Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
In Zim is dit nou net 1 bier vir jou, meneer

Zimbabwiërs staan in lang rye vir alles van petrol tot brood, suiker en kookolie. En met perke op aankope, soos dat elke klant net een bottel bier op ’n slag mag koop, is daar nie eens ’n kans dat hulle hul sorge kan verdrink nie.

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe pleit dat burgers geduldig bly met pogings om die land se ekonomie te herbou.

Die land gaan gebuk onder hiperinflasie wat pres. Emmerson Mnangagwa se pogings kniehalter om die ekonomie, ná jare se wanbestuur deur oudpres. Robert Mugabe, te herbou.

Mugabe is byna ’n jaar gelede, in November 2017, deur ’n staatsgreep onttroon ná 38 jaar as staatshoof.

Optimisme dat die ekonomie vinnig omgekeer sal kan word, het soos mis voor die son verdwyn.

Mthuli Ncube, wat verlede maand as minister van finansies aangestel is, vry nou na internasionale beleggers, wat kan help om die enorme werkloosheid te takel. Hy het verlede week ’n belasting op geldoordragte ingestel in ’n poging om die ekonomie te stabiliseer, maar dit het hulpbronpryse laat styg en die vrees van selfs erger inflasie aangejaag.

Die perke op aankope word deur die regering opgedwing om te keer dat mense produkte opberg.

KFC het die afgelope week van sy takke toegemaak omdat hy nie genoeg dollars kan kry om sy verskaffers te betaal nie.

Die waarde van die land se plaasvervanger vir geld, obligasienotas, het geval – jy het nou 4,3 daarvan nodig om een Amerikaanse dollar te koop. Vroeg September was dit 1,75.

Obligasienotas is twee jaar gelede bekend gestel teen die waarde van 1 per dollar. Zimbabwe het sy eie dollar in 2009 geskrap toe inflasie 500 miljard persent beloop het.

Benewens die notas, word dollar, euro en rand in die land aanvaar.

Die land se indeks van alle aandele het die afgelope week met 66% gestyg. Dit word egter as ’n enorme prysborrel beskou. Plaaslike makelaars koop aandele wanneer obligasienotas se waarde val en hulle reken inflasie gaan styg.

John Mangudya, president van Zimbabwe se sentrale bank, het die afgelope week gesê die land het genoeg buitelandse valuta om vir die invoer van brandstof, koring en ander noodsaaklikhede te betaal. Hy beweer obligasienotas se waarde word deur “opportuniste” afgedruk wat “onnodige paniek en wanhoop” probeer saai.

Mnangagwa het ’n beroep op mense gedoen om kalm te bly.

“Ons moet almal realisties wees. Daar is geen kitsoplossings nie. Daar is geen rede tot paniek nie. Die regering waarborg dat alle noodsaaklike hulpbronne beskikbaar sal bly.”

John Robertson, ekonoom in Harare, sê Zimbabwiërs raak paniekerig omdat hulle nie die regering vertrou om die probleme op te los nie. – Bloomberg, verkort en verwerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.