Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
IMF-hulp: Hoe naby of hoe ver is dit regtig?

Die skrywer RW Johnson het al in 2015 voorspel dat Suid-Afrika in 2017 by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sal moet gaan bakhand staan vir ’n lening. Dit het toe nie so gebeur nie. Maar wie en wat is die IMF en hoekom is ’n reddingsboei van hulle nou weer in die nuus?

  

Wat is die IMF?
  • Die IMF is in 1945 gestig as deel van die Bretton Woods-ooreenkoms ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Hy hou toesig oor die wêreld se bankstelsel en probeer samewerking oor monetêre sake en internasionale handel heen bevorder.
  • Die geld wat hy gebruik om uit te leen aan lande in krisis kom van sy 189 lidlande wat volgens ’n sekere kwota ledegeld betaal. Van die lande wat nie lid is van die IMF nie is Kuba, Noord-Korea, Monaco, Taiwan, Oos-Timor, Liechtenstein en die Vatikaanstad.
  • Die organisasie is deel van die Verenigde Nasies se stelsel, maar tree onafhanklik op.
  • Die IMF het $1 000 miljard beskikbaar om aan lidlande te leen.
  • Hy het tans 36 leningsooreenkomste.
  • Hy bied aan lae-inkomstelande ’n rentekoers van 0%.

Wat sou die sneller wees wat dit onafwendbaar vir Suid-Afrika sal maak om na die IMF te moet gaan vir ’n lening?

Dit gaan daaroor of internasionale beleggers nog bereid is om aan Suid-Afrika geld te leen. Dit gaan ook oor ’n land se vermoë om die rente op sy skuld te betaal. Suid-Afrika is nog lank nie in só ’n posisie nie, sê Maarten Ackerman, beleggingstrateeg by Citadel.

Die logo van die IMF by sy hoofkantoor in Washington. Foto: Reuters

Met die onlangse effekteveiling was die vraag na Suid-Afrikaanse staatseffekte steeds baie groot.

Solank Suid-Afrika rentekoerse (op staatsteffekte) het van 9% teenoor inflasie van 4%, sal dit altyd vir buitelanders aantreklik wees om Suid-Afrikaanse effekte te koop, en het Suid-Afrika dus steeds toegang tot finansiering.

En al sou buitelandse instellings nie meer wil geld leen nie, het die regering troefkaarte soos belasting op pensioenfondse wat hy kan terugbring – ’n belasting wat Trevor Manuel, ’n vorige minister van finansies, afgeskaf het, sê Ackerman.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum, sê Suid-Afrika se skuldvlakke is nog nie op die hoërisiko-vlakke van lande wat tipies na die IMF gaan vir ’n reddingsboei nie.

Die onafhanklike ekonoom Mike Schüssler wys ook op troefkaarte soos voorgeskrewe bate, waar die regering pensioenfondse dwing om meer in staatseffekte te belê.

Die regering sal eers soveel moontlik spaarvarkies leegmaak om die IMF te vermy. Hulle hou nie van ortodokse ekonomiese programme nie en sien dit as anti- arm mense.
Mike Schüssler, ekonoom

As Suid-Afrika uiteindelik ook deur die kredietgraderingsagentskap Moody’s tot rommelstatus afgegradeer word en dit nog duurder raak om lenings te kry, sal dit volgens Schüssler ’n stap nader wees aan waar die regering pensioengeld sal wil benut. Maar eers as daardie uitweg ook uitgeput is en skuld nie meer onder beheer is nie, sal die land na die IMF moet gaan.

LEES OOK: IMF: G’nlening; SA moet sy eie probleme oplos

Hy beklemtoon die regering wil glad nie hierdie roete volg nie, want dit impliseer slegte nuus vir staatskapers.

“Die regering sal eers soveel moontlik spaarvarkies leegmaak om die IMF te vermy. Hulle hou nie van ortodokse ekonomiese programme nie en sien dit as anti- arm mense,” sê Schüssler.

   

Teen die huidige koers waarteen die land se skuld groei, die ekonomie sukkel en Eskom al dieper in die skuld wegsak, hoe lank kan dit duur voordat Suid-Afrika regtig voor die IMF se deur moet gaan staan?

Sanisha Packirisamy, Momentum-ekonoom.

Packirisamy wil nie ’n voorspelling waag nie, maar sê as ekonomiese groei vir ’n lang tyd stagneer, as die belastingbasis steeds krimp en daar steeds meer reddingsboeie sonder voorwaardes aan staatsondernemings uitgedeel word, raak die risiko van ’n IMF-reddingsboei ’n al hoe groter werklikheid.

Sy verwys dan ook na ’n hele paar ander beleidsopsies wat die regering kan volg voordat dit nodig word, soos om aan pensioenfondse voor te skryf waar om hul geld te belê.

Prof. Jannie Rossouw van Wits se skool vir sakewetenskappe waarsku dat Nasionale Gesondheidsversekering ’n program kan wees wat dalk net te duur kan raak, en wat die land kan dwing om by die IMF te moet leen.

    

Watter van die voorwaardes wat die IMF normaalweg stel, sal goed wees vir die land?

Rossouw meen dis bekend wat Suid-Afrika se probleme is, en die IMF se voorwaardes sal juis daarop ingestel wees dat daardie probleme eers opgelos word. “Ons kan netsowel dié probleme op ons eie oplos sonder die swaard van die IMF oor ons kop.”

Volgens Rossouw is die probleme:

  • ’n Groot en duur staatsdiens,
  • Te veel onnodige staatsondernemings wat verliese ly en liefs moet sluit, soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Denel, en
  • Maatskaplike toelaes wat te duur geword het weens die groeiende aantal begunstigdes (nou al byna 18 miljoen).

Ackerman sê die IMF se voorwaardes is gewoonlik baie streng.

Jy is taamlik met jou hande agter die rug. Die IMF kan byvoorbeeld voorskryf dat daar geen salarisverhogings in die staatsdiens moet wees nie.
Maarten Ackerman, ekonoom van Citadel

“Jy is taamlik met jou hande agter die rug. Die IMF kan byvoorbeeld voorskryf dat daar geen salarisverhogings in die staatsdiens moet wees nie, ’n sekere aantal poste gesny moet word, en hulle kan voorskryf hoe en waar die regering mag bestee.”

Waar die IMF-voorwaardes ’n benadering van besuinigings volg, het die regering tans nog beheer. Hy sê ook die regering sal so ver as moontlik wegbly van die IMF.

  

A protester holds a placard reading Oki (No in gre
Betogers met plakkate waarop die Griekse woord vir “nee” staan, tydens ’n optog voor die 2015-referendum, waarin Griekeland gestem het om in die Europese Unie te bly. Die nee-stem was veral uitgesproke oor die besuiniging wat Europa saam met die Internasionale Monetêre Fonds aan Griekeland opgedwing het. Foto: Getty Images

Watter van die IMF se voorwaardes kan negatiewe gevolge hê?

Dit gaan meer oor die pyn wat die voorwaardes vir sekere mense sal inhou wat hul werk verloor, sê Rossouw. Schüssler sê dit het pyn op kort termyn, maar op lang termyn is dit positief.

Packirisamy sê die sny in staatsdiensposte sal op kort termyn werkloosheid verhoog en groei beperk, want daar sal minder verbruikersbesteding wees. Maar dit kan help om Suid-Afrika op die herstelpad te plaas.

As welsynstoelae gesny word om die staatskuld te verlaag, kan dit armoede en ongelykheid vererger.

Ackerman sê dit kos jare se harde werk om die ekonomie om te draai, so ’n IMF-reddingsboei is uit ’n beleggersoogpunt sleg. “Die meeste lande wat na die IMF gaan, is reeds op hul knieë en dit vat baie lank om om te draai. Op daardie punt waar die IMF betrokke raak, help dit ten minste met sekerheid en beleid vorentoe.”

  

Hoe suksesvol was IMF-lenings in ander lande? En watter voorwaardes is gestel?

Packirisamy wys op die volgende onlangse hulpprogramme van die IMF:

  • Siprus het ’n lening van 1 miljard oor drie jaar gekry op voorwaarde dat sy banksektor op ’n gesonder grondslag kom en staatsfinansies op ’n volhoubaarder koers kom.
  • Ysland het ’n lening van $2,1 miljard gekry solank hy kapitaalbeheer instel, sy bankstelsel herbou en sy staatsfinansies konsolideer.
  • Ierland het van die IMF en die Europese Unie lenings van 67,5 miljard gekry op voorwaarde dat banke saamsmelt en personeelkoste gesny word. Daar moes ook met ’n proses van skuldberading begin word vir mense wat agterstallig geraak het met hul huislenings.
  • IMF-reddingsboeie was nie oral suksesvol nie. In 1995 het Mexiko ’n IMF-reddingsboei gekry, maar die beleid wat toegepas is, was nie op lang termyn toepaslik nie. Omdat die regering ’n aantal handelsbanke moes red, het skuld binne twee jaar met $560 miljoen gegroei.
  • In Griekeland sukkel die ekonomie steeds, al is hy nie meer onder ’n IMF-program nie. Belastingverhogings, die sny van staatsdiensposte en die sny van welsynstoelae het ’n duik gemaak in groei en plaaslike sentiment. Schüssler wys wel dat Griekeland se werkloosheid oor die afgelope tien jaar van 28% tot 17,6% afgeneem het.
  • Thailand het te veel skuld gehad, maar sowat twee tot drie jaar ná sy IMF-hulp het hy weer goeie groei behaal.

LEES OOK: Magda Wierzycka waarsku teen IMF-hulp

Rossouw sê die welslae van IMF-reddingsboeie verskil baie en hang daarvan af of die betrokke lande werklik die politieke wil gehad het om hul probleme op te los.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.