ontvang en in ons skole en hospitale opgeneem word. Dit beteken Suid-Afrikaners boet elke dag gehaltediens in, dok meer belasting op en moet aanvaar infrastruktuur soos paaie word verwaarloos omdat daar nie geld is nie.

Buitelanders is nie die probleem nie, maar die swak diensleweringsvlakke wat in hul lande van oorsprong verskaf word wat nou ons vermoëns begin oorweldig. Buitelanders het gesondheidsorg en onderwys nodig, maar nie deur meer belastinggeld van ’n reeds klein poel belastingbetalers te neem of ons eie diensvlakke te verlaag en die gehalte van ons gesondheidsorg te laat agteruitgaan nie.

Die keuse behoort eerlikheid te wees en ons behoort die Wêreld-gesondheidsorganisasie en die VN om hulp te vra. As Duitsland die res van die Europese Unie kan vra om te help met sy vlugtelinge, kan ons mos ook?

Laat ons nie die skuld net op buitelanders pak nie. Onlangse onthullings skilder ’n prentjie van korrupsie en diefstal op ’n skaal wat nog nie tevore gesien is nie. Sit die korrupsie stop, want belasting is nog nooit bedoel om daarvoor te betaal nie.

Suid-Afrika behoort eerder geld te spaar en dit doeltreffend te bestee voordat hy weer belastings verhoog. Daarby het hierdie land met sy klein belastingbasis hulp nodig. Hoër belasting kan nie die probleme regmaak nie, maar beter bestuur en eerlikheid kan.

  • Mike Schüssler is ekonoom van Economists.co.za en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Mike Schüssler  |  Aaron Motsoaledi  |  Belasting  |  Gesondheidsorg  |  Ekonoom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.