Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Inflasie: Só styg pryse nou

Inflasie het in November effens teruggesak, maar was vir die vyfde maand bo 3%. Dit bly egter nog baie stewig onder die 4,5%-middelpunt van die Reserwebank se teikenband – ’n seker teken dat die vraagkant van die ekonomie erg onder druk is.

Inflasie het in November met 0,1 persentasiepunt tot 3,2% gedaal. Foto: iStock

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Woensdagoggend bekend gemaak inflasie was in November is 3,2%, teenoor Oktober se 3,3%. Dis met hoeveel goedere en dienste gemiddeld duurder is as in November 2019.

’n Gemiddelde trollie kos en nie-alkoholiese drank is 5,8% duurder as ’n jaar gelede – ’n styging teenoor Oktober se koers van 5,4% en September se 3,9%.

Alle soorte basiese voedsel het op ’n jaargrondslag duurder geword, en van die stygings is veral kommerwekkend vir gesinne wat hul Kersete begin beplan.

Vleisprysinflasie het weer skerp opgeskiet, tot 6,6%, van September se 4,4% en Oktober se 6%. Vleispryse word grootliks in bedwang gehou omdat die prys van hoender op die oomblik laer is as ’n jaar gelede; rooivleispryse, daarenteen, is veel duurder. Hoender se gewig in die mandjie is hoër omdat Suid-Afrikaners meer daarvan eet.

Melk, eiers en kaas is gemiddeld 6% duurder as verlede November, teenoor die koers van van 5,5% in September en 6,5% in Oktober.

Ander skerp stygings in kospryse is die 14,5%-styging in die prys van vrugte, die 8,3%-styging in die prys van vette en olies en die 9,3%-styging in die prys van suiker, lekkers en ander soetgoed.

Bier is gemiddeld net 1,6% duurder as ’n jaar gelede en wyn 4,7% duurder. Koffie, tee en warmsjokolade is gemiddeld 6,2% duurder, maar koeldrank net 3,6% duurder. 

Kerninflasie, die maatstaf wat brandstof, krag en kos uitsluit, het ook effens gedaal, van 3,4% tot 3,3%. Dit word as ’n goeie maatstaf beskou omdat die seisoenale faktore uitsluit.

Provinsiale inflasie wissel van 2,7% in Mpumalanga  tot 3,7% in die Wes-Kaap. Plattelanders beleef 3,1%.

Pensioentrekkers beleef sowat 3,2%.

Al dié syfers is op gemiddelde bestedingspatrone bereken en huishoudings se inflasiekoers sal uniek wees gegrond op watter produkte of dienste hulle gebruik.

Die inflasiekoers was vanjaar al twee keer laer die Reserwebank se teikenband, in Mei (2,1%) en Junie (2,2%), maar was laas in Maart 2017 (6,1%) bo die teikenband.

Hoewel inflasie in bedwang is, het die Reserwebank in November besluit om die rentekoers onveranderd te hou, juis weens tekens van stygende inflasie. Die rentekoers is in 2020 met altesame drie persentasiepunte verlaag en die prima rentekoers van banke beloop nou 7%. Die volgende besluit oor die rentekoers is eers op 21 Januarie 2021.

Inflasie waar jy woon

Provinsiale inflasie wissel van 2,7% in Mpumalanga tot 3,7% in die Wes-Kaap:

  • Mpumalanga: 2,7%
  • Gauteng: 2,9%
  • Vrystaat, KwaZulu-Natal: 3,1%
  • Noordwes: 3,2%
  • Oos-Kaap: 3,3%
  • Limpopo: 3,4%
  • Noord-Kaap: 3,6%
  • Wes-Kaap: 3,7%

Plattelandse inflasiekoerse is 3,1% en landwyd is inflasie 3,2%.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.