Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
In dié provinsie is jou kans om te werk die beste

Die Wes-Kaap bly die provinsie met die laagste amptelike werkloosheidskoers én die laagste uitgebreide werkloosheidskoers.

Die provinsie se syfers is onderskeidelik 20,9% en 24,1% teenoor die nasionale gemiddelde van 29,1% en 38,7% vir werkloosheid en uitgebreide werkloosheid.

Dit blyk uit die kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die vierde kwartaal van 2019 wat Statistieke Suid-Afrika Dinsdag uitgereik het.

Maar selfs in die Wes-Kaap het werkloosheid die afgelope jaar toegeneem en minder mense het nou ’n werk as ’n jaar gelede.

In 2019 het werkloosheid in agt uit die nege provinsies toegeneem, maar selfs dít kom met ’n “maar”.

Die enigste provinsie waar die amptelike werkloosheidskoers gedaal het, is KwaZulu-Natal, waar werkloosheid in die vierde kwartaal op 25% 0,6 van ’n persentasiepunt laer as in dieselfde kwartaal van 2019 was.

As uitgebreide werkloosheid – wat ontmoedigde werksoekers bytel – egter beskou word, het werkloosheid in elk van die nege provinsies gestyg.

Die provinsie wat die afgelope jaar die vinnigste agteruitgeboer het, was Limpopo. Dié provinsie se amptelike werkloosheidskoers het met 6,6 persentasiepunte tot 23,1% opgeskiet. Uitgebreide werkloosheid het ook skerp met 5,2 persentasiepunte tot 44% gestyg.

Hoewel Limpopo nie die hoogste werkloosheidskoers óf uitgebreide werkloosheidskoers in die land het nie, is die sprong in werkloosheid wel die hoogste. Die syfers is onderskeidelik 23,1% en 44%.

Die provinsie met die laagste werkloosheidskoers is die Wes-Kaap op 20,9%, waar werkloosheid nietemin 1,6 persentasiepunte hoër as ’n jaar gelede is. Op 24,1% het die Wes-Kaap ook die laagste persentasie uitgebreide werkloosheid, hoewel ’n persentasiepunt meer mense as ’n jaar gelede op die kantlyn van die ekonomie sit.

Die provinsie met die hoogste werkloosheidskoers is die Oos-Kaap, waar 39,5% van inwoners hulself as werkloos bestempel. Teen 47,7% het die Oos-Kaap ook die hoogste uitgebreide werkloosheidskoers.

Dit beteken byna een uit twee Oos-Kapenaars van werkende ouderdom werk nie, soek nie werk nie en is ook nie besig met opleiding nie.

Mense met werk

Indien ’n mens net kyk na die styging in mense wat werk eerder as na die werkloosheidskoers (wat ook ’n faktor is van migrasie en die toename in jong mense wat die arbeidsmark betree), lyk die prentjie ook maar donker.

Vergeleke met ’n jaar gelede het vyf uit die nege provinsies minder werkende mense gehad – met ’n slagting van 65 000 poste in Gauteng, die ekonomiese hartland.

Limpopo het die grootste aantal poste verloor – 77 000, deels weens afleggings in die platinumsektor en die uitkringende impak daarvan op die provinsie se sekondêre en tersiêre sektor.

Die Vrystaat het 21 000 poste verloor, die Wes-Kaap 3 000 en Mpumalanga 1 000.

Onder die vier provinsies waar meer mense in diens geneem is as ’n jaar gelede, lei Noordwes (19 000), gevolg deur KwaZulu-Natal (16 000), die Noord-Kaap (13 000) en die Oos-Kaap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.