Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
IMF verwag erge impak weens Covid-19

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en Wêreldbank is diep bekommerd oor die ekonomiese impak van die nuwe koronavirus, Covid-19.

Die vooruitsig vir die wêreldekonomie het in “meer ontsettende scenario’s” verander weens die verspreiding daarvan, het Kristalina Georgieva, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), Woensdag op ’n nuuskonferensie in Washington gesê wat oor YouTube uitgesaai is.

Sy het gesê daar is nog geen aanduiding wanneer die virus in bedwang gebring gaan word nie.

Intussen gryp sentrale banke wêreldwyd in om die ekonomiese impak van die virus te probeer stuit.

Die embleem van die IMF binne sy hoofkantoor in Washington. Foto: Reuters

Die Federale Reserwebank van die VSA het Dinsdag die rentekoers met 0,5 van ’n persentasiepunt verlaag en die Bank van Kanada het Woensdag dieselfde gedoen. Die verwagting is dat die Bank van Engeland ook die rentekoers sal verlaag.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank besluit op 19 Maart oor die plaaslike rentekoers. Moody’s se besluit oor of die land op beleggingsgraad bly, kan die Reserwebank keer om nou die rentekoers te verlaag, reken baie ekonome.

Frankryk en Italië loop die risiko om weens die virus in ’n resessie te verval. Die gevoel is dat Suid-Afrika se resessie as gevolg daarvan kan voortsleep. Statistieke Suid-Afrika het Dinsdag bekend gemaak dat die land in die vierde kwartaal van 2019 in ’n resessie verval het.

Georgieva sê die virus vereis ’n wêreldwye reaksie.

David Malpass, hoof van die Wêreldbank, het aangekondig $12 miljard se noodfinansiering is beskikbaar om armer lande te help om die virus te bestry en die impak daarvan te versag. Tot dusver het 12 lande belangstelling getoon.

Die virus skep enorme onsekerheid in die wêreldekonomie en knou groei op kort termyn, het die Internasionale Monetêre en Finansiële Komitee (IMFK) vroeër die dag in ’n verklaring gesê.

Die IMFK is ’n liggaam wat die IMF raad gee en Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, is tans die voorsitter daarvan.

Die komitee het die verklaring ná ’n telekonferensie uitgereik. “Die IMF se 189 lidlande staan verenig om die wêreldwye uitdagings met betrekking tot die Covid-19-epidemie aan te pak, en ons bied ons simpatie aan vir almal wat geraak word. Ons is vasbeslote om die nodige steun te verskaf om die impak te versag, veral op die kwesbaarste mense en lande.”

Die komitee doen ’n beroep op die IMF om alle moontlike finansieringsopsies aan behoeftige lidlande te bied.

“Ons is vol vertroue dat ons, as ons saamwerk, die uitdaging te bowe sal kom en groei en welvaart vir almal sal herstel.”

Die twee liggame het ook Dinsdag aangekondig dat hul Lentevergaderings, wat van 13 tot 19 April in Washington gehou sou word, nou slegs “virtueel” gehou sal word, onder meer deur webuitsendings en sosiale media.

Meer oor:  Imf  |  Wêreldbank  |  Resessie  |  Fed  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Wêreldekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.