Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
IMF, Wêreldbank reg om met Covid-19 te help

Terwyl die impak van die Covid-19-virus op die wêreldekonomie uitkring, het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en Wêreldbank gesê hulle sal noodfinansiering aan lande gee wat hulp vra om dit te bekamp.

WUHAN, CHINA - MARCH 02: A medical worker paints b
'n Mediese werker teken vlinders op haar beskermende klere by die Huoshenshan-tydelike hospitaal in Wuhan, China. Foto: Getty Images

Kristalina Georgieva, nuwe besturende direkteur van die IMF, en David Malpass, president van die Wêreldbank, sê in ’n gesamentlike verklaring hulle is slaggereed om lidlande te help met die “menslike tragedie en ekonomiese uitdaging” wat die koronavirus veroorsaak.

“Ons is aktief in gesprek met internasionale instellings en regeringsowerhede, met spesiale aandag aan arm lande waar die gesondheidstelsel die swakste en mense die kwesbaarste is.

“Ons sal alle beskikbare hulpmiddels soos noodfinansiering, beleidsadvies en tegniese bystand ten volle inspan. Ons het blitsfinansieringsgeriewe wat lande kan help om op ’n wye reeks behoeftes te reageer.”

Hulle sê dit is veral belangrik dat lande se gesondheidsinstellings hul waarneming en reaksie op die virus verskerp om die verspreiding van die virus te help beperk.

Die IMF en Wêreldbank sê internasionale samewerking is noodsaaklik om die impak van Covid-19 die hoof te bied.

Die twee liggame werk reeds met die Wêreldgesondheidsorganisasie en Ontwikkelingsbank van Asië saam.

Meer oor die IMF en Wêreldbank se opsies vir hulp:

  • Noodfinansiering: Dit behels vinnige lenings sonder dat lande volledige programme daar hoef te stel. Dit is byvoorbeeld in 2016 aan Ecuador ná een van die ergste aardbewings in dekades verskaf.
  • Aanvulling van bestaande lenings: Nog geld kan aan bestaande programme geleen word, soos in 2014 gedoen is om Guinee, Liberië en Sierra Leone te help om ebola te bestry.
  • Subsidies vir skuldverligting: Lande wat geld aan die IMF skuld, kan in die geval van rampe verligting van hul skuld kry. Dis ook in 2014 tydens die ebola-uitbreking aan Guinee, Liberië en Sierra Leone gegee.
  • Nuwe finansiering: Dit sal onderhewig wees aan langer prosesse en daarom beskou die IMF dit nie as die ideale opsie vir Covid-19 nie.
Meer oor:  Imf  |  Wêreldbank  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Wêreldekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.