Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
IMF bly pessimisties oor SA groei

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het sy vooruitsig vir Suid-Afrika se ekonomiese groei in ’n verrassende stap opwaarts hersien, maar verwag dat werkloosheid daarmee saam gaan styg.

Johannesburg is die kern van Suid-Afrika se ekonomie. Foto: Getty Images

Die IMF het Dinsdag sy jongste verslag oor internasionale ekonomiese vooruitsigte bekend gestel.

Hy verwag nou dat die wêreldekonomie vanjaar met 6% gaan groei – 0,5 persentasiepunte meer as wat hy in Januarie verwag het en 0,8 meer as wat hy in Oktober verwag het.

Gita Gopinath, hoofekonoom van die IMF, sê die verspreiding van die Covid-19-entstowwe wêreldwyd is besig om ekonomieë ’n enorme hupstoot te gee.

In Suid-Afrika is die prentjie egter nie so rooskleurig nie.

Waar ontwikkelde lande kyk na groeikoerse tussen 4% en 7% vir 2021, verwag die IMF dat Suid-Afrika met slegs 3,1% gaan groei.

Dit is wel 0,3 persentasiepunt hoër as wat die IMF in Januarie verwag het, maar dit is grootliks te danke aan verbeterende hulpbronpryse wêreldwyd en nie soseer danksy enigiets wat Suid-Afrika spesifiek reg doen nie.

Die Reserwebank verwag 3,8% vir 2021.

Die land is eintlik besig om al drie faktore te beleef wat Gopinath as struikelblokke vir ekonomiese herstel in ontluikende markte uitgewys het.

Sy het daarop gewys dat lande wat afhanklik is van toerisme, wat hul entstofprogramme te stadig instel, en wat min beleide het om die ekonomie te steun, die swaarste in die komende maande en jare gaan kry.

Suid-Afrika gaan tans aan al drie dié faktore gebuk.

Die land se ekonomiese groei is dalk wel opwaarts hersien, maar dis nog nie eens so hoog soos dié van sy eweknieë in die res van Afrika suid van die Sahara nie. Dié streek se verwagte ekonomiese groei gaan vanjaar gemiddeld 3,4% wees.

Die IMF verwag dat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) in 2022 met net 2% gaan toeneem.

Dit beteken Suid-Afrika gaan nie naastenby op mediumtermyn kan vergoed vir die inkrimping van 7% wat hy in 2020 beleef het nie.

Suid-Afrikaners gaan in reële terme boonop armer as voor die Covid-19-pandemie wees.

Ongelykheid

Omdat Eerstewêreldlande soveel vinniger herstel, verwag Gopinath vir die eerste keer in dekades ’n enorme wêreldwye toename in ongelykheid.

“Hierdie uiteenlopende herstelpaaie sal waarskynlik groter leemtes in lewenstandaarde in lande teweegbring in vergelyking met wat die verwagtinge voor die pandemie was,” het sy Dinsdag gesê.

“Die gemiddelde jaarlikse verlies in BBP per capita oor 2020 tot 2024, in verhouding tot voorspellings van voor die pandemie, sal na verwagting 5,7% wees in lande met lae inkomste en 4,7% in ontluikende markte, terwyl die verliese na verwagting kleiner teen 2,3% in die ontwikkelde wêreld sal wees.

“Sulke verliese keer die vordering in die uitwissing van armoede om, met ’n bykomende 95 miljoen mense wat na verwagting in 2020 die geledere van die uiters armes in vergelyking met projeksies voor die pandemie sou betree.”

Die IMF verwag dat Suid-Afrika dienooreenkomstig deur nóg stygings in die werkloosheidsyfer in die gesig gestaar word.

Hierdie tendens sal voortduur vir so lank as wat die IMF vooruitvoorspellings maak.

Werkloosheid het reeds in 2020 tot ’n rekordvlak van 32,5% opgeskiet. En die IMF verwag dit gaan net vererger.

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Wêreldekonomie  |  Imf  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  Entstof-Program
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.