Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inflasie op 3% nou laagste in 15 jaar

Die inperking het dalk een positiewe rol in die ekonomie gespeel: Dit het gehelp om prysstygings in bedwang te hou.

Inflasie is laag, maar Statistieke Suid-Afrika waarsku dat dit nie heeltemal akkuraat gemeet kon word tydens die inperking nie.

Inflasie het in April slegs 3% beloop - die laagste in 15 jaar, sedert die 2,8% wat in Junie 2005 gemeet is. Dis aansienlik laer as die 4,1% wat in Maart gemeet word. 

Dit beteken ook inflasie is nou op die onderste vlak van die Reserwebank se teiken vir die inflasiekoers, wat tussen 3% en 6% is. Die Reserwebank besluit weer in Julie oor die rentekoers, maar die meeste ekonome twyfel of verbruikers met skuld nóg ’n rentekoersverlaging kan verwag nadat die koers vanjaar reeds met altesame 2,75 persentasiepunte verlaag is.

Die Nedbank-ekonome Busisiwe Radebe en Nicky Weimar verwag dat inflasie op kort termyn selfs verder gaan daal gegewe die druk op vraag weens die Covid-19-krisis.

Die Reserwebank self voorspel gemiddelde inflasie van 2,8% vir die tweede kwartaal en 2,9% vir die derde kwartaal.

Nedbank reken die Reserwebank sal huiwerig wees om die rentekoers vanjaar verder te verlaag, tensy die verwagting vir ekonomiese groei vir die voljaar verswak tot minder as die -7% wat die sentrale bank tans voorspel. 

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het pryse tussen Maart en April met 0,5% gedaal. April was die eerste, en strengste, tydperk van Suid-Afrika se inperking ten einde die verspreiding van die Covid-19-pandemie te vertraag.

Kospryse was in April 4,4% hoër as in April 2019. Behuising en nutsdienste (krag en water) was altesame 4,6% duurder as ’n jaar gelede. Danksy laer brandstofpryse was vervoer 3,5% goedkoper.

SSA verduidelik omvattend hoe te werk gegaan is om pryse vas te stel tydens die inperking. Altesame 26,5% van die produkte in SSA se inflasiemandjie kon nie in die maand gemeet word nie weens die inperking. SSA het afleidings daaroor gemaak gegrond op die heersende inflasiekoers. Ander pryse is aanlyn vasgestel, eerder as op winkelrakke.

Die diens waarsku dat daar enkele afwykings kan wees weens die metodologie wat gevolg moes word, maar wys ook daarop dat nie álle produkte en dienste ieder geval elke maand gemeet word nie. Die meeste van die dienste wat in April gemeet word - soos die koste van mediese fondse en buskaartjies - kon wel akkuraat gemeet word.

  • Kospryse

Die mandjie kos wat SSA meet, was in April 4,4% duurder as ’n jaar gelede, oftewel 4,2% as nie-alkoholiese drinkgoed soos koeldrank, koffie en tee ingesluit word. Suid-Afrikaners is in die eerste vyf weke van die inperking wel toegelaat om inkopies te doen vir noodsaaklike produkte.

Die skerpste styging was in die prys van vrugte, wat ’n hele 9,1% duurder was as ’n jaar gelede. Ander betreklik skerp prysstygings was vir vleis (6,1%), vette en olies (6,5%) en suiker en lekkergoed (6,5%). Slegs groente was goedkoper as ’n jaar gelede, en ook net met 0,1%.

  • Kerninflasie

Kerninflasie, wat kos, krag en brandstof uitsluit, het van 3,7% in Maart tot 3,2% in April gedaal. Dié syfer word ook deur die Reserwebank as belangrik beskou omdat dit die wisselvalligste items - dié wat onder meer deur seisoenale faktore en die rand-dollar-wisselkoers beïnvloed word - buite rekening laat en daarom as ’n betroubaarder maatstaf van moontlike prysdruk in die ekonomie beskou kan word.

  • Pensioentrekkers

Pensioentrekkers beleef inflasie van 3,3%, ietwat hoër as die oorhoofse syfer.

  • Armes

Die land se armste inwoners beleef inflasie van 4,1%, dus heelwat hoër as die 3%.

  • Provinsiale syfers

Landwyd wissel inflasie van 2,4% in die Oos-Kaap tot 3,6% in die Wes-Kaap. Net in drie provinsies is inflasie op of bo 3%: KwaZulu-Natal (3%), die Noord-Kaap (3,1%) en die Wes-Kaap (3,6%).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.