Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
IMF maan SA oor grondgryp

Die voortslepende debat oor grondonteiening kan buitelandse beleggers beslis afskrik, maan die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).

Dit “ondermyn die geloofwaardigheid van die regering se voorgenome prioriteit om beleggings te lok”, lui ’n verslag wat die IMF vandeesweek uitgereik het.

Die sogenaamde artikel IV-verslag is ’n opsomming van die gevolgtrekkings wat IMF-amptenare gemaak het op hul besoek aan Suid-Afrika van 28 Mei tot 11 Junie. Hulle het met verteenwoordigers van onder meer die regering, staatsondernemings, die sakesektor, vakbonde en die akademie onderhoude gevoer.

Groei in die BBP gaan op medium termyn effens onder 2% bly – ’n vlak wat onvoldoende is om die per capita-inkomste te verhoog en ’n betekenisvolle duik in werkloosheid te maak.

In hul verslag noem hulle die “groot vraag na die herverspreiding van grond teen ’n agtergrond van die geskiedkundige nalatenskap”.

Hulle verwys ook na die debat oor onteiening sonder vergoeding, hoewel die Grondwet vir onteiening met vergoeding voorsiening maak. Die IMF se boodskap aan die regering is dat hy “optrede moet versnel om enige onsekerheid oor eiendomsreg” uit die weg te ruim.

“Internasionale ondervinding dui aan grondhervorming behoort daarop te fokus om landbouproduktiwiteit te vergroot, die administrasie van grond te verbeter deur eiendomsreg te versterk en om armoede te verminder. Terselfdertyd moet enige potensiële negatiewe uitwerking van grondhervorming op die landbou, asook die finansiële uitwerking op die waarde van grond as sekuriteit, teengewerk word,” lui die verslag.

Volgens die internasionale leningsorganisasie is grondhervorming sedert 1994 onsuksesvol toegepas “weens onvoldoende beplanning en probleme ná nuwe besettings”.

“Die regering sal maatskaplike en ekonomiese oorwegings moet balanseer wanneer besluit word watter soort grond herverdeel gaan word.

“Die ‘sonder-vergoeding’-klousule, wat die onsekerheid oor eiendomsreg vererger het, wek kommer ten opsigte van beleggings.”

In die verslag word verwys na die positiwiteit met pres. Cyril Ramaphosa se oorname as staatshoof en die Suid-Afrikaanse ekonomie se sterkpunte, soos sy integrasie met die wêreldekonomie, goeie diversifikasie en ’n gesofistikeerde finansiële sektor.

Staatsondernemings, soos Eskom en die SAL, loop wel deur en die regering word aangemoedig om dringender teen korrupsie op te tree.

Die regering sal maatskaplike en ekonomiese oorwegings moet balanseer wanneer besluit word watter soort grond herverdeel gaan word.

Die IMF verwys ook na die werkloosheidsyfer, wat volgens hom verlede jaar op ’n geraamde 27,5% van die werkmag gestaan het en bly groei. Die geprojekteerde werkloosheidsyfer vir vanjaar is 27,9% en vir volgende jaar 28,3%.

Die regering moet dringend ware groei in sy bruto binnelandse produk (BBP) laat herleef, sê die IMF.

“Groei in die BBP gaan op medium termyn effens onder 2% bly – ’n vlak wat onvoldoende is om die per capita-inkomste te verhoog en ’n betekenisvolle duik in werkloosheid te maak.”

Risenga Maluleke, statistikus-generaal, het juis gister in Pretoria bekend gemaak die werkloosheidsyfer het van 26,7% in die eerste kwartaal tot 27,2% in die tweede toegeneem.

Die meeste poste, 105 000, het in die vervaardigingsektor verlore gegaan gevolg deur die dienstesektor (93 000). Die handelsektor het met 57 000 poste gekrimp.

Die IMF sê ook in sy verslag die regering behoort iets aan die koste van bandwydte te doen.

“Suid-Afrika het stadiger internetspoed en hoër datapryse as die meeste van die lande waarmee hy vergelyk kan word.”

’n Beter netwerk sal innovering en die beskikbaarheid van tegnologie verbeter.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Grond-Onteiening  |  Grondgryp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.