Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inflasie: Nuwe syfers is slegte nuus vir verbruikers

Inflasie begin nou weer styg vanaf sy onderste draaipunt – en daar is veral kommer oor die prys van brood en mieliemeel.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was die inflasiekoers in Augustus 4,3%. Dít nadat dit in Julie die onderste draaipunt van 4% gehaal het.

Maak maar gereed vir prysskokke as jy oor die volgende paar maande gaan inkopies doen.

Die inflasiekoers weerspieël die gemiddelde jaarstyging in die prys van produkte en dienste wat SSA meet, gegrond op die gemiddelde Suid-Afrikaanse verbruiker. Elke huishouding beleef unieke prysstygings gegrond op hul koopgewoontes. 

Die grootste rede vir die styging in die inflasiekoers is kospryse, wat 0,7 van ’n persentasiepunt tot die 4,3% beloop.

Kospryse is nou gemiddeld 3,9% hoër as ’n jaar gelede. Dis ook meer as Julie se 3,4%. Volgens Patrick Kelly, uitvoerende direkteur van prysstatistieke van SSA, is dit die hoogste inflasiekoers vir kos en nie-alkoholiese drinkgoed in 18 maande.

Die grootste rede daarvoor is die 8,6%-styging in die kategorie vir brood en graanprodukte. Dié kategorie se inflasiekoers styg nou al maande lank, en het van 7,9% in Julie opgeskiet. Die  8,6% is die hoogste koers sedert Februarie 2017, toe dit 12,8% beloop het.

Die kategorie “super”-mieliemeel is nou 17,7% duurder as ’n jaar gelede en “spesiale” mieliemeel 27,5% duurder.

  • Provinsiale inflasiekoerse wissel ook skerp, van 3,8% in Noordwes tot 4,9% in die Wes-Kaap.
  • Pensioentrekkers beleef ’n gemiddelde inflasiekoers van 4,4%.
  • Die twee kategorie armste verbruikers beleef inflasie van onderskeidelik 5,6% en 5,1%, ver bo die gemiddelde. Dis omdat hulle ’n groter persentasie van hul inkomste aan kos moet bestee.

Die inflasiekoers is nou reeds nege maande lank op of laer as 4,5%, die middelpunt van die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6%. Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, hamer nou al lank daarop dat hy wil hê die koers moet hier geanker wees voordat rentekoerse verder verlaag word. Dis wel in Julie met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag.

Heelwat ekonome verwag Donderdag ’n verlaging van die rentekoers, maar ander wys daarop dat die Reserwebank nie terugskouend na inflasie kyk nie, maar tot 18 maande vooruit – en die vooruitsig is dat inflasie nou aan die styg is.

LEES OOK: Rentekoers: Wat ekonome Donderdag verwag

Daar is heelwat risiko’s vir die rand en inflasiekoers op die horison, die nuutste van hulle die wisselvalligheid van die olieprys weens die aanval op ’n olie-aanleg in Saoedi-Arabië.

LEES OOK: Olie-aanval: Olieprys daal met 7%

Kerninflasie, ’n belangrike aanwyser omdat dit die wisselvalligste produkte – kos, petrol en krag – uitsluit, het net effens gestyg, van 4,2% in Julie tot 4,3% in Augustus.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, verwag dat inflasie vir die res van die jaar tussen 4% en 4,5% sal bly. Sy is egter een van die ekonomie wat nié Donderdag ’n verlaging in die rentekoers verwag nie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.