Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hoër onderwys bestee R2 mjd. minder as begroot

Die departement van wetenskap en tegnologie is die vinnigste besteder in die staatsdiens relatief tot sy begroting, blyk uit ’n ontleding deur parlementêre navorsers.

Dié departement het in die eerste kwartaal van die lopende boekjaar reeds R341,1 miljoen meer bestee as waarvoor begroot is, oftewel 19% meer as wat hy verwag het om teen die eerste kwartaal te bestee.

In absolute terme het die departement van vervoer egter al die meeste geld oorbestee as wat hy verwag het – met ’n bedrag van R705,8 miljoen, oftewel 8% meer as wat begroot is.

Aan die ander punt van die skaal is die departement van sport en ontspanning die traagste besteder, en het 71% minder bestee as wat hy vir die eerste kwartaal geprojekteer het. Dié departement het R183,4 miljoen minder bestee as wat hy beoog het.

Voornemende studente buite die Capricorn TVET-kollege in Polokwane. Onderbesteding by die departement van hoër onderwys is weens vertragings in die oordrag van geld na TVET-kolleges. Foto: Marietie Louw-Carstens

In absolute terme het die departement van hoër onderwys en opleiding egter R2 miljard minder bestee as hul begroting van R34,7 miljard in die eerste kwartaal. Dit was weens vertragings in die oordrag van geld na TVET-kolleges, die universiteitsonderwysprogram en nie-winsorganisasies.

Die polisie het R1,8 miljard of 8% minder bestee was wat begroot is vir die eerste kwartaal.

Water

Die departement van water en sanitasie het R1,1 miljard minder bestee as sy begroting van R3,3 miljard vir die eerste kwartaal.

Die onderbesteding is onder meer weens vakante poste en vertragings in oordrag van geld na die Amatole-waterraad, die Magalies- en Sedibeng-waterrade, en onbetaalde rekeninge vir grootmaat-infrastruktuur, vir ’n lewensvatbaarheidstudie oor mynwaterbestuur en vir die aanstel van professionele diensverskaffers.

Energie

In absolute terme het die departement van energie R612,8 miljoen minder bestee as wat hy in die eerste kwartaal beplan het, oftewel 40,8% minder as wat hy beoog het.

Musa Zamisa van die parlement se navorsingseenheid het Vrydag aan die parlement se gekose komitee oor toedelings gesê die departement van energie het vertragings in die oordrag van geld na Eskom en die geïntegreerde nasionale elektrifiseringsprogram. Zamisa het voorgestel die komitee moet druk plaas op die departement om uit te vind waarom geldoordrag nie goedgekeur is nie.

’n Gebrek aan besteding aan die sonkragprojekte deur die departement dui, volgens Zamisa, op swak beplanning.

“Is dit nog ’n prioriteit?” het hy gevra in die lig van Eskom se huidige kragoorskot.

Zamisa het gewys op die departement se geskiedenis van onderbesteding op sy sonkragprojekte.

In die departement van energie is vier vakatures vir adjunk-direkteur-generaal.

Landbou

Zamisa het gewys op die departement van landbou, visserye en bosbou se onderbesteding van 19,5% of R442,7 miljoen.

Daar is vertragings met die oordrag van geld na die Landbank vir bemagtigingsprojekte in die landbou, asook vertragings met oordrag van geld na die program vir uitgebreide openbare werke, wat ’n groot rol in werkvoorsiening aan armes speel.

Zamisa waarsku die trae oordrag van geld na die openbarewerkeprogram kan ’n impak hê op onrus in gemeenskappe, veral in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing.

Daar is tans 200 vakante poste in die departement van landbou, en hy waarsku dit kan die departement se vermoë raak om sy geld te bestee.

Sport

By die departement van sport en ontspanning is daar vertragings in die oordrag van geld na provinsies, Boks Suid-Afrika, die Sporttrust, LoveLife en die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Sascoc).

Phelelani Dlomo, ’n parlementêre navorser, sê die nasionale tesourie het vroeër verduidelik die besteding is tradisioneel laer in die eerste kwartaal van die boekjaar want departemente doen beplanning.

Dlomo meen egter dis geen verskoning nie want die mediumtermynbegrotingsraamwerk is daar om hulle te rig.

Meer oor:  Waterwese  |  Begroting  |  Besteding  |  Tvet  |  Hoër Onderwys  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.