Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
#ImStaying en Lions Den takel werkloosheid in SA

Die groep #ImStaying het saam met The Lions Den, ’n onderneming wat betrokke is by die afrigting, opvoeding en oplewering van entrepreneurs, begin met die #ImStaying Entrepreneur Movement in ’n poging om werkloosheid in Suid-Afrika oor die volgende vyf jaar met 5% te verminder.

Die #ImStaying Entrepreneur Movement bied ’n platform vir diegene wat dit wil oorweeg om ’n eie onderneming te begin of bestaande ondernemings wat meer volhoubaar en winsgewend wil wees.

Jarette Petzer, stigter en uitvoerende hoof van #ImStaying, en Leon Lategan, uitvoerende hoof van The Lions Den, besef daar is ’n behoefte om ’n entrepreneuriese gees in Suid-Afrika te kweek.

Jarette Petzer, die stigter van die Facebook-groep #ImStaying.

Petzer is die stigter van die Facebook-groep #ImStaying waar Suid-Afrikaners hul stories van hoop vertel en sê waarom hulle nie die land gaan verlaat nie.

Entrepreneurs en ondernemings sal op die webtuiste van #ImStaying Entrepreneur Movement en via sosialemediaplatforms toegang hê tot waardevolle inligting oor hoe ’n onderneming bedryf word en hoe om geld daarvoor te kry. Hulle sal in verbinding gebring word met eendersdenkende individue en hul ondernemings sal blootstelling kry aan die gemeenskap, maatskappye en beleggers.

Daar is ook ’n afdeling vir “werk” waar lede kan sien watter dienste ander lede soek en ’n netwerk waar mense met mekaar kan skakel en kan kommunikeer of raad vra en wenke onder mekaar kan deel.

Volgens Lategan is die werkloosheidsyfer van Suid-Afrika een van die hoofredes waarom hy en Petzer die inisiatief begin het. Volgens Statistiek SA se jongste syfers is sowat 6,7 miljoen (29,1%) Suid-Afrikaners werkloos.

“Entrepreneurskap is nie in die verlede of tradisioneel in Suid-Afrika aangemoedig nie. ’n Gebrek aan infrastruktuur asook ’n professionele aanlyn teenwoordigheid, onbeskikbaarheid van basiese opleiding, beperkte kennis van verkope en bemarking, asook toegang tot die mark is steeds groot hindernisse vir toetrede tot die sakewêreld,” sê Lategan.

“Ons sit met ’n enorme epidemie van werkloosheid. Ons doel en verantwoordelikheid is om meer entrepreneurs in die land te skep. Ons wil teen 2025 altesame 100 000 entrepreneurs help.”

Lategan glo ook die regering moet ’n ander strategie kry om iets te doen aan die werkloosheid in die land.

“Ons wil ’n impak hê op elke entrepreneur in die land. Die regering moet geld opsy sit vir die massas en nie vir geselekteerde entrepreneurs soos wat tans die norm is nie,” sê hy.

Volgens Petzer is werkskepping van die grootste belang vir die stimulering en groei van die ekonomie.

“In dié stadium is die werkloosheidsyfer die hoogste in 16 jaar. My vaste oortuiging is dat mikro-ondernemings die antwoord is op die bou van ’n lewendige en vrugbare ekonomie, om meer Suid-Afrikaners te help om ’n waardige lewe te lei,” sê Petzer.

Meer oor:  #Imstaying  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.