Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hof sê weer nee vir OB oor ‘fopnuus’-verslag

Die openbare beskermer (OB) moet volstaan by die hofuitspraak dat haar 2019-verslag oor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se sogenaamde onwettige geheime eenheid “fopnuus” is.

Adv. Busisiwe Mkhwebane
Adv. Busisiwe Mkhwebane Foto: Argief

Busisiwe Mkhwebane, die OB, en haar kantoor het verlof tot appèl gevra teen die beslissing van die hooggeregshof van Johannesburg in Desember dat die verslag geskrap word.

Die hof het die verslag uitgekryt as onder meer “die produk van ’n heeltemal irrasionale proses, gestroop van enige grondige wetlike of feitelike grondslag”.

Mkhwebane is ook uitgetrap dat sy “haar belangrike kantoor probeer gebruik het om fopnuus-propaganda-fiksie wat lank reeds dood was, te laat herleef”.

Wat bekend geword het as die rogue unit – ’n term wat Tom Moyane, vorige SAID-kommissaris, uitgedink het – was die spesialiseenheid wat sluikhandel en belastingontduiking ondersoek het. Dit het in 2007 te staan gekom toe Pravin Gordhan, tans minister van openbare ondernemings, SAID-kommissaris was.

Mkhwebane het die eenheid in 2018 begin ondersoek nadat Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF, ’n klag by die OB ingedien het. Die hooggeregshof het bevind sy het die Nugent-verslag oor die SAID heeltemal geïgnoreer.

Regter Robert Nugent het die probleme by die SAID onder Moyane ondersoek en bevind skreiende onregte is gepleeg, waarskynlik om vername belastingbetalers soos oudpres. Jacob Zuma te probeer beskerm.

Die hof het Mkhwebane in Desember deels persoonlik aanspreeklik gehou vir die regskoste van die saak.

Die hof het bevind die eenheid is wettig begin. Daar is ook bevind Gordhan het niks verkeerds gedoen toe hy Ivan Pillay, adjunkkommissaris, se vroeë aftrede in 2010 goedgekeur het nie. Gordhan was toe minister van finansies en Oupa Magashula was die SAID se kommissaris. Magashula was deel van die hofstryd teen Mkhwebane.

Die hof het Woensdag Mkhwebane se verlof tot appèl geweier omdat geen nuwe inligting in die aansoek geopper is nie.

Gordhan se kruisaansoek om verlof tot appèl is ook van die hand gewys.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.