Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hulppakket ‘skiet ver tekort’
ekonomie
Die swak ekonomiese groeivooruitsigte is kommerwekkend, sê ekonome.

Eintlik net R95 miljard van die staat se totale hulppakket van R500 miljard in die stryd teen Covid-19 is ’n nuwe inspuiting in die ekonomie.

En dit is naastenby nie genoeg om die reeds struikelende ekonomie op die been te kry nie, waarsku die Finansiële en Fiskale Kommissie (FFK).

Die FFK het Dinsdag aan die parlement se staande komitee oor toedelings gesê die hulppakket verteenwoordig meer van ’n verligting as enige stimulus. Die uitstel van sekere belastings en die herprioritisering van die begroting sal waarskynlik ’n neutrale effek op besteding en inkomste hê, het dr. Kay Brown, uitvoerende hoof van die FFK, gesê.

Die bankwaarborgskema van R200 miljard gaan boonop bloot die staat se blootstelling aan waarborge van die huidige R484 miljard tot R684 miljard opstoot, en verteenwoordig ’n gebeurlikheidslas.

Huishoudings het reeds ’n groot skuldlas.

Die FFK meen dus die stimuluspakket skiet ver tekort om die skok op die ekonomie te verlig.

As deel van die finansiering van die R500 miljard moet R130 miljard uit die bestaande begroting kom. Dr. Mkhululi Ncube van die FFK meen departemente soos gesondheid, maatskaplike ontwikkeling en water en sanitasie behoort outomatiese prioriteitsbesteding te kry.

Die groot potensiaal vir herprioritisering is by die sny van vergoeding. Die departemente met die meeste besteding aan salarisse is die polisie en weermag, asook onderwys.

Maar die FFK waarsku terselfdertyd dat die manier en omvang waarmee die staat se salarisrekening aangepak word, ’n groot risiko vir die begroting is. Verpleegsters en onderwysers se salarisse kan nie te erg gesny word nie.

Daar kan gesny word aan reis- en verblyfuitgawes, juis omdat reis in elk geval beperk word in die inperkingstyd.

Spyseniering, en nienoodsaaklike opleiding en infrastruktuur, kan ook gesny word, sê Ncube.

Dr. Kay Brown, uitvoerende hoof van die Finansiële en Fiskale Kommissie.

Voorwaardelike toewysings aan provinsiale en plaaslike regerings waar gesny of geherprioritiseer kan word, is byvoorbeeld gemeenskapsbiblioteke. Niemand mag nou in elk geval biblioteke besoek nie, so die bou van nuwe biblioteke kan uitgestel word. Instandhouding van bestaande biblioteke moet egter steeds gedoen word. Toewysings vir massadeelname aan sport kan gesny word.

Brown beveel aan die aangepaste begroting moet so gou moontlik goedgekeur word sodat staatsinstellings sekerheid kry oor hul begrotings en sodat hulle behoorlik kan beplan vir dienslewering.

Prof. Dan Plaatjies, voorsitter van die FFK, het gewys op die staat se magte om die ekonomie te stimuleer. Die Covid-19-krisis gee die regering die geleentheid om die nuwe digitale ekonomie te stimuleer.

Die FFK meen die regering moet homself herorganiseer om bedrog en korrupsie uit te roei, en om ondoeltreffendheid met noodsaaklike dienste soos gesondheid te pak.

Sekere bedrywe gaan nie lewensvatbaar wees in ’n post-Covid-19-ekonomie nie, soos toerisme en lugvaart. Nuwe potensiële markte moet ondersoek word in die plaaslike ekonomie. Staatsfabrieke kan opgerig word om gapings te vul, en plaaslike regerings se basiese dienste en infrastruktuur soos water, krag en afvalbestuur moet prioriteit kry.

Die regering kan subsidies vir naskoolse onderrig beperk tot arm huishoudings, die hoë vlakke van konsentrasie in die ekonomie verminder, grondhervorming en landbou verbeter, en die koste van breëbandinternet verlaag.

Plaatjies waarsku die pandemie kan óf ’n gelykmaker wees, óf die ongelykheid in die ekonomie verder verdiep.

Meer oor:  Kay Brown  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Vlak 3  |  Begrotingsrede  |  Inperking  |  Begroting2020  |  Hulppakket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.