Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
In ‘kokon’ van Covid bly flieks maar leeg

Suid-Afrikaners fliek steeds graag, maar tydens Covid-19 het al hoe meer versigtige vermaaksoekers betaal vir stromingsdienste soos Netflix, Showmax en Amazon Prime, ten koste van die tradisionele teater.

Empty cinema
Teaters kry swaar soos mense skuif na aanlyn stromingsdienste. Foto: Getty Images

FNB se jongste data oor kliënte se kaartgebruik toon gemiddeld 64% meer betaal nou maandeliks intekengeld vir Netflix as voor die inperking. Vir Showmax betaal 78% meer kliënte en vir Amazon Prime 50%, sê Chris Labuschagne, uitvoerende hoof van FNB se kaartafdeling, in ’n verklaring.

Die inkomste uit nuwe flieks by die loket in 2020 het net R214 miljoen beloop, vergeleke met R1,2 miljard in 2019, sê die Nasionale Rolprent-en-Videostigting (NFVF) in ’n nuwe verslag.

Volgens die NFVF is Ster-Kinekor, Nu Metro, Cine Centre en onafhanklike teaters swaar getref omdat hulle van 26 Maart tot 27 Augustus verlede jaar gesluit was weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls, wat die vertoon­siklus van flieks ook kortgeknip het. Sedert teaters heropen het, word die getal fliekgangers beperk om veilige afstand tussen mense te verseker. Ster-Kinekor het begin vanjaar aansoek gedoen om vrywillige sakeredding en al hoe minder onafhanklike teaters in die land kom die mas op, berig News24.

Die NFVF sê in 2020 is net 96 flieks by die loket bekend gestel. Ses daarvan is plaaslik vervaardig en het saam met ’n loket-inkomste van R7,6 miljoen gespog. Die suksesvolste fliek was Bad Boys for Life (R51,5 miljoen) en die suksesvolste Suid-Afrikaanse rol­prent Vergeet my nie (R3,7 miljoen).

Die toenemende gewildheid van stromingsdienste wat FNB sien, stem ooreen met Deloitte se jongste peiling oor verbruikersentiment in 18 lande.

Rodger George, Afrika-hoof van verbruikersake by Deloitte, het Woensdag met die bekendstelling van die bevindings gesê mense beweeg na ’n “kokonbestaan”, waarin verbruikers al hoe meer tuis kook, vars produkte koop, op stromingsdienste inteken en aanlyn inkopies doen.

Mitch Slape, uitvoerende hoof van Massmart, het vroeër gesê Makro het in 2020 meer televisiestelle verkoop as in enige jaar én dit was duurder en groter televisiestelle waarmee ’n mens baie meer kan doen.

George sê die respondente het ook aangedui hulle gaan die gimnasium en restaurante minder besoek en minder Uber en van openbare vervoer gebruik maak. Voorts meen net meer as 30% dis veilig om in ’n hotel oor te bly of te vlieg, en net sowat 20% sien kans om sportgeleenthede by te woon of ’n teater te besoek. Dié soort ondernemings sal waarskynlik nog lank sukkel om tot vlakke van voor die pandemie te herstel, sê George.

Suid-Afrikaners se finansies is hul grootste kommer, gevolg deur Covid-19 en dan werksonsekerheid, blyk uit Deloitte se verslag. Die kommer oor gesondheid en om kop bo water te hou het verbruikersgedrag verander om meer tyd tuis deur te bring, sê George.

Gevolglik bestee hulle ook meer geld aan huisverbeterings. Slape noem dit ’n “nesmaak”-tendens. Mense wil hul huis geniet, moderniseer en geriefliker inrig vir tuis werk en studeer.

Massmart bevind verbruikers in die hoër LSM-groep wie se inkomste nie deur Covid-19 geraak is nie, het geld in hul sak omdat hulle bespaar het op uiteet, vakansies en werkklere en omdat hulle minder pendel. Hulle bestee nou heelwat aan selfdoenprojekte, tuisvermaak en huisverbeterings.

Omdat gesondheid ook ’n prioriteit is, maar mense nie gimnasiums wil besoek nie, koop hulle oefentoerusting soos trapmeule om tuis te oefen.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kleinhandelsyfers vir Februarie wat vandeesweek gepubliseer is, wys kleinhandelverkope was 2,3% hoër op ’n jaargrondslag. Dis veral danksy ’n 17%-styging in die verkope van huismeubels, -toestelle en -toerusting.

Verkope volgens soorte kleinhandelaars was in die drie maande tot einde Februarie 9,6% hoër op ’n jaargrondslag by dié soort winkels en 12% hoër by winkels wat ysterware, verf en glas verkoop, wys SSA se data.

Deloitte het bevind verbruikers koop net 6% van kruideniersware aanlyn, maar 32% van wegneemete- en restaurant-aankope gebeur aanlyn.

Volgens George verkies al hoe meer mense om items wat hulle aanlyn koop te gaan oplaai, onder meer omdat dit tyd spaar en hulle die items by die winkel wil nagaan.

Meer oor:  Fnb  |  Deloitte  |  Kleinhandel  |  Verbruikers  |  Teater  |  Stromingsdienste  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.