Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
IMF demp hoop op ekonomiese herstel in 2021

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) is effens minder pessimisties oor die wêreldekonomie as drie maande gelede – toe die Covid-19-pandemie nog baie vinniger uitgekring het.

Suid-Afrika gaan in 2021 dalk net teen 3% groei. Foto: Reuters

Die vooruitsig vir Suid-Afrika lyk egter nog net so sleg.

In die finansieringsliggaam se kwartaallikse wêreld- ekonomiese vooruitsig voorspel hy nou wêreldgroei van -4,4% vir 2020, teenoor die -4,9% wat in Junie voorspel is.

Groeivooruitsigte lyk beter – hoewel steeds negatief – in die meeste lande. ’n Belangrike uitsondering is Indië, waarvoor die IMF nou -10,3% voorspel teenoor Junie se -4,5%.

Vir Suid-Afrika bly die IMF se 2020-voorspelling onveranderd op -8%. Die Reserwebank het einde September -8,2% voorspel en die tesourie se nuutste voorspelling word op 21 Oktober verwag, wanneer Tito Mboweni, minister van finansies, die mediumtermynbegrotingsraamwerk in die parlement ter tafel lê.

Die IMF is wel meer pessimisties oor 2021 se groei vir die hele wêreld, insluitend Suid-Afrika. Wêreldgroei van 5,2% word nou verwag, teenoor 5,4% in Junie.

Vir Suid-Afrika voorspel die IMF slegs 3%, teenoor 3,5% in Junie. Die Reserwebank voorspel 3,9%.

Só lyk die IMF se 2020-voorspellings vir enkele lande en streke:

  • Wêreld: -4,4%
  • Amerika: -4,3%
  • Eurogebied: -8,3%
  • Duitsland: -6%
  • Brittanje: -9,8%
  • China: 1,9%
  • Indië: -10,3%
  • Suid-Afrika: -8%

Só lyk die IMF se 2021-voorspellings:

  • Wêreld: 5,2%
  • Amerika: 3,1%
  • Eurogebied: 5,2%
  • Duitsland: 4,2%
  • Brittanje: 5,9%
  • China: 8,2%
  • Indië: 8,8%
  • Suid-Afrika: 3%

Gita Gopinath, die IMF se hoofekonoom, het in ’n aanlyn voorlegging gesê die meeste lande sal nie die produksievlakke van 2019 bereik voor diep in 2021 nie. “Die herstel van hierdie katastrofiese ineenstorting sal waarskynlik lank en selfs uiters onseker wees.”

Gopinath sê groei kan versnel indien behandeling en entstowwe gevind word wat die einde van die gesondheidskrisis gouer kan meebring. Groei sal egter geknou word as daar weer ’n toename in infeksies kom. Ekonomiese herstel kan ook deur stygende geopolitieke spanning ontspoor word.

Die IMF raam dat meer as 90 miljoen mense vanjaar tot onder die bestaansminimum van $1,90 per dag gaan val weens die inperkings wat stukwerkers en trekarbeiders die swaarste getref het.

Die liggaam spreek ook weer die vrees uit dat baie kinders agterstande in hul onderrig opgedoen het weens die sluiting van skole en dat dit langtermyngevolge vir hul onderrig en indiensneming sal meebring. Die IMF raam dat die pandemie ongelykheid weer sal vererger.

Die IMF reken dat sosiale distansiëring nog tot diep in 2021 deel van mense se alledaagse lewe sal wees, wat ook ’n impak het op ekonomiese herstel.

Meer oor:  Imf  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Wêreldekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.