Die voortdurende invloed van die koronaviruspandemie op Suid-Afrika se ekonomie veroorsaakerge beleidsonsekerheid.
Die kwartaallikse beleidsonsekerheidsindeks van die Noordwes-Universiteit (NWU) se sakeskool was op 57,4 punte in die tweede kwartaal van 2020.
Dit is net effens laer as die hoogtepunt van 59,8 in die eerste kwartaal.
Hoe hoër die indeks bo 50 styg, hoe groter is die onsekerheid. Die indeks is die netto resultaat van positiewe en negatiewe faktore wat persepsies oor beleidsonsekerheid oor ’n gegewe tydperk beïnvloed.
Die indeks word saamgestel uit mediaverwysings na ekonomiese onsekerheid, ’n peiling onder ekonome en uit ’n peiling onder vervaardigers wat die Universiteit Stellenbosch se Buro vir Ekonomiese Ondersoek doen.
Dit is die vyfde jaar dat die NWU se sakeskool die beleidsonsekerheidsindeks saamstel.

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool. Foto: Elvira Wood
Prof. Raymond Parsons, onder wie se leiding dit gedoen word, sê in ’n verklaring in die lig van die langdurige staat van inperking in Suid-Afrika is die hoë vlakke van beleidsonsekerheid nie ’n verrassing nie. Daarby was Suid-Afrika reeds in ’n resessie toe die pandemie hier uitbreek.
Parsons sê dit is goeie nuus dat Tito Mboweni, minister van finansies, in sy aanvullende begrotingsrede erken het presies hoe benard Suid-Afrika se ekonomie situasie is. Die vraag is net of die regering die nodige stappe gaan doen om veral staatskuld onder beheer te kry.
Hy sê veral kredietgraderingsagentskappe is skepties oor die vooruitsigte, veral oor die voorspelde primêre oorskot op die begroting teen 2023.
LEES OOK: Moody’s het nie hoop vir ‘seekoei se bek’
Ander kwessies wat onsekerheid oor beleid kan aanwakker, sluit in die toekomstige trajek van koronavirusinfeksies in die land en die “tasbare toewyding van die regering aan strukturele hervormings met die oog op groei”, sê Parsons.