Hotelle en verblyfplekke het Woensdag ’n beroep op die regering gedoen om die land se entstofprogram so gou as moontlik in werking te stel ten einde dié bedryf weer op die been te help kom.

Sun City, die vlagskiphotel van Sun International. Foto: Sun International
Rosemary Anderson, voorsitter van die bedryfsliggaam Fedhasa, sê dit sal help om vertroue te herstel op ’n tydstip dat die beleërde gasvryheidsbedryf se “onvolhoubare verliese aanhou styg”.
Syfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) uitgereik het, wys dat besteding aan verblyf in Suid-Afrika in November 66,8% laer as ’n jaar gelede was. Besteding aan kos en drank in restaurante, kroeë en koffiehuise was 36,3% laer.
Die syfers is nog voordat strenger inperkings soos ’n vroeër aandklokreël weer in Desember in Covid-19-brandpunte ingestel is, en toe weer in Januarie, met ’n nuwe verbod op drankverkope.
Anderson sê hoewel die verliese nie verrassend is nie, kom dit nadat die Werkloosheidsversekeringsfonds se tydelike hulpskema, die Covid-19-Ters, in die middel van Oktober ten einde geloop het. Dit beteken daar is geen finansiële verligting vir die bedryf nie.
Die Covid-19-Ters het die gasvryheidsbedryf gehelp om werkverliese te beperk.
Die bedryf se inkomste uit verblyf het gedaal weens ’n daling van 52,7% in die aantal bednagte wat verkoop is, tesame met ’n 29,7%-daling in die gemiddelde inkomste per eenheid.
Hotelle, wat onder normale omstandighede ’n groter persentasie internasionale gaste huisves, het die grootste daling in inkomste van gemiddeld 69,6% getoon.
Wat kos- en drankverkope betref, was die grootste daling in kroeë (-54,3%), restaurante en koffiewinkels (-51,3%) en spysenieringsondernemings (-50,3%).
Anderson sê die werklike syfers is waarskynlik veel erger omdat SSA nie die aantal restaurante en verblyfplekke tel wat hul deure moes sluit nie.
“Hoewel die gasvryheidsbedryf teoreties oop is, maak die beperkinge – insluitend die sluiting van toerisme-aantreklikhede soos strande, die perke op die aantal toegelate gaste, korter bedryfsure en die verbod op drankverkope – dit vir baie ondernemings finansieel nie lewensvatbaar om oop te bly nie.”
Sy sê die sluiting van ondernemings raak nie net almal wat dadelik hul werk verloor nie, maar ook munisipaliteite en verskaffers.
Die entstofprogram kan help om nie net duisende lewens nie, maar ook mense se lewensbestaan te red.
Sy sê die bedryf glo hy kan help met die entstofprogram, net soos wat hy geriewe vir kwarantyn en isolasie beskikbaar gestel het.