Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
IMF-lening? ‘Nee, SA sal pleisters plak’

Suid-Afrika is “nog lank nie” naby daaraan om ’n lening van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) te benodig nie.

Die logo van die IMF by sy hoofkantoor in Washington. Foto: Reuters

“Daar is ’n hele reeks versagtende stappe wat in die tussentyd gedoen kan word om terug te tree van die rand van die (fiskale) afgrond. Van hulle kan sentiment egter verder laat verswak, soos voorgeskrewe bates,” sê Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing van Intellidex, ’n navorsingsfirma oor die finansiële sektor.

Montalto, voorheen van Nomura, word hoog aangeslaan as ontleder oor Suid-Afrika. Sy opmerkings kom net ’n dag nadat die sakeman Sipho Pityana as president van Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) teen die regering se hantering van die Eskom-krisis te velde getrek het.

Pityana sê Suid-Afrika sal by die IMF om ’n reddingsboei van sy eie aansoek moet doen as hy nie die Eskom-krisis daadwerklik oplos nie.

Die IMF word beskou as ’n laaste en polities problematiese uitweg gegewe die streng voorwaardes oor besuiniging wat die internasionale finansierder aan lande stel aan wie hy geld leen.

“Die keuse is moeilik maar tog eenvoudig. Of ons skryf ons eie medisyne voor, of iemand anders skryf dit vir ons voor. En dit sal bitter, bitter medisyne wees,” het Pityana in ’n brief aan Busa se lidmaatskappye ná ’n vergadering op 1 Augustus tussen die Busa-bestuur, pres. Cyril Ramaphosa en ander politici geskryf. Busa verteenwoordig die meeste groot maatskappye in Suid-Afrika.

7 grootste probleme

Hier is die sewe grootste probleme in die ekonomie wat Intellidex uitlig:

  1. Die hoop op ekonomiese groei, veral op ’n per capita-grondslag, is baie laag. Dit word vererger deur probleme in die wêreldekonomie en ’n afkeer van risiko.
  2. Die onlangse verswakking van die rand. Die rand het Dinsdag tot selfs R15,01 teenoor die dollar verswak en het Woensdag steeds baie naby dié vlak gehuiwer, met die oggend se swakste vlak R14,99.
  3. Die gebrek aan hervorming. Montalto sê dit lyk asof “politieke ego’s seëvier oor rasionele en noodsaaklike beleidsvorming”.
  4. ’n Gebrek aan optrede oor die “krisis van geen groei en stygende werkloosheid”.
  5. Die siening dat gesprekke oor voorgeskrewe bates, Nasionale Gesondheidsversekering en grondhervorming die ekonomie knou. Ten beste, sê Montalto, lei dié dinge die aandag af van belangriker krisisse.
  6. Toenemende “wanhoop” oor die gebrek aan optrede oor Eskom.
  7. ’n Afgradering deur Moody’s Investors Service, wat baie mense nou as bykans onafwendbaar beskou. Intellidex self is nog versigtig optimisties dat Moody’s die land nié tot rommelstatus gaan afgradeer nie, selfs ondanks die onlangse verandering van die vooruitsig van stabiel in negatief.

Montalto sê Busa se brief is ’n baie duidelike teken dat die sakesektor van private gesprekke agter die skerms tot openlike kritiek op die regering beweeg het.

Die sakesektor is keelvol van “vergaderings, berade, lekgotlas en planne” en eis optrede.

Montalto sê daar is ’n persepsie dat Ramaphosa nie na die sakesektor luister nie. Hy meen nie dit is waar nie, maar sê dit is effektiewelik hoe dit lyk. Die feit dat elke vraagstuk “tot die dood toe” onderhandel moet word, “eindelose vertragings” en ’n gebrek aan vermoë om besluite uit te voer, dra tot die gevoel by.

Ons verwag dat die geploeter sal voortduur, met trae ekonomiese groei en swakker fiskale uitkomste, swakker batepryse en hoër rentekoerse.
Montalto


Hy sê dit is inderdaad waar dat die sentiment jeens Suid-Afrika die afgelope maand baie agteruitgegaan het. Sakevertroue is op ’n “allerlaagste punt”.

Montalto sê daar is dalk pleisters beskikbaar, maar “die struktuur van die regering en die ANC beteken ’n grondliggende rigtingsverandering” is hoogs onwaarskynlik.

So ’n rigtingverandering is nodig om dit makliker te maak om in Suid-Afrika sake te doen.

Peter Attard Montalto

Dit begin nou lyk asof ekonomiese groei nie net in 2019 swak gaan wees nie, maar ook in 2020. Intellidex verwag nou dat die 2020-groei “baie nader aan 1% gaan wees” as sy huidige voorspelling van 1,5%, hoewel hy nog nie amptelik sy groeiverwagting aanpas nie. Dit sal na verwagting in September gedoen word.

Montalto sê die regering, en veral die tesourie, is erg gekant teen hulp van die IMF. Dis so erg dat die regering geweier het om ná die wêreldwye finansiële krisis ’n kredietgerief bekend as die buigsame kredietlyn (FCL) te aanvaar.

Intellidex sê dit sal nog minstens ’n jaar wees voordat die regering eens IMF-bystand oorweeg. “Dinge kan egter vinniger spiraal as daar ’n ware verlies aan vertroue is.

“Ons verwag dat die geploeter sal voortduur, met trae ekonomiese groei en swakker fiskale uitkomste, swakker batepryse en hoër rentekoerse.

“Daar is dikwels ’n naïewe siening by ontleders dat die regering sal omswaai wanneer die werklikheid hom in die gesig staar. Ons verskil grondliggend hiervan. Die regering is ’n breë versameling belange... met ’n sterk linksgesinde streep. Gekombineer met die gebrek aan spoed en dringendheid van die presidensie, sowel as sy besluiteloosheid, beteken dit dat die regering altyd net die minimum sal doen wat noodsaaklik is.

“Die beteken nie dat die ANC en die presidensie nié besef dat daar ’n krisis en ’n noodsaak vir optrede is nie. Retoriek sal wel verander en verhard.

“Die punt is dat hulle ander dinge prioritiseer, wat die ontplooiing van politieke kapitaal beperk, en daarom is daar geen volhoubare oplossings wat ’n grondliggende ommekeer sal moontlik maak – soos om staatsamptenare drasties te verminder of arbeidswette te wysig – nie.”

Montalto sê die volgende paar maande gaan uiters moeilik wees. Mense kan baie versekerings van Ramaphosa verwag oor wat gedoen word om die ekonomie om te keer, “maar mense moet die verskil tussen ’n grondliggende verandering en ’n pleister onthou”.

Oplossings vir SA se fiskale krisis

Montalto sê lank voordat ’n IMF-kredietgerief aanvaar sal woord, sal die regering die volgende stappe in werking stel, min of meer in dié volgorde:

1. Besnoeiing van staatsbesteding

Die tesourie het reeds aan departemente opdrag gegee om hul begroting met 5% te besnoei teenoor wat in Februarie begroot is. Meer inligting hieroor sal na verwagting in Oktober se mediumtermynbegrotingsraamwerk aangekondig word.

Montalto verwag glad nie dat afleggings in die staatsdiens – waardeur die staat sy enorme salarisrekening sal kan besnoei – aangekondig sal word nie. Hoogstens sal vroeë aftrede, wat al voorheen genoem is, in werking gestel word.

Intellidex verwag dat die staat sy besteding met nagenoeg R10 miljard sal besnoei.

2. Nog berade oor werkskepping

Montalto sê gegewe die moeilike arbeidswette – insluitend vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging – gaan nog berade nie veel bereik nie.

3. Strenger valutabeheermaatreëls

Montalto verwag dié maatreëls as ’n poging om te keer dat nog geld landuit vloei en druk plaas op die rand. Dit kan insluit dat pensioenfondse – waarvan die blootstelling aan oorsese bates bo die wetlike limiet van 30% buitelandse blootstelling sal skuif weens die verswakking in die rand – gedwing word om hul portefeulje vinniger te herbalanseer.

4. Voorgeskrewe bates

Voorgeskrewe bates verwys van die ANC se verkiesingsmanifes, waarin gesê word die party wil batebestuursfirmas dwing om meer geld in infrastruktuurprojekte te belê. Dit sal egter veranderinge aan wetgewing vereis, sowel die wet wat die Openbare Beleggingskorporasie beheer as dié wat private batebestuursfirmas en pensioenfondse beheer.

Kapitaalbeheer op buitelanders word beskou as ’n laaste uitweg, en die Reserwebank sal na verwagting daarteen vasskop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.