Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
IMF: Wêreldgroei lyk goed, maar dis oneweredig
Christine Lagarde, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds, Maandag by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland. Foto: Denis Balibouse

Wêreldgroei versnel sedert middel 2016 en alle tekens dui daarop dat dit in 2018 en 2019 verder sal versterk. Dit sal egter ’n fout wees om houtgerus te wees, het Christine Lagarde, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), Maandag voor die aanvang van die Wêreld- Ekonomiese Forum se beraad in Davos, Switserland, gesê.

“Te veel mense word nog uitgelaat uit die herstel. Om die waarheid te sê, omtrent ’n vyfde van ontluikende markte en ontwikkelende lande se per capita-inkomste het in 2017 gedaal.”

Lagarde sê boonop is wêreldgroei hoofsaaklik siklies van aard. “Sonder hervorming, sal die grondliggende magte wat ons bekommerd gemaak het oor die ‘nuwe middelmatig’ – en toekomstige groeipotensiaal – in plek bly.”

Sy is bekommerd oor “potensieel ernstige kwesbaarhede in die finansiële sektor”, vernaam ’n kommerwekkende styging in skuldvlakke in baie lande.

“Soos ek onlangs gesê het, die tyd om die dak te herstel is wanneer die son skyn. Dié week is ’n perfekte geleentheid vir wêreldleiers om op daardie herstelwerk te fokus.”

Lagarde sê lande moet stappe doen om hul skuldvlakke te verminder en in infrastruktuur en doeltreffende maatskaplike besteding te belê.

“Groei moet meer inklusief wees, nie net oor lande heen nie, maar ook binne lande.”

Sy sê werkers wat afgelê is weens outomatisering moet heropgelei word; nuwe geleenthede moet vir jong mense geskep word; en meer vroue moet by die arbeidsmag betrek word.

“Ons het robuuste internasionale samewerking nodig as ons gemeenskaplike probleme gaan oplos – soos die stryd teen korrupsie, die verbetering van die internasionale handelstelsel, die uitwissing van belastingontduiking, en die oplossing van klimaatsverandering.”

Lagarde sê die WEF moet fokus op “blywende oplossings”.

Die WEF begin amptelik Dinsdag en duur tot Vrydag. Adj.pres. Cyril Ramaphosa lei ’n afvaardiging Suid-Afrikaners, wat benewens sakelui ook Malusi Gigaba, minister van finansies, en verskeie ander ministers insluit.

Meer oor:  Christine Lagarde  |  Wef  |  Wêreldekonomie  |  Imf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.