Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hoër rentekoers in VSA bring dalk trane in SA
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Denzil Maregele

Amerika se inflasiekoers het in Januarie tot die hoogste vlak in vyf jaar gestyg – wat binnekort slegte nuus kan meebring vir Suid-Afrikaanse verbruikers.

Die koers was vir die tweede maand in ’n ry bo 2%, die minimum teiken wat die Federale Reserweraad (Fed) graag wil sien.

Die Januarie-koers van 2,5% en die Desember-koers van 2,1% is vir ontleders nog ’n teken dat Amerikaanse rentekoerse moontlik reeds in Maart weer verhoog gaan word.

Die Fed besluit weer op 15 Maart of hy rentekoerse gaan verhoog.

Hoër Amerikaanse rentekoerse kan groot Amerikaanse institusionele beleggers dalk oorreed om beleggings aan ontluikende lande te onttrek en eerder in dollar te belê. Dít kan potensieel die rand laat verswak en daarom dreig om Suid-Afrika se inflasiekoers op te druk.

Suid-Afrika se inflasiekoers was in Januarie 6,6%, het Statistieke Suid-Afrika dié week bekend gemaak.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het al herhaaldelik gewaarsku dat hy die rand fyn dophou, want as die rand dramaties verswak, sal die Reserwebank rentekoerse moet verhoog om wegholinflasie te keer.

Die Reserwebank het al twee maal aangedui dat hy reken hy is by of op die boonste draaipunt van rentekoerse, waar die meeste ontleders reken die bank geruime tyd lank sal bly. Net enkele ontleders verwag laer rentekoerse teen einde 2017 of begin 2018.

Die Reserwebank besluit weer op 30 Maart oor die rentekoers.

Volgens Bloomberg verreken handelaars in afgeleide instrumente op die oomblik ’n 40%-kans dat rentekoerse in die VSA in Maart verhoog sal word.

Die styging in Amerikaanse inflasie is grootliks vanweë duurder brandstof. As kos en brandstof uitgesny word, beloop inflasie 1,7%.

Nog ’n belangrike faktor wat die Fed fyn dophou, is die stand van die arbeidsmark. Werkloosheid in die VSA was in Januarie 4,8% – baie laag, maar effens hoër as in Desember, toe dit 4,7% was.

Bloomberg skryf dit toe aan die feit dat mense wat lank uit die arbeidsmag was toe die ekonomie nie gegroei het nie, nou weer begin werk soek. Die getal werksoekers styg dus. Hoër rentekoerse kan maatskappye swaar tref en dus werkskepping kniehalter.

Soos met die Reserwebank, probeer die Fed ’n balanseertoertjie speel om inflasie op die regte vlak hou, maar terselfdertyd nie ’n demper op ekonomiese groei te plaas nie.

Meer oor:  Vsa  |  Fed  |  Reserwebank  |  Rentekoers  |  Ekonomiese Groei  |  Inflasie  |  Inflasiekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.