Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hou op entstowwe opgaar! – Ramaphosa aan ryk lande

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag ’n beroep op ryk lande gedoen om die oormaat entstowwe wat hulle gekoop het, aan ander lande te verkoop.

Pres. Cyril Ramaphosa het sy stem by die WGO gevoeg oor die opgaar van entstowwe deur welvarende lande.

Ramaphosa het op ’n aanlyn gesprek van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) te velde getrek teen “entstof-nasionalisme”. Hy het daarna verwys dat sekere ryk lande enorme hoeveelhede entstof gekoop het – tot vier keer meer as wat hulle vir hul hele bevolking nodig het.

“Daar is geen rede om dit op te gaar nie. Niemand van ons is veilig as sommige lande hul mense kan inent en ander nié.”

Ramaphosa sê die wêreld moet verenig in die stryd teen Covid-19 aangesien die pandemie almal raak.

Hy het die Wêreldgesondheidsorganisasie geloof wat ook onlangs gesê het ryk lande moet hul oormaat entstowwe aan die Covax-inisiatief skenk.

LEES OOK: ‘WGO, VN moet ingryp oor ryk lande te veel entstowwe kry’

Hy het ’n toespraak aanlyn gelewer as deel van die Davos-dialoë, die gesprekreeks wat vanjaar van 26 tot 29 Januarie virtueel die plek inneem van die WEF se jaarberaad, wat gewoonlik einde Januarie in Switserland gehou word. Dis weens die Covid-19-pandemie uitgestel, maar ’n byeenkoms van wêreldleiers word voorlopig vir Mei in Singapoer beplan.

In sy toespraak het Ramaphosa gesê die Covid-19-pandemie het nie die probleme geskep wat die wêreld nou beleef nie, maar het wel bestaande probleme vererger en wat ’n terugslag vir pogings om dit reg te stel.

“Dié uitdagings – van armoede tot die vernietiging van ons omgewing, van konflik tot ongelykheid, van ongeletterdheid tot hongersnood – is die gevolg van ons optrede en, te dikwels, ons gebrek aan optrede.”

Ramaphosa het beklemtoon die wêreld is by ’n kruispad. “Ons taak is nie om die wêreld te herstel tot waar dit was toe die pandemie toegeslaan het nie, maar om ’n nuwe pad te skep na ’n wêreld wat regverdig, vreedsaam, samehorig, veerkragtig en volhoubaar is. Dis net deur multilaterale optrede wat die wêreld sy uitdagings kan oplos.”

Die tema vanjaar is veral hoe die wêreld prioriteite kan “herset” en stelsels kan hervorm, met verwysing nie net na Covid-19 nie, maar ook klimaatsverandering, handelsoorloë, kuberaanvalle, ongelykheid en verdeeldheid.

Ramaphosa is die uitgaande president van die Afrika-Unie en het in dié hoedanigheid ook gepraat oor hoe die vasteland die pandemie bestuur het, soos die platform vir die verkryging van mediese toerusting wat deur die vasteland geskep is.

Ná sy toespraak is hy uitgevra deur Børge Brende, ’n Noorweegse politikus en president van die WEF.

Dié uitdagings – van armoede tot die vernietiging van ons omgewing, van konflik tot ongelykheid, van ongeletterdheid tot hongersnood – is die gevolg van ons optrede en, te dikwels, ons gebrek aan optrede.
Pres. Cyril Ramaphosa

Ramaphosa het verwys na die Afrika-vryhandelsooreenkoms wat op 1 Januarie in werking getree het as ’n metamorfose vir handel in Afrika.

Brende het hom ook gevra hoe Suid-Afrika oor vyf tot tien jaar gaan lyk indien sy nuwe ekonomiese plan suksesvol is.

Ramaphosa het verwys na die feit dat Eskom se monopolie met kragverskaffing verbreek gaan word en dat Suid-Afrika meer krag uit hernubare bronne soos krag en wind gaan opwek.

Hy het ook verwys na die opveil van breëbandspektrum, waardeur ekonomiese geleenthede geskep gaan word, maar het wel toegegee dat die proses langer duur as waarop gehoop is.

Ander dinge waarna Ramaphosa verwys het waarom ekonomiese herstel gaan wentel, is infrastruktuurontwikkeling, insluitend van paaie en hawens; die herstel van toerisme; en die vergemakliking van visums vir beroepslui van oorsee wat in Suid-Afrika wil kom werk.

“Op die oomblik trotseer ons die uitdagings van Covid-19, maar dit sal verander.”

Ramaphosa het beklemtoon samewerking rugsteun alles wat die regering tot dusver gedoen het met sy nuwe plan. Dit sluit samewerking met die private sektor, vakbonde en ander maatskaplike vennote in.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Entstofprogram  |  Covax  |  Inperking  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Wef  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Entstof  |  Ekonomiese Herstelplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.