Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
IMF al hoe meer pessimisties oor wêreldgroei

Die wêreldekonomie gaan na verwagting in 2019 stadiger groei as wat voorheen voorspel is, meen die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

IMF
Christine Lagarde, besturende direkteur van die IMF. Foto: Reuters

Gita Gopinath, direkteur van navorsing van die IMF, het in Davos, Switserland, op ’n mediakonferensie gesê wêreld- ekonomiese groei verlangsaam, en die verswakking vind ietwat vinniger plaas as wat voorheen verwag is.

Die groei wat nou vir 2019 verwag word, is 3,5%, vergeleke met die beraamde groei van 3,7% in 2018.

Die groei vir 2019 is swakker as wat in Oktober met die IMF se vorige vooruitskatting voorspel was.

Geen verandering in die vooruitsig vir Suid-Afrika se ekonomie is sedert Oktober se voorspelling aangebring nie. Die IMF verwag steeds dat Suid-Afrika se ekonomie met 1,4% in 2019 en met 1,7% in 2020 gaan groei. Die verwagting vir 2018 is steeds 0,8%.

Dit is teenoor die Wêreldbank se voorspellings van 0,9% vir 2018, 1,3% vir 2019 en 1,7% vir 2020; en die Reserwebank se voorspelling van 0,7% vir 2018, 1,7% vir 2019 en 2% vir 2020.

Die IMF se jaarlikse vooruitskatting van die

wêreldgroei in Januarie vind plaas ’n dag voordat wêreldleiers Dinsdag in Davos vir die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) vergader.

Vir 2020 word groei van 3,6% vir die wêreldekonomie verwag, wat ook swakker as Oktober se vooruitskatting is.

“Hoewel die afwaartse aanpassing matig is, glo ons die risiko vir groter aanpassings afwaarts neem toe,” het Gopinath gesê.

Die groei vir 2019 is in Oktober afwaarts aangepas weens die negatiewe impak wat die verhoging in invoertariewe in die VSA en China verlede jaar op handel gehad het.

Die verdere afwaartse aanpassing hou verband met die momentum wat in die tweede helfte van 2018 verlangsaam het.

Hoewel die internasionale ekonomie nog groei, het die groei in die derde kwartaal verlede jaar in sommige ekonomieë teleurgestel. Dit word toegeskryf aan faktore soos ’n nuwe reëls vir uitlaatgasse in Duitsland en natuurrampe in Japan.

“Die gebeure het plaasgevind te midde van ’n agteruitgang in die sentiment in finansiële markte, onsekerheid oor handelsbeleid en kommer oor China se vooruitsigte.”

Sy sê in 2018 wou dit voorkom of die finansiële markte nie soveel geraak is deur die spanning oor internasionale handel nie, maar dit het nou verander.

Die belangrikste risiko vir ’n verdere afwaartse aanpassing in die vooruitsigte is ’n skerper toename in handelspanning as wat reeds in die vooruitskatting in ag geneem is.

Twee ander risiko’s kan ’n verdere agteruitgang in sentiment veroorsaak, met nadelige implikasies vir ekonomiese groei. Dit sluit in as die uiteinde van Brexit beteken dat Brittanje sonder ’n ooreenkoms die Europese Unie verlaat en as die verlangsaming in China erger as verwag is.

Ontwikkelde lande

Die verwagte groei vir ontwikkelde lande is 2% vir 2019 vergeleke met 2,3% in 2018. In 2020 word verwag die ekonomie gaan 1,7% groei.

Die verwagte groei vir 2018 en die vooruitskatting vir 2019 is laer as in Oktober.

Die effense afwaarts aanpassing hou grootliks met aanpassings in die eurogebied verband. In die eurogebied is wesenlike aanpassings aan die verwagte groeikoers vir Duitsland en Italië gemaak.

Duitsland se vooruitsig is afwaarts aangepas weens die bekendstelling van nuwe reëls om uitlaatgasse van motors te beperk en Italië s’n weens kommer oor sy staatskuld.

Die vooruitsig vir die VSA is onveranderd. Na verwagting gaan sy ekonomiese groei afneem tot 2,5% in 2019 en verder verlangsaam tot 1,8% in 2020.

Opkomende lande

Die ekonomiese aktiwiteit in opkomende en ontwikkelende lande gaan na verwagting ook verlangsaam. Ekonomiese groei van 4,5% word in 2019 verwag, wat laer is as die 4,6% van 2018. Die verwagting vir 2019 is laer as Oktober s’n.

In 2020 word verwag die ekonomiese groei van die lande gaan 4,9% wees.

Na verwagting gaan China se ekonomie verlangsaam weens strenger finansiële wetgewing en handelspanning met Amerika.

In Afrika suid van die Sahara word groei van 2,9% verwag in 2018 en dat dit tot 3,5% in 2019 en 3,6% in 2020 gaan versnel. Vir sowel 2019 as 2020 is die vooruitskatting 0,3 persentasiepunte laer as Oktober s’n weens ’n daling in oliepryse wat gelei het tot ’n afwaartse aanpassing vir Angola en Nigerië se vooruitsigte.

Meer oor:  Davos  |  Wef  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Wêreldekonomie  |  Imf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.